fbpx
Cumberbatch is ‘n ligpunt in die nuwe fliek, THE CURRENT WAR

Cumberbatch is ‘n ligpunt in die nuwe fliek, THE CURRENT WAR

Dit is moeilik om jouself in die skoene van die persone te plaas wat verantwoordelik was vir die skep van al die tegnologiese uitvindsels waarsonder ons vandag nie kan klaarkom nie. Dit is dan juis ook hoekom die geveg oor twee elektrisiteitsisteme, tussen twee briljante visionêre, so interessant is.

Die intense kompetisie tussen Thomas Edison en George Westinghouse, is die inspirasie agter THE CURRENT WAR en vertel die epiese verhaal van dié titaniese stryd wat letterlik die moderne wêreld ‘verlig’ het. 

Alfonso Gomez-Rejon (regisseur) en Martin Scorsese (uitvoerende vervaardiger) was aan die stuur van hierdie prent wat gaan oor Thomas Edison (Benedict Cumberbatch), die bekende uitvinder wat saam met JP Morgan (Matthew Macfadyen) op die randjie is om Manhattan van elektrisiteit te voorsien met sy radikale nuwe gelykstroom-tegnologie. 

Op die vooraand van sy oorwinning, word sy planne in die wiele gery deur die charismatiese besigheidsman, George Westinghouse (Michael Shannon), wat op sy beurt weer saam met die legendariese wetenskaplike Nikola Tesla (Nicholas Hoult) – hier nog jonk en onervare – fatale foute in Edison se gelykstroom-ontwerp ontdek het. Vasgevang in ’n elektriese oorlog, plaas Westinghouse en Tesla alles op die spel met ’n gevaarlike en gewaagde idee oor hoe om Amerika vinniger van krag te voorsien in die vorm van wisselstroomtegnologie.

Vyandigheid kook oor en eis lewens soos wat die opwindende wedywering, op ’n wêreldveranderende skaal, afspeel. Soos wat Edison en Westinghouse veg vir die reg om die 1893 Wêreldskou in Chicago van krag te voorsien, veroorsaak hulle ook een van die grootste korporatiewe geskille in Amerikaanse geskiedenis en skep hulle sodoende ook die platform vir toekomstige besigheidsmagnate om al die reëls te breek. 

Wanneer dit by die voorkoms en gevoel van die rolprent kom, word daar ook nie gehou by die reëls in Gomez-Rejon se speelboek nie. In plaas van ’n vervelige tydstuk, wou hy THE CURRENT WAR opkikker en op ’n moderne manier vir die wêreld vertel. “Ek het net nie gedink uitgediende reëls was wat hierdie film nodig gehad het nie,” sê die regisseur. “Hierdie mans was futuriste en ek wou hê die film moes in lyn wees met die spontaniteit van hulle idees.”

Hy het inspirasie geput uit die onstuimige veranderinge van die laat negentiende eeu. “Alles wat op daardie oomblik in die wêreld gebeur het, het vinnig ontwikkel. Ek het gevoel dat as ek daardie energie kon vasvang, kon dit goed werk.” Hy het saam met die kinematograaf, Chung Chung-hoon, saam met wie hy op Me And Earl and The Dying Girl gewerk het gewerk om die energie wat hy wou hê te skep.

Die draaiboek van THE CURRENT WAR is op ’n baie slim en stylvolle manier deur Michael Mitnick geskep om te wys dat alhoewel Edison en Westinghouse verskillende persoonlikhede gehad het, hulle wel baie ander dinge in gemeen gehad het. 

In die fliek is Edison bedwelm deur sy eie intelligensie. Hy werk alleen en aanvaar sy personeel se toewyding as vanselfsprekend. Hy weier ook om krediet te deel waar nodig. Alhoewel hy lief is vir sy vrou, Mary (Tuppence Middleton) en kinders, raak hy te betrokke by sy werk om vir hulle die liefde en aandag te gee wat hulle nodig het. 

Westinghouse, in teenstelling, is toegewy aan sy ondersteunende vrou, Marguerite (Katherine Waterston), wie se ambisie amper sy eie oortref. Hy behandel sy werknemers met waardering en respek en stel sy samewerking en vriendskap met die elektriese ingenieur, Franklin Pope (Stanley Townsend), hoog op die prys.

Die rolverdeling word mooi afgerond deur Tom Holland, wat Edison se jong vertroueling en persoonlike sekretaris, Samuel Insull, speel.

Edison se mededingende en ontoegeeflike wêreldbeskouing lei hom na ’n donker plek soos wat die film ontvou – hy verloor sy morele kompas reeds vroeg en raak dan die pad byster. “Die hart van die fliek is Edison se verhouding met sy vrou en die effek wat haar noodlottige siekte op hom gehad het. Jy voel ervaar haar verlies diep en dit dra jou tot op die punt waar hy in ’n diep donker put beland, en sy nie daar is om sy ambisie te temper nie,” verduidelik Gomez-Rejon.

Cumberbatch beskryf Edison nie as die skurk van die fliek nie, maar eerder as die “tragiese held” van die storie. “Dit gaan oor hoe ’n man gestroop word van die beeld wat hy van homself het as nywerheidsreus en hoe hy ontwikkel het in ’n verbitterde verloorder. Maar dan stof hy homself af opsoek na ’n nuwe doelwit. Die ratte in sy kop hou nie op draai net omdat hy vasgevang is in ’n oorlog oor patentreg nie en hy hou aan om goeie werk te doen. Hy is ’n merkwaardige man met baie menslike foute.”

Dit gesê, delf THE CURRENT WAR dieper as om die effek van verlies te probeer verstaan en fokus dit op die opwindende gevoel van wedergeboorte deur middel van kreatiwiteit, spontaniteit en innovering – die liefde om nuwe tegnologie te skep en die kans om die ware aard van oorwinning te ondersoek. 

THE CURRENT WAR is ’n gestileerde historiese drama, met ’n vloeiende storielyn wat ondersteun word deur pragtige kinematografie en ’n gepasde klankbaan. Alhoewel dit ’n bietjie insae gee oor die laat negentiende eeuse stryd tussen Thomas Edison en George Westinghouse om die kragnetwerk te beheer, bied die film meer as dit – dit is ’n inspirerende verhaal oor baanbrekerswerk wat die toekoms vir almal verander het.

Die rolprent word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 26 Julie 2019.

SOSIALEMEDIA

Vir meer inligting oor THE CURRENT WAR, insluitend die amptelike lokprent, hou ons Facebook-blad dop of volg ons op Twitter by @NutsAboutMovies en gebruik die hutsmerk #CurrentWarFilm_SA om oor die fliek te gesels.

INTERNASIONALE SKAKELS

Facebook,Twitter & Instagram

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui