fbpx
Wesley West – multi-instrumentalis muso wil mense gelukkig maak met sy musiek

Wesley West – multi-instrumentalis muso wil mense gelukkig maak met sy musiek

Wesley van der Westhuizen, aka Wesley West, is nie die verlore boetie van Kanye West nie, maar het sy verhoognaam gekry tydens sy universiteitsdae nadat hy sy van noodgedwonge moes verkort om op ‘n manuskrip te pas.

Dié onafhanklike kunstenaar beskryf sy musiek as elektroniese folk musiek. Hy glo dat sy musiek luisteraars gelukkig en hoopvol laat voel en dat dit die kreatiewe grense skuif deur die vermenging van verskillende style.

Die talentvolle musikant skryf sy eie liedjies en bespeel ook self al die instrumente wat gebruik word. As ‘n man immers sewe instrumente bemeester het, wil jy aan elkeen ‘n geleentheid gun om gehoor te word.

Wesley se hoofinstrumente is klavier en kitaar, maar hy het deur die jare ook geleer om die dromme, baskitaar, trompet, mondfluitjie en melodica te bespeel. “Dit gee my baie kreatiewe vryheid om te doen wat ek wil, sodat ‘n liedjie kan klink soos wat ek wil hê hy moet klink,” vertel Wesley.

Wanneer Wesley nie besig is met skryfwerk, optredes of klavierlesse nie, vervaardig hy musiek vir ander kunstenaars, waaronder Bijou Bijou, en komponeer hy musiek vir TV-produsies of films.

Wesley se eerste enkelsnit Little did he know is in Junie bekendgestel en hy werk reeds aan sy volgende vrystelling. Sy doelwit is om een snit per maand vry te stel, wat glad nie onbereikbaar lyk vir dié bedrewe Johannesburger nie.

Wesley vind inspirasie uit verskeie genres en musikante, soos Matthew Mole, Bouwer Bosch, Jónsi, Flume, Mura Masa, Jon Hopkins en Jon Foreman. Hy vertel dat hy nog hard daaraan werk om sy eie unieke klank te ontwikkel en te verfyn.

Sy raad aan jong kunstenaars is om eerlik gelukkig te wees met waar hulle hul nou bevind en nie om status en volgelinge na te jaag vir skyngeluk nie. “Ons dink dan soms dat as ons hiérdie status of hiérdie aantal volgelinge bereik het, sal ons gelukkig wees. ‘n Grammy of ‘n miljoen volgelinge gaan jou nie gelukkig maak nie.”

Wesley se musiek is beskikaar op alle aanlyn musiekplatforms. Vir besprekings kan hy direk gekontak word op Instragram of per e-pos by [email protected]

Sosiale Media: “Wesley West Music”.

Facebook, Instagram, Soundcloud, Twitter, YouTube

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui