fbpx
Lila Swift – GAP-JAAR

Lila Swift – GAP-JAAR

Soms is ontvlugting van die werklikheid so nodig soos om ’n gap jaar te neem ná jou matriekjaar, selfs al is dit net in jou kop. Só vertel die opkomende kunstenaar Lila Swift in haar splinternuwe enkelsnit getiteld GAP-JAAR.

Lila sê toe sy met ‘n konsep vir die liedjie begin speel het, was die idee van ’n gap jaar soos mense direk ná matriek neem, een van die eerstes wat opgekom het. Die konsep het egter vinnig gevorder na iets met ’n dieper betekenis waarmee elke mens van jonk tot oud tog op ’n manier hulself mee kan vereenselwig.

GAP-JAAR is ’n country pop liedjie en handel oor die gevoel wanneer alles te veel raak en jy net wil wegbreek en die werklikheid agterlaat vir ’n oomblik. Die liedjie spreek veral tot iemand wat wil vlug na ’n plek waar jy nie hoef om te gee oor probleme of moeilike situasies nie.

GAP-JAAR kan ook spreek tot iemand wat bloot wil wegbreek na ’n rowwe paar jaar se harde werk – iewers voel mens jy het ’n breek nodig en hoekom dan nie net een vat nie? Jy lewe tog net eenkeer!  More is dalk te laat?” sê Lila.

“Ek wou die jaar nadat ek matriek geskryf het net begin swot toe Covid gebeur en dit het my eintlik forseer om dan maar jaar af te neem te neem.”

Die liedjie moet voel soos ’n vakansie, sê sy.

Gap-Jaar is deur die bekroonde Murray Lubbe vervaardig. Lubbe is ’n bekende musiekvervaardiger wat ook al verantwoordelik was vir treffers deur Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Jo Black, Ruhan du Toit, Gerhard Steyn en Appel. 

“Ek hoop dat mense dit sal ervaar as pret, net soos al die pret wat ons sover gehad het hiermee – van die skryf, tot die opneem, tot die maak van die musiekvideo!”

Die musiekvideo is deur Eric T Graham en Tehan Buys geskiet by die TO Strand Oord in Port Edward. Die konsep handel oor ’n algemene situasie van vriendinne wat voel hulle is moeg gewerk en moeg gesukkel, en as die geleendheid vir ’n breek kom gryp hulle dit met alles aan.

Lila se vriendinne, Bianca Meyer en Denica Taljaard, is ook in die video te sien. “Dit is anders as die gewone video’s omdat almal in die video in die regte lewe ook vriendinne is.  ’n Mens kan sien dat dit pret was tussen regte vriende!”

Fafa van FDKstyling het die hare, grimering en stilering behartig en maak self ’n verskyning in die video.

Lila sê sy is oopkop as kunstenaar en beplan nie te ver vooruit nie aangesien sy al geleer het hoe veranderlik die lewe kan wees.

“Wat wel belangrik is, is om altyd te doen wat jou gelukkig maak, dan is alle suksesse – klein of groot – net nóg meer die moeite werd!”

Volgens die opkomende sangeres was dit ’n ongelooflike ervaring om die span te leer ken wat saam met haar aan GAP-JAAR gewerk het.

“Mense wat bereid was om saam met my as ’n totale nuweling iets heeltemal onbekend aan te pak en te sien waar dit sal opeindig. Ek is mal oor die reis.”

Meer oor die kunstenaar

Lila beskryf haarself as ‘n “plain Jane” wat gelukkig is met min in die lewe en streef daarna om altyd die positiewe dinge in alles raak te sien.

Haar liefde vir optree, stories vertel en sing het reeds in haar kinderjare posgevat. As klein dogtertjie het sy en haar vriendinne saam met haar sussies gesing en dansies opgemaak en uitgevoer met verskillende uitrustings.

Lila is nou sewe jaar lank doenig in die musiekbedryf en put inspirasie uit plaaslike kunstenaars soos Riaan Benadé, Riana Nel, Juanita du Plessis en sal graag saam met Ivan Roux en Rooksein wil werk.

Sy is ook mal oor Taylor Swift en Shania Twain se musiek. Sy is tans besig met ‘n kortalbum, waarvan GAP-JAAR haar debuutenkelsnit is.

“My herinneringe, liefde, dinge wat soms nodig is om gesê te word en natuurlik pret, inspireer my musiek.”

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram