fbpx
Christof Berg – WIL JY SIEN HOE LYK DIE HEMEL

Christof Berg – WIL JY SIEN HOE LYK DIE HEMEL

Die sanger Christof Berg is in die herfs van 1986 gebore en het grootgeword op Witkraal, ’n soutplaas in Suid-Vrystaat. Christof het tot op hede in meer as 40 lande wêreldwyd opgetree. Hy is tans terug op die plaas, om te werk aan `n vollengte Afrikaanse album wat in 2024 uitgereik word.

Aanhangers sal bly wees om te hoor dat die eerste enkelsnit, WIL JY SIEN HOE LYK DIE HEMEL, reeds beskendgestel is.

Christof vertel meer oor hoe hierdie uitsonderlike liedjie ontstaan het: “Terwyl ek in my kombuis in die Kaap gestaan en roer het aan my kerrie, skiet `n reëltjie my te binne. Ek skribbel dit toe vinnig neer: ‘Ek gaan soek toe na die hemel, want ek het jou verskriklik gemis, maar die pad lei my toe reguit na Witkraal toe.'”

“Ek was nie aanvanklik seker wat dit nou eintlik beteken het nie; soms daag n lied mos maar so geheimsinnig op, en dan moetn mens wag om te sien waarheen die jou verder lei. Plaas Witkraal is die anker van ons familie. Toe ek twee weke later weer daar op die plaas aankom, skryf die liedjie homself mettertyd stuk-stuk klaar. Die proses hiervan het my herinner aan verlies, spesifiek die dood, hoe dit ons verwar en soms laat voel of dit die einde is.”

Die lirieke van die lied verklap hierdie emosie, “Die winde in die panne het verkeerdom gewaai, die swaeltjies het verdwaal, hulle’t omgedraai, want jy’t huis toe gegaan om nie weer terug te kom, wat maak ek nou, o liewe son?”

Omdat WIL JY SIEN HOE LYK DIE HEMEL op Witkraal geskryf is, het Christof besluit dat dit van pas sal wees om die musiekvideo ook daar te verfilm. Die plaaswerkers van Witkraal was die tegniese span, opgedeel in spanne van kameramanne en klavierdraers. Dit was vir Christof belangrik om die vleuelklavier en toerusting na al die ikoniese plekke op die plaas aan te ry en die trekker en wa is gebruik. Op elke landskap van Witkraal het die klavier trots en reg gestaan vir aksie. Van die duine tot by die soutpanne, na die turksvyboorde, pekanneutlande en ten einde die plaas-ingang.

Witkraal is presies in die middel van die land geleë, net n paar kilometer van die amptelike geografiese middelpunt van Suid-Afrika. Die geboorteplaas word ‘n metafoor vir die diepste binneste van sy wese. Dit word duidelik deur die storie van dié nuwe enkelsnit WIL JY SIEN HOE LYK DIE HEMEL. Die die middel van die land simboliseer die hart van Suid-Afrika en die terugkeer na Witkraal is ook simbolies vir die terugkeer na sy moedertaal, sy eie mense en `n tuiskom na sy eie binneste.

Christof is opgewonde om die lied aan die land se mense bekend te stel. “Ek hoop mense geniet dit net soveel as wat ek dit geniet het om die lied te skryf en op te neem. Witkraal is n metafoor vir die hart, die binnekamer waarna die soeke uiteindelik lei en die vrae beantwoord word. 'Wil jy sien hoe lyk die hemel? Hiers dit nou: die hemel is binne-in jou.'”‘Christof is opgewonde om die lied aan die land se mense bekend te stel. “Ek hoop mense geniet dit net soveel as wat ek dit geniet het om die lied te skryf en op te neem. Witkraal is n metafoor vir die hart, die binnekamer waarna die soeke uiteindelik lei en die vrae beantwoord word. 'Wil jy sien hoe lyk die hemel? Hiers dit nou: die hemel is binne-in jou.'”

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram