fbpx
Posduif se tweede musiekvideo is uiteindelik hier!

Posduif se tweede musiekvideo is uiteindelik hier!

’n Afrikaner, Indiër, Libanees, bruin man en twee Engelse ouens loop by ’n kroeg in… Wat mag klink soos die begin van ’n goeie outydse grappie, is eintlik ’n beskrywing van ’n moderne multikulturele musiekgroep met ’n baie unieke naam. 

Die opwindende groep, POSDUIF, het pas die musiekvideo van hulle nuutste radiotreffer, EEN VIR MY, vrygestel. Net soos met sy voorganger, is dié video reeds besig om soos ’n veldbrand op sosiale media te versprei! 

POSDUIF is in 2018 gestig en is ’n splinternuwe Afrikaanse groep wat vroeër vanjaar die musiekbedryf betree het met die enkelsnit en musiekvideo, Brandy Special, wat reeds deur meer as 300 000 mense gesien is. Omdat hulle tweede vrystelling, EEN VIR MY, tans goed vaar op die treffersparades van verskeie radiostasies, het hulle besluit dat die tyd ryp is om nóg ’n video met die land te deel.

Die liedjie, wat deur hulle beskryf word as Afrikaanse pop met ’n tikke “brass”, gaan daaroor om die tipe liefde te vind wat die moeite werd is om voor te veg. “Dit gaan daaroor om die één te vind en alles wat daarmee gepaard gaan; van die oomblik wat julle mekaar sien en hoe julle die lewe saam visualiseer, tot waar julle uiteindelik regtig aan mekaar se sy is,” verduidelik voorsanger, James Boland.

Hierdie treffer, uit die pen van die groep se kitaarspeler Nick Jordaan en James Boland, is per toeval een aand geskep. “Ons was een aand by James se huis en het besluit dat ons ’n Afrikaanse liedjie moes skryf. Daardie aand het ons tot drie uur die oggend wakker gebly en die resultaat daarvan is EEN VIR MY,” deel Jordaan.

Alhoewel die idee agter die video eenvoudig is, vang dit die boodskap wat die groep wil deel perfek vas.

“Die idee was om die groeplede voor te stel en terselfdertyd ’n gevoel van liefde tussen twee mense uit te beeld – in hierdie geval twee dansers. Ons het met kleur gespeel en die skote naby gehou om ’n gevoel van intimiteit te skep,” verklap Boland. “Die boodskap is dat liefde is soos om te leer dans. Twee mense ontmoet, gevolg deur verskeie dansklasse, totdat die bewegings tussen die paartjie begin vloei en hulle deel word van mekaar.”

Om lewe te gee aan die konsep van die video, het hulle kragte saamgespan met die talentvolle choreograaf, Ryan Hignett, en die dansers Kaylan Sabbadin en Bradley Hartmann. Een van Suid-Afrika se mees begaafde kinematograwe, Kyle White, was verantwoordelik daarvoor om alles saam te bind en af te rond. “Kyle is ’n goeie vriend en ondersteuner van die groep en dit was ’n voorreg om saam met hom hieraan te kon werk,” sê Boland.

In die era van e-posse, slimfone en ander tegnologie, kan ’n mens nie help om te wonder oor die groep se naam POSDUIF nie? Jordaan verklap dat die naam ’n voorstel van ’n vriend af was. “Toe ons besig was om name uit te dink, het ’n vriend POSDUIF voorgestel en ons was mal daaroor! Dit is perfek, omdat ons wil hê dat ons musiek ’n boodskap moet oordra.” 

As die ensemble vir jou bekend lyk, is dit omdat dit grotendeels bestaan uit lede van die gewilde musiekgroep RUBBER DUC – Jordaan, Amiel Gopal, Sheldon Sham, Leeroy Sauls en Brendan Campbell. Die toevoeging van Boland as voorsanger, het egter die fokus na Afrikaans verskuif en gelei tot die ontstaan van POSDUIF.

“Ons is ’n sesstuk-groep met musiekinvloede, wat wissel van Gospel tot Pop en Jazz en dit alles word op ’n unieke manier gekombineer om die unieke klank van POSDUIF vas te vang. Ons wil luisteraars op ’n musiekervaring neem, van die lirieke en melodie tot die verwerking van elke liedjie,” meen Boland. “Wat dit interessant maak, is dat ons almal verskillende voorkeure en idees het as gevolg van ons verskillende kulturele agtergronde. Ons is waarlik ’n multikulturele groep in elke sin van die woord.” 

Ten spyte van hierdie verskille, deel die lede van POSDUIF egter ’n passie vir musiek asook die behoefte om die positiewe kant van die lewe, veral in Suid-Afrika, uit te beeld.

Alhoewel hulle nog baie opwindende planne vir die toekoms het, is hulle tans besig om aan hulle eerste album te werk. “Ons spandeer baie tyd in die ateljee om liedjies te skryf, op te neem en ons album voor te berei. Ons is baie opgewonde oor die klank en ook oor die rigting waarin die proses ons sover gestuur het,” sê Boland. Hulle werk ook daaraan om groter en beter vertonings te skep en idees vir ’n nuwe musiekvideo is ook alreeds in die pyplyn.

DIE MANNE AGTER DIE MUSIEK

James Boland is POSDUIF se hoofsanger en ’n kitaarspeler. Hy is baie lief vir sy familie, vriende, reis en kultuur en wil graag hê dat die mense rondom hom gelukkig moet wees. “Musiek het ’n manier om stories met mense te deel en met elke liedjie deel jy iets van jouself,” sê hy. James glo daaraan om hard te werk, altyd sy beste te gee en nooit op te gee nie.

Kitaarspeler en sanger, Nick Jordaan, is ’n oudleerling van Pretoria Boys High School met ’n graad in bemarking. Hy is iemand wat ’n goeie grap geniet. “Musiek is ’n voertuig wat ’n wye verskeidenheid emosies oordra en vir my is daar niks beter as om te sien hoe iemand ’n liedjie saamsing wat ek geskryf het nie,” sê hy. As hy nie ’n loopbaan in musiek kon hê nie, sou hy graag ’n professionele sokkerspeler wou wees.

Brendon Campbell is die groep se vervaardiger en hoofkitaarspeler. Hy werk al vir agt jaar in die musiekbedryf en as jy hom uitvra oor sy loopbaanhoogtepunte, sê hy: “Ons is gelukkig genoeg om baie mense te ontmoet, beide in die bedryf en regoor die wêreld. Dit is vir my ’n groot hoogtepunt om so ’n diverse verskeidenheid mense te ervaar.”

Amiel Gopal speel baskitaar en geniet elke aspek van musiek en die musiekbedryf. Hy speel al kitaar vandat hy elf is en is al vir agtien jaar doenig in die bedryf. Amiel glo dat opgee net ’n opsie is vir diegene wat net doodgewone lewens wil ly… “So, as jy ’n buitengewone lewe wil hê, moet nooit opgee nie!”

Saksofoonspeler, Sheldon Sham, beskou musiek as sy roeping. “Ek het reeds as kind geweet dat dit is wat ek met my lewe wil doen.” Sy lewensleuse is eenvoudig – om alles konsekwent aan te pak. Sheldon se geheime talent, is dat hy met diere kan praat.

Dromspeler, Leeroy Sauls, het in die Kaap grootgeword en sê dat die kerk die grootste invloed op sy musiek gehad het. “Dit is waar ek op die ouderdom van tien begin dromme speel het. Musiek het my op die regte pad gehou en my baiekeer daarvan weerhou om die verkeerde besluite te maak.” Hy werk al twaalf jaar in die bedryf en meen dat die hoogtepunt van sy loopbaan was om saam met die legende Hugh Masekela te werk en te toer.

POSDUIF se vars en energieke klank, positiewe lirieke en unieke verwerkings, gaan beslis aanhou om aanklank te vind by gehore van alle ouderdomme en kulture. 

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Instagram & Twitter
Webblad: https://posduif.live/

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: [email protected]
Webblad: www.starburstmusic.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui