fbpx
David Johnson – KOM DANS SAAM MET MY

David Johnson – KOM DANS SAAM MET MY

Die talentvolle sanger en akteur, David Johnson, wil mense inspireer om weer hoop in hulle harte te kweek met sy nuutste enkelsnit.

KOM DANS SAAM MET MY is ’n folk-popliedjie, uit die pen van Theunis Duvenhage, en praat oor die lewe gedurende, en na, inperking. Dit is David se vierde radio-vrystelling en beloof om aanhangers net soveel te beïndruk soos die vorige drie.

Die liedjie, wat deur Wicus Struwig vervaardig is, is ’n uitnodiging vir mense om weer die lewe te geniet nadat die inperking veroorsaak het dat soveel kosbare menslike kontak verlore gegaan het,” deel David, wat ook bekend is as Liam Willemse in Getroud met Rugby, oor die betekenis van die lied. “Ek geniet dit om ons land se stories te vertel deur musiek.”

’n Musiekvideo van dié snit word ook binnekort vrygestel.

KOM DANS SAAM MET MY volg kort op die hakke van sy vorige duet, Bring ’n Braai, saam met sy vrou – die bekende vermaaklikheidster en sanger, Bianca le Grange. Hulle het ook baie sukses behaal met Ek Baklei Vir Jou wat, onder andere, as die nommer een duet op Lekker FM aangewys is. Hierdie was vir hom ’n groot hoogtepunt in sy musiekloopbaan.

David, wat in George gebore is, se passie vir die vermaakbedryf het reeds in sy kinderjare begin. Hy het gereeld in die kerk gesing en verlief geraak op toneelspel toe hy in die kleuterskool die rol van ’n padda vertolk het.

Op hoërskool, het hy aan verskeie musiekteaterstukke deelgeneem. Vir drie jaar lank het hy sy liefde vir musiek verder uitgebrei terwyl hy by ’n musiekwinkel in Tygervallei gewerk het, waarna hy Musiekteater by die Universiteit van Kaapstad gaan studeer het.

Hy is bekend vir sy rolle in die gewilde sepies 7de Laan en Getroud Met Rugby. Die akteur was ook al te sien in musiekblyspele soos Blood Brothers, The Fantastics en The Rat Pack, waarin hy die rol van die legendariese Sammy Davis Jnr vertolk het. Verder het hy Malcolm X in die Market-teater se One night in Miami gespeel en is hy benoem vir ’n Naledi-toekenning vir Beste Akteur in ’n Hoofrol vir sy aandeel in die Market-teater se Yellowman.

Hy is fanaties oor oor kletsrym en hoe kunstenaars, soos Ready en POC, op ’n slim en ritmiese manier woorde aanmekaar weef en sal nog saam met Hemelbesem en Zuluboy wil werk in die toekoms.  Hy is ook een van die

 direkteure van DWB Productions en beplan hy om die rolprent, Geel Volla – wat hy in 2021 geskryf het – te vervaardig.

David is ‘n harde werker en ‘n opregte mens.  “Daar is ritme in alles wat ek doen. As ek ’n storie vertel, dra die musiek die gevoel,” sê hy oor sy eie musiekstyl. “Ek kan rock in jou taal, maar ek weet ook hoe om ’n Crooner-liedjie aan te vat.”

KOM DANS SAAM MY is nou beskikbaar op alle aanlynplatforms. Kry dit hier: https://davidjohnson.lnk.to/KDSMM

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook, Instagram