Chanté – TYD

Chanté – TYD

Tydsberekening is alles. Dít is die boodskap van die opkomende popsangeres Chanté se
splinternuwe enkelsnit getiteld TYD.

TYD is gepen deur die bekende Suid-Afrikaanse liedjieskrywers, Ampie du Preez en Pierre Rossouw, en vertel die verhaal van ‘n paartjie wat lief is vir mekaar en wat saam wil wees, maar die Tydsberekening vir die verhouding is nie reg nie.

“Sy bevestig egter dat sy vir hom sal wag totdat dit die regte TYD is en al gaan dit hoe moeilik wees, sal die liefde uiteindelik seëvier,” sê Chanté oor die splinternuwe popliedjie uit haar kraal. TYD se boodskap raak die popster diep aangesien sy al self deur so ‘n ervaring gegaan het en glo luisteraars sal aanklank vind by die positiewe trant van die liedjie.

“TYD is nie vir almal beskore nie en TYD is ook nie vir almal verseker nie. Daarom moet ‘n mens nie moed opgee op iets wat eg is en die wêreld vir jou kan beteken nie. Hou vas en byt vas. Dit is alles die moeite werd.”

Chanté wil graag hê haar musiek moet ‘n inspirerende, motiverende en ontspanne uitwerking op luisteraars hê. “TYD” is ook geskryf om luisteraars weg te neem van die dolle gejaag van die alledaagse lewe en terug te reis na herinneringe van liefde en positiwiteit.

Die pragtige musiekvideo vir TYD is deur Ampie du Preez en Willem Viljoen by die Monte de Diostrouvenue, in Pretoria-Oos, verfilm. Die konsep van die video is eenvoudig en geskoei op die storielyn van die liedjie.

“Die uitbeelding van die storielyn is juis wat die video so uniek maak,” sê Chanté.

Chanté het reeds van kindsbeen af ‘n liefde vir musiek en sê om musiek te maak is vir haar terapeuties. Hoewel sy nog ‘n groentjie in die Afrikaanse musiekbedryf is, koester sy groot drome om ‘n bekende musikant te word wat luisteraars kan inspireer en motiveer met haar musiek. Chanté het in 2019 as verteenwoordiger van Limpopo aan die SACOPA in Rustenburg deelgeneem en die algehele 3de plek verower, asook Springbok-kleure om Suid-Afrika te verteenwoordig aan die wêreldkampioenskappe in Los Angeles. Weens ‘n gebrek aan fondse het sy egter die kans om
deel te neem verbeur.

Sy vertel die dag toe sy vir Ampie du Preez, medeskrywer van haar debuutenkelsnit, TYD, ontmoet het as een van die hoogtepunte van haar loopbaan tot dusver.

Chanté kyk ook op na Riana Nel en Corlea asook Demi Lee Moore en wil graag eendag saam met dié kunstenaars werk.

Sy luister graag na alternatiewe- en punk rock-musiek en op internasionale gebied hou sy van Christina Aguilera, Adele en Noah Kahan. As sy nie haarself op die verhoog bevind nie sou sy moontlik ‘n onderwyseres wees wat kunsterapie aanbied vir leerders wat sukkel met depressie, leerprobleme en ander uitdagings.

Sy sal ook graag ‘n loopbaan as aktrise en televisieaanbieder wil uitkerf. Chanté verklap dat sy daarvan hou om sosiaal te verkeer, al kom sy as ‘n introvert voor. “Die musiekbedryf het my geleer om oop te wees met myself, om meer selfvertroue te hê en myself meer lief te hê.

“Dit was ‘n uitdaging om my liggaam te aanvaar en voor duisende mense op te tree en goed te voel oor wie ek is, maar ek aanvaar nou wie ek is en hoe Pappa Vader my geskape het.”