fbpx
Jemma Catherine – KLAAR GESMEEK

Jemma Catherine – KLAAR GESMEEK

Die boodskap van die opkomende sangeres en liedjieskrywer Jemma Catherine se jongste enkelsnit is hard en duidelik: Dié talentvolle donkerkop het KLAAR GESMEEK.

KLAAR GESMEEK is die jongste uitreiking uit Jemma Catherine se eie pen. Die liedjie handel oor ‘n verhouding wat tot ‘n einde gekom het nadat die ou die meisie verneuk het. Die meisie besluit dan om op te staan vir haarself deur te sê genoeg is genoeg.

KLAAR GESMEEK is ‘n energieke, passievolle poprock-snit met ‘n onderwerp waarby luisteraars in die algemeen sal aanklank vind. Dee Graaff Productions het die liedjie vervaardig. Jemma Catherine se mentor, die sangeres en liedjieskrywer Janie Bay, het insae gelewer.

“Ek dink veral die jeug kan aanklank vind by die liedjie omdat oneerlikheid baie prominent is in vandag se verhoudings en daar is ongelukkig baie mense wat al van tevore in so ‘n situasie was,” sê Jemma Catherine oor die boodskap van die liedjie.

Die musiekvideo vir KLAAR GESMEEK speel af tydens ‘n skooldans en regdeur die video speel verskillende scenario’s gelyktydig af waar die ouens die meisies ontstel of teleurstel.

“Dit lei na die meisies wat besluit om hulle metgeselle te los en saam die aand te geniet,” sê die jong musikant oor die konsep van die video.

Die video is by die Monte De Dios-landgoed in Pretoria se hoofsaal geskiet deur CoolerBox Brothers.

“Ek glo baie mense sal kan aanklank vind met KLAAR GESMEEK, maar ek voel veral jong meisies sal hierdie liedjie kliphard kan saam sing.”

Jemma Catherine het die nuwe jaar in die ateljee agter die mikrofoon afgeskop. Sy reik binnekort ‘n hele rits liedjies uit en het ook ‘n duet saam met ‘n ander bekende kunstenaar wat die lig sien.

Meer oor die kunstenaar

Jemma Catherine skryf al sedert die ouderdom van 12 haar eie liedjies en neem reeds van die ouderdom van ses aan kunswedstryde en Eisteddfods deel.

Die opkomende sangeres en liedjieskrywer het grootgeword met haar pa, Leon, se uitgebreide versameling albums van verskeie genres van musiek. Sy het van kleins af vertonings en geleenthede bygewoon aangesien haar pa ‘n geleentheidsmaatskappy, EPH Productions, besit.

“’n Groot deel van my liefde vir musiek kom van my ouers af. Hulle het my bly motiveer om hierdie droom van my te volg,” sê Jemma Catherine.

Haar grootste mentor in die musiekbedryf is die kunstenaar Janie Bay, wat vir haar ‘n voorbeeld is van hoe om as ‘n vrou sterk te staan in die musiekbedryf.

Volgens Jemma Catherine streef sy altyd daarna om eerlik te wees met haar musiek en probeer sy om altyd weerloos te wees in die oomblik met die boodskap wat sy wil oordra.

Die sangeres is ook tans besig om haar honneursgraad in verbruikerswetenskappe te voltooi, maar spits haarself ten volle toe op haar musiekloopbaan.

“Ek wil sterk staan vir wat ek as kunstenaar en skrywer met my musiek wil bereik en wat ek na hierdie bedryf wil bring.”

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram