fbpx
Nathan Smith stel sy album bekend!

Nathan Smith stel sy album bekend!

Die bekroonde kitaarspeler, sanger en liedjieskrywer, Nathan Smith, se langverwagte album HERE’S TO THE NOW is pas bekendgestel en almal is dit eens, dit is ‘n meesterstuk!

Die eerste twee enkelsnitte vanaf hierdie album is gedurende Mei 2020 uitgereik en speel reeds die klankgolwe van radiostasies reg-oor Suid-Afrika aan die brand.

DECISIONS, ’n liedjie oor hoe liefde en verhoudings nie altyd uitwerk soos wat jy gedink het dit moet of wanneer dit moet nie is ‘n liedjie wat al reeds jare terug die kunstenaar geskryf is – nog voordat hy getroud is – en gaan oor hoe jy vir iemand wag om op jou gevoelens te reageer, terwyl jy nog besig is om jou wonde te lek na ’n vorige verhouding.

Die tweede enkelsnit, CLOSER is ‘n liedjie wat hom na aan die hart lê. Nathan het Closer – sy eerste gospelliedjie – geskryf en dit gaan oor hoe dankbaar hy is om die Skepper se kind te wees. “Ek is bewus van die druk wat die wêreld en media op ons sit om hard te werk om bo uit te kom. Maar God sê dat Sy genade genoeg is; dit is al wat ons regtig nodig het.”

nathan smith here's to the now

HERE’S TO THE NOW, wat twaalf oorspronklike snitte bevat, is vernoem na die openingsnit. “Die naam is gepas as gevolg van die betekenis agter die liedjie – om vir vandag te leef, nie oor môre bekommerd te wees nie en om uit die verlede te leer.” As jy hom vra om sy gunsteling-liedjie uit te sonder, grap hy dat dit sou wees soos om tussen kinders te kies. “Ek hou van elke liedjie vir ’n ander rede.”

Buiten vir Closer, wat hom naby aan die hart lê, is die liedjie, Aidan, ’n emosionele huldeblyk aan sy susterskind. “Aidan is gediagnoseer met ’n outo-immuunsiekte wat in agt maande sy lewe geëis het. Hy was net twee-en-twintig. Ek het nie beplan om ’n liedjie te skryf nie, maar die dag voor die begrafnis het beelde van sy lewe skielik by my opgekom. Hy het so ’n unieke persoonlikheid en wonderlike uitkyk op die lewe gehad, selfs in die laaste dae van sy lewe,” deel Nathan. “Aidan is ’n huldeblyk aan sy lewe en kom diep uit my hart uit. Dit word ook opgedra aan ouers wat hulle kinders moes afstaan aan die dood; dit is ’n aaklige ding om deur te gaan.” 

Om die regte versameling musiek op een album te sit, kan nogal ’n uitdaging wees. In Nathan se geval, het hy op die raad van kollegas staatgemaak. “Dit was vir my ’n groot uidaging om ’n album met ’n koherente klank saam te stel, waarin elke liedjie nie in sy eie rigtig gaan nie, as gevolg van my uitgebreide musiekagtergrond en ondervinding as sessiemusikant,” verduidelik hy. “Voordat ek Nederland toe is, het ek aan agtien liedjies gewerk. Van daar af, het ek kollegas genader oor watter liedjies hulle gedink het die beste sou werk.”

Die eindproduk het, volgens plaaslike kunstenaars, perfek uitgekom. “Uiteindelik ’n vars briesie in die musiekbedryf. Dit is iets waarna ek die heeldag kan  luister.  Haal uit daai oorfone, jy moet dit hoor…” meen Bobby van Jaarsveld en Riana Nel stem saam: “HERE’S TO THE NOW is een van daai albums waarna jy enige dag van die week kan luister. Dit het ’n pragtige klank en treffende lirieke en is pragtig saamgestel!”

Dewald Wasserfall som dié album heel gepas as volg op: “HERE’S TO THE NOW wissel moeiteloos tussen opgewekte rockklanke, sielvolle blues melodieë en betekenisvolle akoestiese folk-musiek. Dit kombineer uitstekende musiekvernuf met gewilde lekkerluister-wysies.” 

Francois van Coke is ook baie beïndruk en beskryf Nathan as ’n ongelooflike kitaarspeler en mens. “Sy solo-vrystelling stel sy talent as liedjieskrywer, met behulp van popklanke met blues-ondertone,  perfek ten toon.”

Nathan kom uit ’n baie musikale gesin. “Beide my ouers was musiekonderwysers en om musiek te maak was nog altyd vir my ’n baie natuurlike ding. Ek het op elf begin kitaar speel en het kort daarna by plekke en op televisie begin optree. My passie vir liedjiesskryf het ek op die ouderdom van dertien ontdek.”

Na ses-en-twintig jaar in die musiekbedryf, is Nathan ’n gesoute musikant, met baie ervaring en stories om te deel. Om by verskeie Sokkerwêreldbekergeleenthede te kon optree in 2010, was vir hom van die grootste hoogtepunte in sy musiekloopbaan. “Buiten vir die groot verhoë en skare, het dit ook soveel mense in gees saamgetrek.” 

Om mense met mooi musiek te vermaak, is sy grootste inspirasie. “Ek is ook passievol oor kitaarspeel.” Maar sy hande staan nie net vir musiekmaak reg nie. “Om herstelwerk in en rondom die huis te doen, is vir my lekker. My dogter noem my juis, ‘Handy Manny’, te danke aan haar ma,” lag hy.

Alhoewel hy bekend is vir sy werk as sessiemusikant, was oorspronklike musiek nog altyd vir Nathan belangrik. Dit het ook aanleiding gegee tot die uitreiking van sy debuut-album, Songs from a Diary, in 2006. In 2009 het hy ook saam met Mark Heydenrych, Paddy Smith en Kyle Rutten ’n eksperimentele album uitgebring, naamlik The Nathan Smith Project – The Sum of All Things.

Wanneer jy hom vra hoe hy oor sy nuwe album voel, sê hy: “Ek is mal daaroor dat dit my instaat stel om met met mense se harte te praat en ’n dieper vlak van emosie en empatie kan oordra deur middel van musiek. Ek wil hê dat luisteraars moet aanklank vind by die stories agter die lirieke, maar ook steeds die kuns in my musiek waardeer.” 

Ricus Nel kry dit reg om die kunstenaar se vernuf en menswees perfek vas te vang en sluit af: “Wat ’n plesier en voorreg om na een van die land se beste kitaarspelers te luitser! Hy is ’n ongelooflike mens en musikant! Wat uitstaan, is sy nederigheid en goedhartigheid teenoor alle mense. Knapgedaan!”

HERE’S TO THE NOW is nou op alle digitale platforms hier beskikbaar: https://bit.ly/3eB7Mvw

LYS VAN SNITTE
Here’s to the now
Dry Cry Smile
Running Out of Control
It Feels Good
Alice
The First and The Last
The Investment
Plastic Man 
Scientists Say
Decisions
Closer
Aidan

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
Twitter
Instagram
YouTube

Webblad: www.nathansmith.co.za 

Lees meer:
Nathan Smith – Twee nuwe enkelsnitte vrygestel en ’n album op pad