fbpx
BURDEN – ‘n Rolprent deur Andrew Heckler

BURDEN – ‘n Rolprent deur Andrew Heckler

Kan mense regtig verander? ’n Treffende nuwe rolprent (BURDEN) deur die regisseur en akteur, Andrew Heckler, probeer om hierdie eeu-oue vraag te beantwoord en is nou beskikbaar op DSTV Box Office.

BURDEN is ’n donker verhaal wat die storie vertel van die Ku Klux Klan (KKK) se Mike Burden, wat in ’n huis vol haat, mishandeling en verdeeldheid grootgeword het. Die rolprent begin in 1996 toe Mike, saam met sy Klan-familie, die Redneck-winkel en KKK Museum in Suid-Carolina begin het, wat die plaaslike swart gemeenskap vreeslik ontstel het. Wanneer hy verlief raak op iemand wat streng gekant is teen sy rassistiese uitkyk, word hy gedwing om ’n keuse te maak – wat hom huis- en werkloos laat.

Kyk die lokprent hier

Teen alle verwagtinge, kry Mike hulp van sy aardsvyand, dominee David Kennedy, af. Die jongman se lewe verander vir altyd wanneer Kennedy hom inneem en die gemeenskap skok. Hierdie onwaarskynlike paar vorm ’n ware band en smee ’n pad van verlossing en vergifnis, soos wat hulle genadelose bendelede en skeptiese gemeentelede moet hanteer. 

Dit het Heckler meer as twee dekades geneem om sy debuut as regisseur te maak met hierdie ware verhaal, waarvan hy ook die draaiboek geskryf het – hy het die artikel oor die opening van die KKK-museum en -winkel in 1996 gesien. Die fliek is in 2018 vir die eerste keer by die Sundance-rolprentfees bekendgestel, waar dit die VS Dramatiese Gehoor-toekenning ontvang het.

Die storie word ondersteun deur ’n sterk rolverdeling. Garrett Hedlund beïndruk in die rol van Mike – ’n man wat onwillig is om te verander. Sy rustige, lomp voorkoms en geaardheid is die perfekte dekmantel vir sy voorliefde vir geweld en sy posisie in die bende.  Dan is daar Mike se gedugte teenstaander en teenpool.

Die eerware, David Kennedy, wat briljant vertolk word deur Forest Whitaker. Hy is ’n gesinsman, baie gelowig en glo daarin om die regte ding te doen. Die veelsydige Britse aktrise, Andrea Riseborough, speel Judy Harbeson – die jong vrou wat Mike se hart steel en help om sy siel te red.Hedlund, Whitaker en Riseborough word ondersteun deur akteurs soos Tom WilkinsonUsher Raymond en Crystal Fox.

Alhoewel BURDEN wys hoe lelik rassehaat is, gaan dit ook oor hoe liefde alles kan verander. Dit bied ’n ongelooflike kragtige boodskap – verandering is moontlik, maar dit neem moed en deursettingsvermoë om deur die moeilike oomblikke te kom.

Mick LaSalle, The San Francisco Chronicle se rolprentressensemt, som dit die beste op: “BURDEN is ’n rolprent oor integriteit en bied iets beter as net ’n sosiale gewete. Dit het ’n sosiale doel en as jy dit sien, sal jy iets leer.”

Die fliek word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en is nou beskikbaar op DSTV Box Office!

INTERNASIONALE SKAKELS
Facebook
Instagram
Twitter