fbpx
Nuwe enkelsnit, NUWE HORISON vir Len Muller

Nuwe enkelsnit, NUWE HORISON vir Len Muller

Len Muller, wat al vir 7 jaar lank suksesvol in die musiekbedryf is, het abosluut geen bekendstelling nodig nie. Dié veelsydige en talentvolle musikant, het pas sy volgende enkelsnit, NUWE HORISON, vrygestel. Dit volg kort op die hakke van die vrystelling van sy kortspeelplaat (EP) in Junie 2019.

NUWE HORISON is geskryf vir almal wat stoei met angs en depressie en selfs vir dié wat treur. Die lied is ‘n roepstem wat skree dat daar hoop en ‘n nuwe horison is vir jou.

Die lied gaan oor die stoeigeveg tussen wie jy is en alles wat jy nog kan wees. Dit gaan oor hoop en genesing.

Dit is ook daarom dat Len besluit het om hierdie enkelsnit, met die gepaste titel, op Geestesgesondheidsbewustheidsdag, vry te stel. 

“Ek het eers baie laat in my lewe geleer wat angs en depressie is en watter effek dit op my lewe het. Ek sou soveel hartseer en verwarring kon vermy as ek vroeër in my lewe daaroor kon leer. Daarom glo ek bewusmaking is baie belangrik. Veral omdat hierdie kwessie vir baie lank geïgnoreer was,” vertel Len.

Aan die begin was liedjies skryf ‘n tipe terapie vir hom, ‘n manier om gevoelens uit te druk en homself beter te verstaan. 

“NUWE HORISON is geskryf in van DIE donkerste tye van my lewe, kort nadat ek gediagnoseer is met angs en depressie. Ek was vir die eerste keer eerlik met myself en het met mense daaroor begin praat. Dit was die begin van ‘n genesingspad wat ek vandag nog stap. Soveel mense gee om en wil help as jy bereid is om oop te maak,” voeg hy by.

Die lied is vir Len ‘n mylpaal en getuienis van hoe vêr hy deur genade gekom het. Hy deel verder: “Ek hoop dat mense hulle sal vereenselwig met die lirieke en sal besef daar is lig aan die einde van hierdie tonnel, al voel dit nie altyd so nie. Ten spyte van als wat in die nuus of sosiale media gebeur, is die Skepper se plan nog altyd vir jou om voorspoed te hê en nie teenspoed nie.” 

NUWE HORISON is op alle digitale patforms beskikbaar hier:  https://ditto.fm/nuwehorison

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Twitter, Instagram,

Webblad: www.lenmuller.co.za
YouTube: www.youtube.com/lenniemuller

BESPREKINGS
E-pos: [email protected]  / [email protected]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui