fbpx
C-Storm vra “HOEKOM IS DIE HEMEL BLOU?”

C-Storm vra “HOEKOM IS DIE HEMEL BLOU?”

Die sanger C-Storm het sowat drie jaar gelede die musiekbedryf soos ’n onverwagse tsoenamie binne gemaal. Sedertdien het sy enkelsnitte op plaaslike radiospeellyste se trefferparades geboer en musiekresensente het hom beskryf “as Suid-Afrika se nuutste rock-troebadoer.”

Nou is C-Storm terug op radiospeellyste met sy jongste enkelsnit, HOEKOM IS DIE HEMEL BLOU? Dit is ’n eiesoortige, volwasse kontemporêre luisterliedjie wat die storie vertel van ’n Weskus-boorling wat aan gevolge van demensie oorlede is.

Met dié snit pak hy ook ’n sensitiewe onderwerp kaalvuis aan, maar tog behandel hy sy “karakter” met die nodige respek en eerbied wat hom toekom. Dit is nie ’n mooi verhaal nie, want demensie is ’n siekte wat nie net ’n persoon van sy of haar  laaste stukkie menswees ontneem nie, maar ook familielede se lewens stukkie-vir-stukkie vernietig.

C-Storm, wat homself ook gevestig het as een van die beste liriekskrywers in die land, beeld die verhouding tussen lewensmaats sielvol uit. Dié paartjie stap saam op hul laaste lewensreis; … “hand-aan-hand as jy onthou.”

Die snit is nie ’n tipiese liefdesliedjie nie,  meer ’n lief-ek-onthou-liedjie, wat paartjies laat besef waarom hulle in die eerste plek verlief geraak het, en ook waarom hulle getroud is.

C-Storm het al langer as ’n jaar gelede na die Kaapprovinsie gesemigreer en hy put sy inspirasie uit die hemelse blou lug (wat ook soms net in die Kaap sigbaar is), die strand en die branders. Dit is dinge wat ook in baie van sy pennevrugte vergestalt word.

Hy is ’n storieverteller en baie van die lirieke van sy liedjies het ontstaan uit die stories wat hy gehoor het.

Dit is ook die geval met HOEKOM IS DIE HEMEL BLOU? “Ek het ’n bejaarde egpaar, wat aan die Weskus gewoon het, iewers langs my lewenspad ontmoet. Op die oom se begrafnis het die tannie vertel dat hy haar soms tog herken het; al was dit net vir ’n breukdeel van ’n sekonde. Dáárdie oomblik het haar weer die moed gegee om aan te gaan.”

Dié oom se onthou-oomblikke sluit ook by die titel van die snit aan. “Die storie word uit die oom se oogpunt vertel en hoe hy die siekte moontlik sou ervaar het. Hy sou dalk dikwels wonder oor hoekom die hemel blou is, maar sy gedagtes en sy weet het hom in die steek gelaat. Daarom ook die koorgedeelte: As ek net kon onthou,” vertel C-Storm.

Die snit is egter nie net ’n rou-van-onthou-liedjie nie.  Dit beeld ware liefde op ’n positiewe manier uit en laat ons weer onthou van die huweliksbelofte wat ons voor die kansel afgelê het; deur goeie en slegte tye, deur siekte en dood…”

C-Storm het ’n fyn aanvoeling vir woorde en het ook die tegnieke van digkuns, wat ook in sy lirieke gehoor kan word, bemeester. Hy is ook ’n meester van ritme, anafore en metafore.  Aspekte wat ook van sy liedjies treffers maak.

Hy het eers op die ouderdom van 49 tot die musiekbedryf toegetree, maar het vinnig opgang met sy rasperstem en sterk lirieke gemaak.

HOEKOM IS DIE HEMEL BLOU?  is net soos sy vorige enkelsnitte opreg en eerlik. Dit is ’n liedjie wat nog lank in jou kop (en siel) gaan draal.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram