fbpx
Dehan sing Lucas Maree lied – WEDUWEE SE KRUIK

Dehan sing Lucas Maree lied – WEDUWEE SE KRUIK

Dehan, ‘n nuwe talentvolle sanger en liedjieskrywer, het pas sy heel eerste roerende enkelsnit vrygestel. Met dié verwerking van Lucas Maree se WEDUWEE SE KRUIK, het Dehan die bekende liedjie, wat uit die pen van ‘n meester verskyn het, sy eie gemaak.

Met sy eiesoortige interpretasie en vertolking van die WEDUWEE SE KRUIK het hy bewys dat hy nog diep musiekspore in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gaan trap.

dehan weduwee se kruik foto

En so amper-amper is ons nooit aan Dehan, wat al vir bekende sangers geopen het, se rasperstem, bekendgestel nie. “Ek het besluit om nooit weer ‘n noot te sing nie nadat ‘n bekende sangafrigter vir my gesê het dat ek liewer nie moet sing nie. Hy het my hart is duisend stukkies gebreek en ek het besluit om net vir myself te skryf en te sing.”

Dehan het na matriek ‘n ander kunsvorm beofen; hy het produksieontwerp en haarkapperwese studeer, maar sy siel het altyd teruggehunker na die verhoog, na musiek, na liriek.

“Ek het op 28-jarige ouderdom ‘n liefdesteleurstelling gehad . Dit was soos ‘n damaskusoomblik. Ek het weer my liedjies uitgekrap, afgestof en teruggedraai na musiek.”

Dehan put baie van sy inspirasie uit die lewe self. “Die lewe is ’n reis wat so baie liedjies en stories bied. Dit is ons werk as liedjieskrywers om hierdie liedjies op papier te sit,” sê dié sanger. “My liedjies vertel stories; oor alledaagse gebeure., oor hartseer, oor geluk. Ek maak nooit ‘n moordkuil van my hart nie ek gebruik woorde om my gevoelens uit te druk.  My musiek is my dagboek. Met my reise is ek opsoek na liefde.”  

Hoewel Dehan nie die voorreg gehad het om vir Maree te ontmoet nie, het sy oupa (wat ‘n groter invloed op sy lewe gehad het) hom aan Maree se musiek bekendgestel. “Ek glo Lucas maak nou musiek in die hemel en my oupa is sy grootste ondersteuner.”

Dit was ook ‘n waagstuk om, as onbekende sanger, Die WEDUWEE SE KRUIK,  as eerste enkelsnit vry te stel. Bekendes soos Dana Niehaus en Jannie du Toit het ook al die liedjie opgeneem. Maar Dehan sou dit nie anders wou gehad het nie. “My vervaardiger, Riaan Steyn van Traxpro Studio het voorgestel dat ek dié liedjie opneem.  Ek het dadelik aanklank by die liedjie gevind. Veral by die woorde.”

Die koorgedeelte, Ons almal is maar bang dat die liefde dalk sal opraak, dus probeer ons dit tot sterwens toe bewaak, se Dehan beskryf waar hy in die stadium in sy lewe is.

“Lucas is my musiekinspirasie. Sy liedjies vertel mooi stories,” sê Dehan.

Die musiekbedryf het vir Dehan geleer dat ’n aanhouer wen. “Die lewe loop in sirkels en voordat jy jou oë kan uitvee, is dit weer jou beurt,” sê hy. “Musiek is my passie en ek hoop dat ek my musiek na almal in Suid-Afrika sal kan bring.”Dehan het pas sy eerste vollengte album voltooi en dit behoort binnekort uitgereik te word.

SOSIALE MEDIA

Facebook
Instagram