Posduif se nuwe musiekvideo praat met die hart!

Posduif se nuwe musiekvideo praat met die hart!

“Hierdie video is besonders, omdat dit nie die gewone video is wat die groep se storie vertel nie. Dit wys die lewe deur die oë van ’n kind en sal jou herinner dat daar soveel is om voor dankbaar te wees, asook wat regtig belangrik is.”

Nie eers die afsonderingstydperk kon die dinamiese groep, POSDUIF, keer om ’n unieke en hoendervleismooi musiekvideo van hulle nuutste treffer – HERINNER MY  te maak nie en hulle is baie opgewonde om dit met aanhangers en die hele Suid-Afrika te deel.

HERINNER MY is geïnspireer deur hoofsanger – James Boland – se suster se dood. Dit is ’n hartroerende, goedvoelsnit wat daaroor gaan om dankbaar te wees vir diegene wat nog by jou is, om die mense te onthou wat niemeer hier is nie en die tye te koester wat jy wel saam met hulle gehad het.

“Hierdie video is besonders, omdat dit nie die gewone video is wat die groep se storie vertel nie. Dit wys die lewe deur die oë van ’n kind en sal jou herinner dat daar soveel is om voor dankbaar te wees, asook wat regtig belangrik is,” verklap die groep. “Ons kon natuurlik nie uitgaan om ’n video te skiet gedurende grendeltyd nie, maar ons regisseur en vervaardiger – Kyle White – en sy vrou het die mooiste baba en hy het kosbare beeldmateriaal van haar lewe sover. Aangesien die liedjie oor dankbaarheid gaan, het ons gedink dat dié konsep ons boodskap mooi sou oordra. Ons verskyn wel in die familiefoto’s aan die einde, wat net verder beklemtoon dat hierdie liedjie elkeen se storie verteenwoordig wat daarna luister.”

Dié enkelsnit was ’n kitstreffer, is onmiddellik deur radiostasies, regoor die land, opgeraap en pryk reeds op verskeie stasies se trefferparades.

POSDUIF maak musiek waarby mense aanklank vind. Dit is inspirerende lekkerluistermusiek wat ons almal in hierdie tye nodig het,” sê Kyle, wat al vir nege jaar in die musiekvideobedryf werk en al saam met name soos Juan Boucher, Master KG, Casper Nyovest en vele meer gewerk het. “Omdat HERINNER MY gaan oor goeie tye saam met mense vir jy omgee, het ons besluit om bestaande beeldmateriaal van my dogtertjie, Harper, se lewe te gebruik. Ek voel baie bevoorreg dat ek my eie herinneringe so met die publiek kan deel. Familie is my eerste prioriteit en die rede vir my bestaan. Ek dink Harper sal eendag terugkyk en hierdie baie geniet.”  

Al POSDUIF se musiekvideo’s is nog sover deur Kyle gemaak en dit is vir hulle ’n groot voorreg om saam met hom te werk. “Kyle is baie talentvol en ons is dankbaar dat hy bereid was om hierdie beeldmateriaal aan ons beskikbaar te stel. Hy werk altyd baie hard aan ons musiekvideo’s om die beste moontlike resultaat te bereik.” 

Kyk die video hier: 

HERINNER MY is die groep se vierdie enkelsnitvrystelling en volg kort op die hakke van LAAT VAL DIE WATER wat uitstekend ontvang is en vir weke lank bo-aan verskeie treffersparades gepronk het. Die musiekvideo kan ook steeds gereeld op verskeie TV-kanale gesien word. 

POSDUIF is in 2018 gestig en het die musiekbedryf betree met die enkelsnit en musiekvideo, BRANDY SPECIAL, wat reeds deur meer as 300 000 mense gesien is, gevolg deur hulle tweede enkelsnit en musiekvideo, EEN VIR MY, wat net so goed ontvang is. Die ensemble is ook reeds deur Bok Radio genomineer as Groep van die Jaar en LAAT VAL DIE WATER was genomineer vir Liedjie van die Jaar.

Die groep bestaan grotendeels uit lede van die gewilde musiekgroep RUBBER DUC – Jordaan, Amiel Gopal (baskitaarspeler), Kabyee Sax (saksofoonspeler), Leeroy Sauls (dromspeler) en Brendan Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler), met die toevoeging van Boland as voorsanger.

Alhoewel Covid-19 dinge effens kom deurmekaar krap het, kon hulle nog ’n paar nuwe liedjies voltooi en hoop die sesmanskap om later vanjaar hulle debuutalbum vry te stel.

HERINNER MY is ’n hartroerende verwerking, met ’n lekkerluisterwysie en betekenisvolle lirieke, wat vir luisteraars lank sal bybly nadat hulle dit vir die eerste keer gehoor het.

“Ek dink elkeen van ons sit met herinneringe wat jou ’n lekker warm gevoel in jou binneste gee. Dit is ook wat kykers in hierdie video gaan ervaar en daarom sal almal dit geniet. Spesiale tye saam met geliefdes, is immers waaroor die lewe gaan,” meen Kyle. “POSDUIF het nog baie musiek om met die wêreld te deel. Dit maak my baie opgewonde en ek wens hulle alle sukses toe vir die toekoms.” 

SOSIALEMEDIASKAKELS:
FacebookInstagramTwitter

Webblad: https://posduif.live/

Lees meer:
Posduif se nuutste enkelsnit
Posduif se tweede musiekvideo is hier
Posduif bring ‘n boodskap vir SA
Posduif saai hoop met nuwe Musiekvideo