Melanie J – TWEE IS BETER AS EEN

Melanie J – TWEE IS BETER AS EEN

Die lewe is nie altyd maklik nie, maar met God se genade en genoeg deursettingsvermoë sal jy nie net heel aan die anderkant uitkom nie, maar ook jou doelwitte bereik en ’n kans hê om ’n verskil te maak.

Só getuig Melanie J, wat pas ’n treffende nuwe enkelsnit vrygestel het, nadat sy heelwat struikelblokke moes oorkom om te wees waar sy vandag is.

Dié sangeres, wat haar musiekopleiding by COPA gedoen het en naam gemaak het as wenner van die PACISA-sangkompetisie, beskou dit as haar roeping om mense te help genees en om nader aan God te leef.

Met haar derde enkelsnit, TWEE IS BETER AS EEN, gebruik sy juis haar eie liefdesverhaal as getuienis dat wanneer jy op God vertrou, alles in jou lewe op die ou einde in plek sal val.

Hierdie geestelike Afrikaanse popsnit, wat sy saam met Jolanda Becker geskryf het, gaan oor ’n verhouding wat, ten spyte van fisiese afstand en uitdagings, gegroei het tot ’n betekenisvolle liefdesverhouding wat in geloof saam gebind is.

“Prediker 4:9-12 en my eie verhouding was die inspirasie agter TWEE IS BETER AS EEN,” vertel sy. “In die liedjie is daar ’n deel wat sê: ‘Ek het jou jare reeds liefgehad, in gebede was jy geskryf.’ Ek en Donovan ken mekaar nou wel nie vir jare nie, maar waarvoor ek vir so lank gebid het, het waar geword toe ek hom ontmoet het. Nie een van ons het gedink dat ons iemand spesiaal gaan vind nie, maar min het ons geweet watter wonderlike plan God vir ons het. Vandag is ons getroud.”

Die liedjie, met sy diep lirieke en lekkerluister-wysie, is deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig en die doel daaragter is om vir diegene hoop te gee wat al opgegee het op die liefde.

“Al verstaan ons nie die seer waardeur ons nou gaan nie, sal daar ’n dag kom wanneer ons wel sal begryp hoekom ons sekere dinge moes ervaar. Soms kom liefde nie wanneer ons dit graag wil hê nie, maar wanneer ons vrede gemaak het met waar ons is en wie ons groei om te wees.”

’n Musiekvideo, wat net so indrukwekkend is soos die snit self, sal ook binnekort beskikbaar wees.

Alhoewel Melanie J grootgeword het in die klein plattelandse dorpie, Ladysmith, het sy nog altyd groot musiekdrome gehad en was sy nog nooit bang om hard te werk om haar drome te verwesenlik nie.

“Ek was nog altyd passievol oor musiek. Nie net is dit my manier om van realiteit te ontsnap nie, maar ook om my gevoelens weer te gee en mense se harte te raak,” sê sy.

Die 21-jarige musikant is nou al vir drie jaar in die musiekbedryf doenig en het reeds verskeie hoogtepunte in haar loopbaan bereik, soos om die nommer een posisie te haal op Bosveld Stereo se top 20-treffersparade met haar liedjie – Verdwaal.

Om harte te help genees met haar musiek, bly egter vir haar die grootste voorreg van wat sy doen, aangesien sy self al baie seer moes verwerk en in 2019 haar eie lewe probeer neem het.

“Dit is nie noodwendig ’n prestasie nie, maar ’n eer dat daar soveel jong dames en mans uitgereik het na my toe oor gebroke harte en hoe om maniere te vind om nader aan die Here te kom. Dit gee my betekenis as ’n kunstenaar en mens,” verduidelik die sanger. “In 2019 het ek ’n oordosis pille gedrink en wou ek nie meer leef nie, maar God het genadiglik my lewe gespaar,” voeg sy by.

Sy beskryf haar musiek as eerlik en verklap dat mense en gebeure in haar alledaagse lewe ’n groot invloed het op die liedjies wat sy kies om te sing.

“Wanneer ’n persoon na my toe kom en vra om ’n spesifieke liedjie te sing vir hulle en ’n geliefde, voel ek dadelik ’n konneksie met hoe die persoon voel of die perspektief wat hulle het. ’n Mens kan baie verstaan van ander, net deur die tipe musiek of woorde waarna hulle luister.” 

As jy haar uitvra oor haar rolmodelle in die musiekbedryf, antwoord sy sonder huiwering dat daar verskillende eienskappe is wat sy in verskillende kunstenaars bewonder. Elvis Blue se talent as liedjieskrywer en storieverteller is vir haar indrukwekkend, asook Riana Nel se geloof, Kim Walker Smith se vermoë om hoog én laag te sing en Shania Twain se manier om mense te raak met haar musiek. Sy sal ook nog eendag graag saam met groot name, soos Onbeskaamd, Retief Burger, Dodo en Jervis Campbell wou werk.

Melanie is nie net ’n musikant nie, maar besit ook haar eie boetiek, Mel J’s Boutique & Crafts. Sy beplan ook om later vanjaar na Skotland te emigreer waar haar man, met wie sy onlangs getroud is, en sy familie reeds woon.

Die musiekbedryf het haar geleer om getrou te bly aan haarself, ten spyte van ander mense se opinies. “Moenie jouself probeer verander sodat meer mense van jou hou nie. Soms moet jy vergeet van die mens se opinie om God se doel vir jou lewe te verstaan,” meen sy.

TWEE IS BETER AS EEN is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms en sal elkeen wat daarna luister herinner dat enigiets moontlik is met genoeg geloof en liefde.

Laai die liedjie hier af: https://melaniej.lnk.to/TweeIsBeterAsEen

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, Twitter, YouTube