Johnnie Takbok – die groen en goud.

Johnnie Takbok – die groen en goud.

Die geliefde groen trekker met sy takbok is Johnnie Takbok in Afrikaans. Dit is ook die naam van ‘n Afrikaanse rockgroep met ‘n unieke aanslag. Johnnie Takbok beskryf hul musiek as Boererock met ‘n twist wat ‘n besondere kraakvars klank bied wat die bedryf en luisteraars nog nie voorheen beleef het nie. Dis rock and roll wat diep is en sin maak, maar met ʼn country vibe.

Hulle doen nie net ongelooflike verwerkings van bestaande treffers nie, maar ook raakvattreffers uit hulle eie arsenaal van oorspronklike musiekskatte. “Ons musiek is baie divers en one-of-a-kind. Ons speel alles vanaf rustige ballades tot rock and roll, so daar is iets beskikbaar om mense van alle ouderdomme te kan akkommodeer, maar dit is beslis nie laerskool kontemporêre pop nie!”

JOHNNIE TAKBOK is in 2017 gestig en bestaan uit Charl Bezuidenhout (voorsanger en akoestiese kitaarspeler), Wouter van Wyk (ritme- en akoestiese kitaarspeler), Janes Blomerus (baskitaarspeler), Clive Horak (hoofkitaarspeler en agtergrondstem) en Ivan Enslin (dromspeler). Die groep is oorspronklik deur Charl en Wouter begin as ‘n duo in 2015, waarna Janes by hulle aangesluit het en vir Clive en Ivan gewerf het.

HARTJIE VAN DIE VRYSTAAT hulle nuutste enkelsnit, sal aanhangers nie net lekker laat ‘Skoffel’ nie, maar is ook ‘n getuigskrif van die ongelooflike talent wat hulle het om met die wêreld te deel. Dit is reeds deur verskeie radiostasies aanvaar, waaronder Radio Houtstok en Caledon FM en kan aanlyn gekoop word.

Die vyfmanskap kom meestal uit die Vaaldriehoek. Charl Bezuidenhout is die voorsanger, liedjieskrywer, bestuurder en stigterslid van Johnnie Takbok.

Hy wou nog altyd ‘n musikant wees en, alhoewel die lewe dit nie vir hom maklik gemaak het nie, het hy besluit om sy droom na te jaag en self geleenthede te skep.

Hierdie kunstenaar is al dertien jaar doenig in die musiekbedryf en wanneer hy nie op die verhoog is nie, is hy ook ‘n myninspekteur en mede-eienaar van Die Windpomp Kroeg.

Wouter van Wyk is die ritmekitaarspeler en stigterslid van die groep. Op die ouderdom van agttien het hy sy eerste kitaar gekry en net daar het sy passie vir musiekmaak vlam gevat. Hy en Charl speel al vir jare met die idee rond om ‘n band te begin en drie jaar gelede is dié droom bewaarheid.

Wanneer hy nie op die kitaar tokkel nie, hou hy homself besig met instandhoudingswerk en geniet hy dit om nie kantoorgebonde te wees nie. Janes Blomerus, baskitaarspeler en stigterslid van Johnnie Takbok, se liefde vir musiek is van jongs af deur sy oupa gekweek, en hy het reeds in graad een met klavierlesse begin.

Die musikant hou van ‘n wye verskeidenheid musiek en was reeds op universiteit aktief besig in die musiekbedryf. Alhoewel hy vir ‘n rukkie ‘n blaaskans gevat het om aan sy besigheid te bou, geniet hy dit om weer gereeld musiek te maak en ‘n vennoot te wees by Die Windpomp Kroeg in Meyerton.

Clive Horak is ‘n meester op die elektriese kitaar en die groep se hoofkitaarspeler. Sy voorliefde vir musiek, kom van sy pa af, wat hom alles geleer het – van CCR tot Neil Diamond en Percy Sledge. Voor hy ‘n ‘takbok’ geword het, het hy vir so agtien maande in Engeland musiek gemaak en dit vreeslik geniet.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, is hy ‘n veelsydige ambagsman en geniet hy die rustige lewe en natuurskoon by sy huis op die Vaalrivier.

Ivan Enslin is die groep se geraasmaker op die dromme en was al van kleins af versot op dié instrument. Hy het op sestien sy eerste dromstel gekry en speel nou al vir vyftien jaar sy hart uit. Die dromspeler spog met ‘n COPA-sertifikaat in Dromspel en was al deel van verskeie groot musiekproduksies. Ivan glo dat jy nooit moet opgee op jou droom nie en meen dat hy graag ‘n professionele toeris sou wou wees as hy nie kon musiek maak nie

Besprekings:

Annelien van Basten (bestuurder)
0828636817
[email protected]

Sosiale Media:

Facebook, PicDeer en YouTube

Eposadres: [email protected]

Webblad: http://www.johnnietakbok.co.za 

Leave a Reply