fbpx
Kyle Grant: Grown-Up Christmas list se musiekvideo is hier!

Kyle Grant: Grown-Up Christmas list se musiekvideo is hier!

Die uiters gewilde en talentvolle, Kyle Grant, het onlangs sy enkelsnit, GROWN-UP CHRISTMAS LIST, vrygestel.

Hierdie Kersballade wat in 1990 oorsee uitgereik is, is ’n inspirerende gesprek met Kersvader, vanuit ’n volwassene se perspektief. Die liedjie, wat deur Muse Productions se Hugo Ludik opgeneem en vervaardig is, is die sanger se eerste solo-enkelsnit na die nuus dat ADAM gaan ontbind.

“Die snit bevat ’n lys van goeie wense vir die mensdom,” verduidelik Kyle. “Ek het dit vir die eerste keer gehoor tydens ’n vakansie in die VSA toe ek ’n tiener was.

Ek onthou hoe baie ek deur die boodskap geraak is, maar het dit nog nooit op plaaslike radiostasies gehoor speel nie. Volgens my, is dit beslis ’n boodskap wat alle Suid-Afrikaners nodig het om op hierdie oomblik te hoor.”

Die enkelsnit word nou gekomplementeer deur ’n vrolike musiekvideo wat by die feestelike tema pas. Dit is in ’n ateljee opgeneem wat in Kersversierings getooi is.

“RM Production House was die perfekte plek om die video op te neem, omdat die ateljee rooi mure het en perfek by die Kersfeestema pas,” verduidelik hy.“Celia Coetzer het die dekor gedoen en die stel ’n aardse Afrika-gevoel gegee, met baie hout- en klei-elemente.”

Ryno Mans (RM Productions) was die kreatiewe brein agter die lens en Kyle het self die regie en redigering van die video hanteer. 

Alhoewel daar beslis baie ander Kersfeesvrystellings gedurende die feesseisoen gaan wees, glo Kyle dat GROWN-UP CHRISTMAS LIST goed ontvang sal word, omdat dit ’n eerlike lied is wat sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme. 

https://open.spotify.com/track/5m9OQu0N1akl7TFK9GvV9Z?si=S9gDFVwZTC2UJMH4A6gaPQ

Buiten vir die feit dat hy al vir sestien jaar in die musiekbedryf doenig is, is hy ook ’n suksesvolle verhoog- en televisieakteur. Hy het die hoofrol gespeel in die internasionale musiekproduksies, Dirty Dancing en High School Musical, asook in verskeie plaaslike verhoogstukke.

Op die kassie, het hy al rolle gehad in Egoli, Backstage en Getroud Met Rugby, om maar net ’n paar te noem. Sy grootste loopbaanhoogtepunt sover, was egter vir hom om ’n Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (SAMA) te ontvang.

Sy toekomsplanne, op ’n persoonlike vlak, sluit in om ’n gesin saam met sy vrou te begin. Professioneel sal hy graag wil aanhou sing en sy passie uitleef. GROWN-UP CHRISTMAS LIST is beslis ’n ongelooflike manier om hierdie nuwe hoofstuk in sy lewe af te skop.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram