fbpx
Posduif saai hoop met nuwe musiekvideo

Posduif saai hoop met nuwe musiekvideo

Om luisteraars te verenig met hulle goedvoelklanke en positiewe boodskap, is een van die multikulturele musiekgroep, POSDUIF, se grootste doelwitte.

Die musiekvideo van hulle nuutste enkelsnit, LAAT VAL DIE WATER, is beslis die perfekte getuigskrif hiervan. 

Yzerfontein, in die Weskaap, dien as die perfekte agtergrond vir dié vrolike video, wat spog met die mooiste natuurtonele. 

Die konsep wat die groep uitbeeld wat as vriende wat saam toer, is saam met Kyle White beplan, wat die video verfilm en vervaardig het. 

“Nadat ons met Kyle ontmoet het om te gesels wat ons in gedagte het, het hy voorgestel dat ons die video so natuurlik as moontlik hou,” verduidelik sanger en kitaarspeler, Nick Jordaan.

“Dit wys al die mooi plekke wat ons sien op ons toer en sluit ook beeldmateriaal in van die lewendige optrede wat ons by ons eindbestemming doen.”

Alhoewel alles nie seepglad verloop het agter die skerms nie, het hulle dit baie geniet en is dit maklik om te sien hoe goed die groeplede, wat soveel van mekaar verskil, oor die weg kom. 

“As die video net een persoon anders kan laat dink oor die lewe en inspireer om meer verdraagsaam te wees, dan is ons werk gedoen,” sê hy. 

LAAT VAL DIE WATER, wat deur Jordaan en James Boland geskryf is en deur die groep beskryf word as ’n snit met ’n “lekkerluister-aanslag”, is baie goed ontvang deur die publiek en radiostasies regoor die land.

Volgens die musikante is hierdie ’n liedjie  van hoop en dra dit die boodskap dat moeilike tye makliker oorkom kan word deur in die toekoms van Suid-Afrika te glo, eerder as om negatiwiteit te help versprei.

“Daar is so baie negatiewe stories en mense wat uit die land uit vlug,” sê Jordaan.

LAAT VAL DIE WATER gaan daaroor om die lig te wees en ’n voorbeeld te stel vir die mense rondom ons. Ons woon in ’n pragtige land en moet saam staan, ongeag van wat ons ras, kultuur of geloof is. Almal staar dieselfde probleme in die gesig en kan saam daarby baat wanneer dit opgelos word.”

Die groep bestaan uit  lede van die gewilde musiekgroep RUBBER DUC – Jordaan, Amiel Gopal (baskitaarspeler), Leeroy Sauls (dromspeler) en Brendan Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler), voormalig Mi Casa saksofoonspeler, Kabeey Sax (Kabelo Seleke) en dan die toevoeging van Boland as voorsanger.

Boland verduidelik wat hierdie sesstuk-groep uniek maak: “Ons het almal verskillende musiekinvloede, wat wissel van Gospel tot Pop en Jazz, en dit alles word op ’n manier gekombineer om ’n unieke klank vas te vang.

Wat dit interessant maak, is dat ons almal verskillende voorkeure en idees het as gevolg van ons verskillende kulturele agtergronde. Ons is waarlik ’n multikulturele groep in elke sin van die woord.” 

LAAT VAL DIE WATER se musiekvideo is beslis iets waarby gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind en is die perfekte pasmaat vir die enkelsnit se positiewe, opbouende boodskap.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram