fbpx
Esté Gross ft Len Muller skitter met nuwe enkelsnit, HEMELRUIM

Esté Gross ft Len Muller skitter met nuwe enkelsnit, HEMELRUIM

Esté Gross se talent ken geen perke nie. Sy is nie net ’n bekende omroeper en nuusleser nie, maar ook ’n suksesvolle programsamesteller en rubriekskrywer. Verder, is die veelsydige vrou ook ’n sangeres en liedjieskrywer. ’n Talent wat sy baie goed aangewend het met die skep van haar tweede enkelsnit, HEMELRUIM.

In die enkelsnit wat pas bekend gestel is, sing Len Muller saam met haar as gaskunstenaar. Dit gaan daaroor om die beste te maak van elke dag. “Elke dag is opnuut ’n kans om jou drome uit te leef,” sê Esté. “Jy moet wel geloof hê en self die manna gaan optel vir elke dag.”

Esté het die liedjie self geskryf, geïnspireer deur Eksodus 16 waar God manna uit die hemel laat reën het. “Ek het gedink aan hoeveel tyd verbygaan terwyl mense, deur vrees en moontlike teleurstellings uit die verlede, teruggehou word en dit as ’n verskoning gebruik om nie hulle drome uit te leef nie,” verduidelik sy. “Hy voorsien elke dag genoeg vir jou, jy moet net geloof hê om self buite toe te gaan en die manna (geleenthede) wat voorsien is vir jou op te tel en te glo dat daar môre ook weer genoeg vir jou sal wees.”

Alhoewel dit daarop gemik is om ander te inspireer, erken sy dat dit haar ook daaraan herinner om dapper en vreesloos te wees en om die lewe met geloof aan te pak. HEMELRUIM het ’n boodskap van volharding ten spyte van terugslae in die verlede en om aan te hou glo. ’n Boodskap wat ons nou nodig het.”

Len en Esté het ontmoet toe sy met hom in haar musiekreeks Hier en Anderkant die Blouberge, gesels het. Ek hou baie van die verwerking van ‘Sarie Marias’ wat hy saam met Stef Bos opgeneem het. Ek het hom gevra of hy sou belangstel om HEMELRUIM saam met my op te neem. Hy vind toe aanklank daarby en hier is ons nou,” sê sy. “Dit is baie inspirerend om saam met Len te werk. Hy is ’n uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer, met integriteit, hy is professioneel en pret om mee saam te werk!”

“Esté het my genader met hierdie pragtige lied en ek het baie daarvan gehou,” deel Len. Ek het baie hulp gekry toe ek begin het en daarom probeer ek elke geleentheid aangryp om ook ander kunstenaars te help wat begin.”

Vir Esté, is sing soos asemhaal. “My ma het in die aande, voor ek gaan slaap, vir my kitaar gespeel en gesing. Ek het op veertien reeds met sanglesse begin by my sangmentor, Erna Grimbeek. En op Universiteit formele musiek- en verdere klassieke sangopleiding ontvang,” vertel die sanger. In hierdie tyd het sy ook haar studies in Kommunikasie voltooi. 

Haar loopbaan as omroeper, nuusleser, programsamesteller en rubriekskrywer, was sover haar hooffokus. Maar haar passie vir musiek het nooit verdwyn nie en sy tree al vir meer as ’n dekade lank by funksies op. Nóú het sy besluit dat dit tyd is om ook meer aandag aan haar musiekloopbaan te gee.

Esté put inspirasie uit alles wat elke dag om haar gebeur en haar musiekinvloede is baie uiteenlopend. Sy het groot bewondering vir kunstenaars wat nie bang is om hulle unieke stempel in die bedryf af te druk nie. Buiten vir die geleentheid om saam met Len – wat bekend is vir sy trefferliedjie, Vrede, wat ook die temalied is van die sterbelaaide sitkom, Mense Mense – meen sy dat sy nog graag saam met Karen Zoid, Elvis Blue, Bard, Die Heuwels Fantasties, Anna Davel en die Stellenbosch Universiteitskoor wil werk.  

Fotokrediet: Fathom Media

Oor die jare, het sy heelwat loopbaanhoogtepunte behaal, aan talle musiekreekse gewerk en inspirerende Suid-Afrikaanse kunstenaars ontmoet. Haar reeks oor klassieke “crossover” musiek, Grensskuiwers 2017, is in 2018 verwerk in Woordfees-verhoogproduksie en daar het sy die as gasvrou opgetree en die verhoog as sangeres met Brandon October en Corlea Botha gedeel.

Haar reeks, Hier en Anderkant die Blouberge, was so gewild dat ’n heruitsending direk na die afloop van die program geskeduleer is op aanvraag van die publiek. Esté is ook al vir haar joernalistieke werk benoem vir vyf ATKV-mediaveertjies tussen 2014 en 2019. 

Die grootste les wat sy geleer het uit haar optredes en van ander musikante wat sy al ontmoet het, is dat ’n mens innoverend en veelsydig moet wees. Ek glo dat musikante en kunstenaars die veerkragtigste mense is wat ek ken. Ek bewonder hulle vir hoe vinnig hulle by hul omstandighede kan aanpas.”

HEMELRUIM is Esté Gross (Gross – Duitse uitspraak, sagte g, bv Ghrôss) se tweede enkelsnit. Haar debuut-vrystelling, LIG, is in 2019 uitgereik.

Die liedjie is nou op alle digitale platorms beskikbaar.  Laai dit hier af.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter, YouTube