fbpx
Wit Kasteel maak nuwe klanke met nuutste enkelsnit

Wit Kasteel maak nuwe klanke met nuutste enkelsnit

Die rockgroep, Wit Kasteel, se eerste enkelsnit, ’n unieke verwerking van Laurika Rauch se DIE NOSTALGIE, het groot opslae gemaak in musiekkringe toe dit in 2015 vrygestel is. Die groep het ’n Ghoema-benoeming vir Beste Rock-album (Wit Kasteel) in 2015 gekry en dit het ’n suksesvolle fondament gelê vir hulle nuutste enkelsnit, TOEGEWYD, wat nou vrygestel word, en hulle album wat later vanjaar sal volg.

TOEGEWYD kis deur die groep geskryf en is saam met Hugo Ludik van Muse Studios aanmekaargeslaan. “Die liedjie gaan oor die moeilike tye in die lewe. Die doel is om mense te bemoedig om in sulke tye ‘toegewyd’ te bly aan hulleself en om aan te hou en deur te druk,” deel die viermanskap oor die boodskap agter hulle nuutste enkelsnit. “Jou verlede bepaal nie jou toekoms nie, maar eerder jou positiewe gesindheid. Die moeilike tye bou karakter. Moet dit nie vergeet nie, maar leer daaruit en gebruik dit tot jou voordeel.”

Die snit, wat beskryf kan word as kommersiële rock, val lekker op die oor en dit sal spreek tot luisteraars van alle ouderdomme. Volgens die manne is hierdie tipe liedjie presies wat mense nou nodig het: “In die huidige situasie waarin ons onsself bevind, dink ons dit is ’n belangrike boodskap. Ons het al baie gevoel dat die toekoms onseker is, persoonlik, en in ons loopbaan. In die verlede was daar gevalle van valse hoop, en menige struikelblokke. Maar ons het ons kenne hoog gehou en aangehou om hard te werk vir wat ons wil hê.”

TOEGEWYD is ook die eerste vrystelling vanaf hulle tweede album wat later vanjaar beskikbaar sal wees. Die musiekvideo word einde Junie uitgereik. Die aanslag van Wit Kasteel se nuwe enkelsnit, TOEGEWYD, gee ’n goeie aanduiding van wat van hulle album verwag kan word. Dit is ook die begin van ’n nuwe en opwindende hoofstuk in hulle musiekloopbaan.

Laai die enkelsnit hier af: http://smarturl.it/luister-toegewyd

Wit Kasteel is ’n musiekgroep van Pretoria, wat bestaan uit Clemond Dartnall (hoofsanger en kitaarspeler), Ernst Nieuwoudt (hoofkitaarspeler), Reinard Kruger (baskitaarspeler en sanger) en Waldemar Behr (dromspeler). Die groep is aan die einde van 2011 deur Clemond en Jurie Schoeman gestig, omdat Clemond gevoel het dat hy nie lekker in die korporatiewe wêreld inpas nie. Nie een van die twee kon kitaar speel nie, maar hulle het kitare en ’n klanksisteem gekoop en begin oefen.

Waldemar en Reinard was saam met Clemond op skool en na ’n toevallige ontmoeting en ’n advertensie op Facebook, het dié twee lede onderskeidelik in 2012 by die groep – wat toe net Engelse musiek gespeel het – aangesluit. Vandag is Clemond, Reinard en Waldemar nog steeds deel van die groep, maar in 2017 het Ernst oorgeneem as hoofkitaarspeler.

Volgens Waldemar is die groep vernoem na die ikoniese gebou in Erasmuskloof, die Spookhuis (Erasmus-kasteel): “Ons het by Reinard se huis vergader om op ’n naam te besluit. Daar was verskeie voorstelle, maar ons was onseker. Sy broer het ’n Volkswagen Beetle gehad wat hy daardie dag verkoop het en ons wou toe ’n laaste keer met die motor ry. Ons al vier was in die kar gewees en het weer die gesprek oor ons naam opgeneem. Terwyl ons so praat, sien iemand toe die kasteelembleem op die Volkswagen se stuurwiel raak. Ons het dit as ’n teken geneem en dadelik besluit op Wit Kasteel.”

Sedert hulle ontstaan, het Wit Kasteel al by ’n hele paar privaat funksies, restaurante en ook feeste, soos Innibos, Bieliemielie Fees, KKNK, Aardklop, Moepanie Oesdag, en Rocking Potch opgetree.

Die Nostalgie

Hul eerste enkelsnit, DIE NOSTALGIE, was vir verskeie weke nommer een op GrootFM en Suidkaap FM se treffersparades, en die musiekvideo van dié treffer is reeds deur duisende mense op YouTube gekyk.

Clemond Gregory Dartnall is die groep se hoofsanger en ritmekitaarspeler en beskryf homself as ’n doodnormale familieman. Sy ma het in ’n musikale huis grootgeword en hy meen dat hy sy liefde vir ou musiek by haar geëerf het, terwyl sy pa hom weer geleer het om met ’n ander oor te luister.

Ernst Nieuwoudt is die hoofkitaarspeler van die viermanskap. Hy het van Paarl af Pretoria toe verhuis vir werk en só het sy pad toe met die ander groeplede gekruis. Tans werk hy by maatskappye wat ERP-sisteme ontwikkel en verkoop, maar verklap dat hy in ’n baie musikale huis grootgeword het.

Reinard Kruger is ’n baskitaarspeler en agtergrondsanger van Pretoria, wat inspirasie put uit die stories wat mense vertel. Musiek was nog altyd een van sy groot passies en hy glo dat goeie musiek gevoel moet word.

Dromspeler en sanger, Waldemar Behr, het in Pretoria grootgeword en sê dat sy musiekloopbaan amptelik in die kerk se blaasorkes begin het. Alhoewel hy aanvanklik die tuba gespeel het (waarvoor hy twee keer SA-kleure gekry het as deel van die Beste Konsertorkes), het hy besluit om dromme te leer speel toe sy vriende op skool ’n musiekgroep wou begin. Tans werk hy vir ’n IT-maatskappy en verklap dat hy baie meer gemaklik voel agter die skerms as in die kollig.

Die groep het nog baie planne en drome vir die toekoms, wat meer lewendige vertonings en ’n toer na Nederland insluit. Hulle sal ook nog graag saam met Fokofpolisiekar wil werk en by Afrikaans is Groot wil optree. Vir nou vat hulle die reis stap vir stap en geniet hulle elke oomblik daarvan.

“Ons voel dat ons ’n baie unieke klank na die mark toe te bring wat nog nie bestaan nie. Klassieke rockmusiek is vir ons die lekkerste om te speel, omdat dit die beste stories vertel en ons wil graag die beste verhale met luisteraars deel,” sluit hulle af.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
Instagram
Twitter
YouTube

Webblad: www.witkasteel.co.za