fbpx
Nathan Smith – Twee nuwe enkelsnitte vrygestel en ’n album op pad

Nathan Smith – Twee nuwe enkelsnitte vrygestel en ’n album op pad

Die bekroonde kitaarspeler, sanger en liedjieskrywer, Nathan Smith, het hierdie week twee enkelsnitte vrygestel. Saam met die vrystellings het hy ook bekendgemaak dat daar ’n album op pad is.

CLOSER is sy eerste gospelliedjie wat 25 Mei aan radiostasies landswyd uitgereik is. Dit is ’n liedjie wat hom na aan die hart lê. CLOSER gaan oor hoe dankbaar hy is om die Skepper se kind te wees. “Ek is bewus van die druk wat die wêreld en media op ons sit om hard te werk om bo uit te kom. Maar God sê dat sy genade genoeg is; dit is al wat ons regtig nodig het. Die res is net detail. Ek het dus besluit om my dankbaarheid vir sy onvoorwaardelike liefde en genade in ’n liedjie vas te vang.”

In dieselfde week is DECISIONS landswyd uitgereik’n liedjie wat gaan oor hoe liefde en verhoudings nie altyd uitwerk soos wat jy gedink het dit moet of wanneer dit moet nie. Hierdie liedjie is reeds jare terug deur die kunstenaar geskryf, nog voordat hy getroud was.

Dit gaan oor hoe jy vir iemand wag om op jou gevoelens te reageer, terwyl jy nog besig is om jou wonde te lek na ’n vorige verhouding. “Ek glo dat baie mense by die tema van die snit sal aanklank vind. Ons het almal al gehoop vir iets wat nie kon wees nie, en dis waaroor dit op daardie tydstip vir my gegaan het,” deel hy.

Die enkelsnit skakel perfek in by die ligte rock-akoestiese gevoel van die album, wat geïnspireer is deur stories uit die musikant se eie lewe, asook die mense rondom hom. Volgens hom het die album ontstaan omdat hy die boodskap in sy hart wou deel, wat hy die beste doen met ’n kitaar in die hand.

Albei hierdie enkelsnitte is geneem vanaf sy komende album, Here’s to the Now wat einde Junie / begin Julie 2020 op alle digitale platforms vrygestel sal word en twaalf oorspronklike snitte sal bevat. Hierdie album word reeds geloof deur baie van sy medemusikante en groot aanhangers van sy werk in die bedryf.

Dewald Wasserfall som dié album heel gepas as volg op: “Here’s to the Now wissel moeiteloos tussen opgewekte rockklanke, sielvolle blues-melodieë en betekenisvolle akoestiese folk-musiek. Dit kombineer uitstekende musiekvernuf met gewilde lekkerluisterwysies.” 

Die eindproduk het, volgens plaaslike kunstenaars, perfek uitgekom. “Uiteindelik ’n vars briesie in die musiekbedryf. Dit is iets waarna ek die heeldag kan  luister. Haal uit daai oorfone, jy moet dit hoor …” meen Bobby van Jaarsveld.

Riana Nel stem saam:  Here’s to the Now is een van daai albums waarna jy enige dag van die week kan luister. Dit het ’n pragtige klank en treffende lirieke en is pragtig saamgestel!”

Nathan kom uit ’n baie musikale gesin. Na ses-en-twintig jaar in die musiekbedryf is Nathan ’n gesoute musikant, met baie ervaring en stories om te deel. Om in 2010 by verskeie Sokkerwêreldbekergeleenthede te kon optree, was vir hom van die grootste hoogtepunte in sy musiekloopbaan.

Alhoewel hy bekend is vir sy werk as sessiemusikant, was oorspronklike musiek nog altyd vir Nathan belangrik. Dit het ook aanleiding gegee tot die uitreiking van sy debuutalbum, Songs from a Diary, in 2006. In 2009 het hy ook saam met Mark Heydenrych, Paddy Smith en Kyle Rutten ’n eksperimentele album uitgebring, naamlik The Nathan Smith Project – The Sum of All Things.

Wanneer jy hom vra hoe hy oor sy nuwe enkelsnitte en album voel, sê hy: “Ek is mal daaroor dat dit my in staat stel om met met mense se harte te praat en ’n dieper vlak van emosie en empatie kan oordra deur middel van musiek. Ek wil hê dat luisteraars moet aanklank vind by die stories agter die lirieke, maar ook steeds die kuns in my musiek waardeer.” 

CLOSER en DECISIONS is nou hier beskikbaar:
CLOSER: Apple Music, Spotify
DECISIONS: Apple Music, Spotify

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook
Twitter
Instagram
YouTube

Webblad: www.nathansmith.co.za