fbpx
Jaenette Jacobs is die eerste wenner van VIA en Apprentesses SA se Ster-Status!

Jaenette Jacobs is die eerste wenner van VIA en Apprentesses SA se Ster-Status!

Die wenner van VIA (kanaal 147) en Apprentesses SA se realiteitsprogram, STER-STATUS, is op 10 Augustus 2019 aangekondig tydens ’n glansryke rooitapyt-geleentheid by die Atterbury Teater in Pretoria.

Alicia du Preez, Colleen Fourie, Danielle von Graszouw, Jaenette Jacobs, Jahn-Marè Bezuidenhout, Jean-Marie Viljoen, Jenine Grobler, Nonkululeko Indlovukazi, Michélle Mostert, Siyabonga Natalene Makhubo, Tash-Lynne Duimpies en Theresho Makwiya is op 21 Julie 2019 as die twaalf finale finaliste gekies by die Indaba Hotel in Johannesburg.

JAENETTE JACOBS, ’n gesondheids- en verkoopsbestuurder van Pretoria, is nie net amptelik gekroon as die eerste wenner van STER-STATUS se wonderlike vrouebemagtigingsprojek nie, maar neem ook die leisels oor as aanbieder by Luré Delport (wenner van Apprentesses SA 2018) wat hierdie jaar die aanbieder van die program was. Buiten vir die geleentheid om haar kolligdrome plaaslik en internasionaal (in New York) te verwesenlik, het dié pragtige brunet ook weggestap met ’n hele rits ongelooflike pryse van PNB, Aesthetica, SL Lasers, Guvon Hotels & Spas, David Konrad Acting Academy, BODYtwenty, Kyna Consili, OKgrl, The Dental Spa, Alila Professional Makeup en vele meer.

“’n Droom is ’n prentjie van wat moontlik is. Jy moet ’n sterk hart en doelgerigte denke hê om dit om te skakel in ’n realiteit. Jy gaan val, opstaan, foute maak en daaruit leer. Wees mens, wees jouself,” sê dié Goue-wenner oor wat sy uit hierdie wonderlike ervaring geleer het.

Getroud met Rugby se Jenine Grobler het tweede (Silwer-toekenning) geëindig en sal vir die wenner instaan waar nodig, terwyl Michélle Mostert as Brons-prinses uit die stryd getree het.

Apprentesses SA 2018 se liefdadigheidswenner, Simoné Wilson, het op haar beurt weer die leisels aan die rooikop-dieetkundige, Alicia du Preez, oorhandig. “Ware skoonheid begin die oomblik wat jy jouself is, want jy kan nie ’n impak op die wêreld hê as jy presies soos dit is nie,” sê sy.

Jahn-Marè Bezuidenhout en Danielle von Graszouw is onderskeidelik as tweede en derde prinsesse in hierdie kategorie aangewys.

Ander titels wat gedurende die aand toegeken is, sluit in:

Theresho Makwiya as SterPersoonlikheid;
Noni Indlovukazi as SterAmbassadeur;
Jaenette Jacobs as SterBeïnvloeder (Influencer);
Alicia du Preez as wenner van die Debutant-prys;
Jenine Grobler as wenner van die Portefeulje-prys; en
Natalene Makhubo het ’n kursus gewen van Mink Lashes.
Belinda van Wyk is ook vereer vir haar bydrae tot die platform. 

STER-STATUS is die eerste van sy soort op Suid-Afrikaanse bodem en fokus daarop om jong vroue (millenniërs) aan die vermaakbedryf bekend te stel deur middel van werkswinkels, opleidingsessies en verskeie uitdagings om hulle voor te berei op ’n suksesvolle lewe in die kollig.

“Dit was vir my ’n groot voorreg om deel te wees van hierdie reis. Een ding wat vir my uitgestaan het en altyd sal bybly, is dat almal ’n storie het. Om elke meisie se verhaal te hoor, hulle beter te leer ken en te ontdek wat hulle motivering is, het ons dikwels in trane gehad,” deel Tarien Cronjé, stigterslid en uitvoerende direkteur van Apprentesses SA wat elke fase van hierdie kompetisie saam met die dames meegemaak het.

Verskeie bekendes, waaronder Sinki Mlambo, Leandie du Randt, Deon Groot, Francois Olivier, David Konrad, Amorie Pearson en Pamela Niemand, en uitgesoekte besighede was deel van die program en talle organisasies, soos CHOC, Kosmos Care Centre en Gracia, het gebaat by die liefdadigheidsaspek daarvan.

STER-STATUS word elke Maandag om 18:00 op VIA uitgesaai. Moenie elkeen van die twaalf finaliste se ongelooflike kolligreis misloop nie! 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram

Webblad: www.apprentesses.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui