Die Eindste sing van seisoene

Die Eindste sing van seisoene

Sedert die vrystelling van hulle debuut-album, GRYS, aan die einde van 2021 het die Gautengse rockgroep, Die Eindste, nog net van krag tot krag gegaan.

Nie net het hulle eerste twee enkelsnitte speeltyd op verskeie groot radio-stasies gekry nie, maar hulle musiekvideo is ook baie goed ontvang.

Nou is dié groep talentvolle manne terug in die kollig met die ’n splinternuwe enkelsnit wat net so opwindend is soos die nuwe begin waarvan hulle sing.

JY WAS NET BETER is ’n alternatiewe rocksnit uit die pen van hulle voorsanger André Faurie. Dit het ’n akoestiese folk-aanslag wat deur Ruan Pieterse, Ian Putter, André Faurie en Markus Roland Els opgetower is en deur Markus Els van Mark7Studios vervaardig is.

“Die lied gaan oor ’n nuwe begin en veranderinge wat in die lewe plaasvind. Seisoene word gebruik om hierdie veranderinge aan te dui. Daar word ook klem gelê op ’n nuwe begin met iemand in die skrywer se lewe,” verduidelik hulle oor die betekenis agter die lied. “Ons dink mense gaan hou van die vermenging tussen nuwe akoestiese folk-klanke en ons kenmerkende alternatiewe rock-aanslag.”

Die Eindste, waarvan die naam uit ’n gesprek tussen die groeplede ontstaan het, is in 2019 gestig toe ’n groep skoolvriende (André Faurie, Ruan Pieterse en Ian Putter) besluit het om saam musiek te maak as gevolg van hulle gedeelde passie vir Afrikaanse musiek waarby luisteraars kan aanklank vind.

Die groep het nog baie planne en drome vir die toekoms en tree tans soveel op as wat hulle kan. Hulle beplan ook om nog meer nuwe musiek vry te stel. Verder werk hulle aan ’n paar nuwe en opwindende projekte.

Om musiek en videos te maak waarmee luisteraars kan vereenselwig is vir Die Eindste baie belangrik. Met hulle nuutste vrystelling kry hulle dit beslis reg om op ’n treffende manier hulle boodskap oor te dra.

“Ons, as groep, werk altyd hard om iets nuut aan te pak wanneer ons musiek skryf. Met hierdie lied het ons probeer om elemente van verskeie genres in te sluit, met ’n brug aan die einde wat baie anders is as die res van die gevoel van die liedjie en hoop mense sal die uniekheid daarvan waardeer,” sluit hulle af.

JY WAS NET BETER is beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://linktr.ee/dieeindste

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook, Instagram