fbpx
Emma Ellis herinner jou aan die MOOI in die lewe.

Emma Ellis herinner jou aan die MOOI in die lewe.

Emma Ellis slaan gereeld gehore se asems weg met haar ongelooflike stem en die diepte van haar vertonings. Nou spog dié voormalige The Voice-deelnemer ook met ’n splinternuwe enkelsnit wat sy haar eie gemaak het.

Ek het besluit om MOOI van Elvis Blue op te neem. Persoonlik is dit een van my gunstelingliedjies met ’n positiewe boodskap – iets wat ons almal nou nodig het in dié tyd wat Covid-19 soos ’n sluipmoordenaar in die nag ons lewens kom omdolwe het,” sê Emma.

Emma se verwerking van MOOI het vir dié treffer ’n nuwe, vars baadjie aangetrek. “Ek wil graag met dié liedjie weer aan mense beklemtoon hoeveel ons het om voor dankbaar te wees – maak nie saak in watter posisie jy is nie, jy is altyd beter af as iemand anders,” vertel sy.

Ek sou ook graag ’n musiekvideo vir MOOI wou doen, maar dis nie nou moontlik nie,” sê sy. Musiekliefhebbers het Emma op The Voice leer ken nadat Karen Zoid hand opgesteek het om haar mentor te wees.

Dit was ’n oomblik wat niemand sal vergeet nie – Emma was so oorstelp nadat Karen omgedraai het dat sy die woorde van haar liedjie vergeet het. Karen het geen uitnodiging nodig gehad nie – sy het dadelik op die verhoog gegaan om Emma by te staan en al die mentors (op daardie stadium Bobby van Jaarsveld, Lira en Kahn Morbee) het omgedraai om Emma se mentors te wees.

Behalwe vir haar deelname aan The Voice is daar verskeie hoogtepunte in haar loopbaan waaraan sy kan terugdink. “Ek het ’n verhoog met Karen Zoid by die Atterbury Teater gedeel en was bevoorreg om drie van my eie liedjies, én MOOI, by die Van Coke-ateljees op te neem,” vertel sy.

Emma is tans besig met Maak My Famous en het ook die Top 48 gehaal. Die nuwe seisoen van Maak My Famous het op 29 April weer op kykNET afgeskop. “My grootste inspirasie vir die musiek wat ek skryf, is om mense te bemoedig en ek wil hê my musiek moet hulle laat besef hulle is nié alleen is moeilik tye nié.

En die belangrikste – dit raak altyd beter,” sluit Emma af. Die musiekvideo vir MOOI is 8 Mei om 11:00 deur JacarandaFM vrygestel en is te sien op YouTube.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram