fbpx
Ruan Jordaan – VEILIG TUIS

Ruan Jordaan – VEILIG TUIS

In sy splinternuwe enkelsnit, VEILIG TUIS, sing Ruan Jordaan oor wanneer jy daardie één persoon ontmoet wat jou veilige tuiste word. Dié enkelsnit is pas vrystel as produk van die Droomdag-kompetisie waarin Ruan as wenner aangewys is.

Ruan is ook pas aangewys as een van die Top 16-finaliste in die tweede seisoen van Die Kontrak nadat Tarryn Lamb hom as een van haar deelnemers aangewys het.

“Dis so opwindend en nogals ’n bedrywige tydjie wat vir my voorlê met die vrystelling van VEILIG TUIS én Die Kontrak 2 verpligtinge,” het Ruan opgewonde vertel.

VEILIG TUIS is regtig ’n getuigskrif van my en my meisie se verhouding. Vir ons is dit baie belangrik om altyd te weet dat die ander een veilig is. Ons sal mekaar gereeld laat weet wanneer een van ons op die pad is, dat ons nog veilig is,” het Ruan vertel.

“Wanneer ons nie saam is nie, sal ons ook gereeld net kyk of die ander een nog veilig is. Dit is ook dubbelsinnig, want ons voel altyd veilig tuis saam met mekaar maak nie saak waar ons is nie,” het hy bygevoeg.

Volgens hom is dit juis dié liefde vir mekaar wat hul veilige tuiste bymekaar skep.

“Dit is presies waaroor VEILIG TUIS handel. Om daardie één persoon in jou lewe te hê wat alles soos huis, oftewel dan tuiste, laat voel. Om selfs veilig tuis te voel in ’n onveilige werêld, maar nie bang te wees om dit saam daardie persoon aan te pak nie,” het hy verduidelik.

VEILIG TUIS het ’n pop-aanklank en is geskryf deur William Wolfgang Loots, Roux Cloete en Ruan.

Die Droomdag-kompetisie is in 2021 deur gewilde sanger en liedjieskrywer, William Wolf, aangebied en deel van die prys was ’n enkelsnitvrystelling.

“Ek glo die publiek sal van die liedjie hou want dis so lekker om na te luister en heelwat ligter as van my vorige musiek wat ek al vrygestel het. Liefdesliedjies is gewoonlik ook ’n baie relevante onderwerp in mense se lewens, so ek glo mense sal kan vereenselwig met die gedagte van toe hulle hul ware liefde die eerste keer ontmoet het,” het Ruan vertel.

Volgens Ruan wou hy juis gehad het mense moet die liedjie enige plek kan luister – van in die motor to langs die braaivleisvuur.

“Dis daai regte tipe cheesy lovesong wat mense net weer in ware liefde kan laat glo,” het hy gesê.

’n Musiekvideo word ook saam met die enkelsnit vrygestel en vir Ruan was dit ’n hoogtepunt om almal vir wie hy lief is, deel te kon maak daarvan.

“My ouers was nog altd daar om my te ondersteun. Hulle het my al sien huil as gevolg van teleurstelling in die industrie en ook al gedeel in my klein deurbrakies,” het Ruan gesê.

Sy meisie en vriende kan ook in die musiekvideo gesien word.

“Die musievideo se storielyn handel oor twee jongmense wat mekaar in ’n oomblik vind en besef dat hulle die res van hulle lewe saam met mekaar wil spandeer. Daar is egter ’n paar struikelblokke en so bietjie humor voordat al hierdie gebeur,” het Ruan vertel

Vir Ruan is musiek sy passie hy wil graag nog baie mense deur middel daarvan bereik. Dis veral om liedjies te skryf wat baie bevredigend is en hy het vertel dat hy dit na baie groot hoogtes wil neem om vir die bekendste kunstenaars ook te skryf.

Wanneer Ruan nie skryf en optree nie, woeker hy ook as entrepreneur met sy besigheid, Eternity Leathercraft, wat leerprodukte vervaardig en versprei.

“Daar was al ’n redelike paar hoogtepunte in my loopbaan waarop ek baie trots is! Ek was een van die kunstenaars by Afrikaans Gaan Global wat vanuit ‘n klomp inkrywings gekies is. Dit was ’n ongelooflike ervaring om saam met al die groot kunstenaars by Sun City op te treef,” het hy vertel.

Ruan het ook in 2021 ’n duet, MEER AS GEREED, saam met Bouwer Bosch vrygestel en dié geleentheid is beslis op sy lysie van hoogtepunte.

“Hierdie oomblik, waar ek VEILIG TUIS as wenner van die Droomdag-kompetisie kan vrystel, is ook ’n hoogtepunt en voorreg,” het hy vertel.

Vir Ruan is nederigheid baie belangrik.

“Daar is altyd iemand beter en meer talentvol as jy en ook altyd iemand wat dit nét so graag wil hê soos jy. Mens moet seker maak jy is die een wat harder werk, maar gun ander ook die geluk en sukses wanneer dit verdien word,” het hy verduidelik.

Vir nou fokus Ruan op VEILIG TUIS se vrystelling en deelname aan Die Kontrak 2. Dié realiteitsangkompetisie word deur die gesogte platemaatskappy, Coleske Artsist Group, aangebied en die wenner sal dan ook aansluit as kunstenaar van dié maatskappy.

Demi Lee Moore was as wenner van die eerste seisoen aangewys en het al self vertel dat dit vir haar die begin van al haar sukses in die musiekbedryf was.

Met VEILIG TUIS sal almal ook weer besef waar Ruan baie tuis is – as kunstenaar op kitaar en agter mikrofoon. Veilig Tuis is nou op alle musiekstromingsplatforms beskikbaar.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, TikTok, YouTube