fbpx
Posduif bring ’n boodskap vir SA

Posduif bring ’n boodskap vir SA

Die manne van Posduif het die afgelope naweek opgetree by Weiveld. Dié moderne, multikulturele groep het die gehoor behoorlik op hul voete gehad met ’n paar bekende treffers, asook hul eie musiek.

Hulle klank is so divers as wat hulle talentvol is, met musiek as hul gedeelde liefde wat regdeur hul optrede straal. Die kombinasie van stemme, klanke en kulture bied ’n produk en klank wat Suid-Afrika verteenwoordig en iets vir elke persoon bied.

Tydens hul optrede het die sesmanskap hulle nuutste enkelsnit, LAAT VAL DIE WATER, gesing.

LAAT VAL DIE WATER was geskryf om die boodskap van hoop oor te dra dat moeilike tye makliker oorkom kan word deur in die toekoms van Suid-Afrika te glo as om negatiwiteit te help versprei. Die derde vrystelling word voorafgegaan deur BRANDY SPECIAL en EEN VIR MY wat reeds groot sukses op radiostasies behaal het.

Die enkelsnit word deur die groep beskryf as ’n snit met ’n “lekkerluisteraanslag”. Dit spog met dieselfde opbouende boodskap en unieke klank waarvoor POSDUIF reeds bekendheid verwerf het. Die lirieke was ’n spanpoging tussen Nick Jordaan (kitaarspeler en sanger) en James Boland (voorsanger) en is vervaardig deur Brendan Campbell.    

As die ensemble vir jou bekend lyk, is dit omdat dit grotendeels bestaan uit lede van die gewilde musiekgroep RUBBER DUC – Jordaan, Amiel Gopal, Sheldon Sham, Leeroy Sauls en Brendan Campbell. Die toevoeging van Boland as voorsanger, het egter die fokus na Afrikaans verskuif en gelei tot die ontstaan van POSDUIF in 2018.

In die era van e-posse, slimfone en sosiale media, kan ’n mens nie help om te wonder oor die naam POSDUIF nie? Jordaan verklap dat die naam ’n voorstel van ’n vriend af was. “Toe ons besig was om name uit te dink, het ’n vriend POSDUIF voorgestel en ons was mal daaroor! Dit is perfek, omdat ons wil hê dat ons musiek ’n boodskap moet oordra.” 

Alhoewel hulle nog baie opwindende planne vir die toekoms het, is hulle tans besig om aan hulle eerste album te werk. Hulle werk ook daaraan om groter en beter vertonings te skep en idees vir ’n nuwe musiekvideo is alreeds in die pyplyn.

Webblad: https://posduif.live/

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Twitter, Instagram

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui