fbpx
Harry Broersma – TYDELIK

Harry Broersma – TYDELIK

Die 22-jarige musikant, Harry Broersma, wil musiek skep wat betekenis dra en maak dan ook net só met sy debuutsnit, TYDELIK, wat pas vrygestel is.

Met Tydelik vertel hy die storie oor ’n vorige verhouding en die hoop wat hy gehad het dat die meisie haarself deur sy oë kon sien.

“Sy sou weet dat sy uniek is en uitgekies is om die beste weergawe van haarself te wees,” verduidelik Harry.

Volgens Harry wil hy ook met TYDELIK die boodskap benadruk dat enige iets wat oor jou pad kom, tydelik is.

“Jy is groter as jou omstandighede wat weer in ’n oogwink kan verander,” het hy verduidelik.

Hy beskryf homself as ’n reeks teenstellings. Volgens Harry is hy vol liefde én haat, hy is eenvoudig, maar ook kompleks. Laasgenoemde is ook duidelik hoorbaar in sy musiek.

“Ek wil hê mense wat na TYDELIK luister moet besef hulle is groter is as die duiwels wat hulle elke dag rond dra. In die lewe is daar ’n seisoen vir alles – van hartseer tot blydskap,” het hy bygevoeg.

Met dié enkelsnit kan hy ook sy eie hartseer omskep in iets wat verder as homself gaan. Dit is juis daarom dat luisteraars waarskynlik aanklank sal vind by die boodskap wat in die lirieke vervat is.

“Toe ek die liedjie geskryf het, het ek deur my eie seer gegaan. Nou deel ek graag ’n treffende popliedjie met musiekliefhebbers om hulle te herinner dat enige seer net tydelik is,” meen Harry.

Die musiekvideo vir TYDELIK handel oor die hede en verlede tyd.

“In die musiekvideo is ek in die hede en kyk ek terug na die goeie herinneringe van ’n verhouding. Daar was goeie oomblikke om te onthou, maar dit was net tydelik en daarom is die verhouding beeïndig,” verduidelik hy.

Deon Dee, gewilde vervaardiger en sanger en ook deel van Dee Graaff Productions, was die regisseur en vervaardiger van die musiekvideo, terwyl gesoute musikant en vervaardiger Ruan Graaff, van Dee Graaff Productions, die vervaardiging van die enkelsnit behartig het.

Kykers sal voel hulle is deel van die musiekvideo se storielyn en op ’n reis deur verskillende emosies geneem word

Harry het vertel dat as hy nie die passie vir sing gehad het nie, hy graag sy professie as ’n dokter sou wou voortsit.

“Ek wil altyd ander mense help en die wêreld ’n beter plek maak, maar ek voel deur my musiek kan ek ook mense se lewens verbeter,

“Ek wil deur my musiek hê mense moet onthou daar is ’n seisoen vir alles – hartseer én blydskap. As die son die heeltyd geskyn het, was ons in ’n woestyn,” het hy gesê.

En met Tydelik is Harry se gunstelingseisoen nou hier waartydens hy mense kan vermaak met sy musiek.

TYDELIK is nou op alle musiekstromingsdienste beskikbaar.

SOSIAL MEDIA

Instagram, TikTok, YouTube