fbpx
Namibiese ster stel eerste Afrikaanse enkelsnit vry!

Namibiese ster stel eerste Afrikaanse enkelsnit vry!

Joharetha beskryf haar eerste solo-enkelsnit, 40 DAE, as ’n eerlike, moderne country-popverwerking met ’n geestelike boodskap. Dit pas perfek by haar unieke stem, wat uitgeknip is vir hierdie genre.

Dit is die eerste vrystelling vanaf haar opkomende album waarmee sy oor ’n paar maande nog meer musiekharte gaan verower as dié wat sy reeds in die afgelope tien jaar wat sy op die verhoog is, verower het. 

40 DAE gaan daaroor om nie tou op te gooi wanneer dinge binne ’n verhouding gekompliseerd raak nie, maar om aan te hou veg vir liefde.

Hierdie inspirerende treffer kom uit haar eie pen en die sangeres is van mening dat luisteraars van alle ouderdomme hierby aanklank sal vind.

40 DAE is simbolies oor wat in die Bybel staan van die tydperk wat nodig is om regtig ’n verandering in jou lewe te maak,” verduidelik sy. “Dit beteken vir my baie, want ek glo elke woord wat ek sing. Ons is vanjaar ses jaar getroud en het al meer as sewe sakke sout saam opgeëet. Maar ons is lief vir mekaar en as dinge moeilik raak, sal ek ook die raad in my liedjie volg. Ek voel dat God die woorde vir hierdie enkelsnit vir my gegee het.”

Die musiekvideo is reeds aanlyn uitgereik en vul die bestaande storielyn in die lirieke aan met die emosie wat die kunstenaar weergee wanneer sy dit self sing.

Gernot Fritze, Rainer Von Hatten en Zanele Mzinyati van Nautilus Studios is verantwoordelik vir die opname en vervaardiging van die snit en video.

“Nadia van den Heever het ons gehelp beplan en om die perfekte plek te kry. Die video is by Villa Maji in Swakopmund verfilm. Dis prentjiemooi daar en ek wou die emosie van die liedjie vasvang teen hierdie skoon oop agtergrond,” verklap die musikant.

Joharetha Nel, wat in Pretoria gebore is, woon tans in Namibië saam met haar man en vierjarige seuntjie. Haar liefde vir sing is op ’n jong ouderdom gebore en sy vermaak gehore reeds vanaf haar kleuterskooldae.

Sy is ’n groot dromer en sonder haar debuutalbum uit as een van die grootste hoogtepunte van haar loopbaan sover. Die brunette is al vir tien jaar amptelik doenig in die musiekbedryf, maar is nog haar hele lewe lank besig om aan haar musiekvernuf te timmer en spog daarom met ’n Graad 5-musiekkwalifikasie van Unisa. 

Deur die jare het sy verskeie suksesse behaal, waaronder die vroulike hoofrol in die teaterstuk – The Carnival Variety Show – by die Cadillac Theatre & Nightclub in Pretoria, ’n eersteplek in die Musiek & Liriek-radiostasiekompetisie en ’n derde plek in die The Voice of Namibia-sangkompetisie.

In 2016 is sy aangewys as Mevrou Namibië en kon sy so waardevolle kontakte in die vermaaklikheidsbedryf opbou én ’n verskil maak in haar gemeenskap.

Omdat sy en haar man en mede-musikant, Len Nel, agt jaar terug hulle eie suksesvolle musiekfees – die Walvisbaai Oester Fees – begin het, het hulle al die voorreg gehad om die verhoog met verskeie groot kunstenaars te deel, soos Steve Hofmeyr, Jakkie Louw, Die Broers, Pieter Smith, Ray Dylan, Dozi, Charlize Berg en Jo Black.

Hulle is ook bevoorreg genoeg om elke naweek regoor Namibië besig te wees met optredes, funksies en feeste, soos die Outjo Wildsfees, en voel geseënd dat aanhangers hulle so getrou ondersteun.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, bestuur sy ook haar eie besigheid, Joharetha Nel Makeup and Photography, en geniet sy dit om die mooi kant van die lewe uit te beeld.

As sy nie kon musiek maak vir ’n lewe nie, sou sy graag ’n aktrise wou word omdat sy haarself vreeslik inleef in ander mense se stories en baie empatie het met haar medemens. “Mense, flieks en persoonlike omstandighede insprireer my wanneer ek skryf en my gedagtes slaap nooit nie,” deel sy.

Die sangeres het groot bewondering vir plaaslike sangers soos Riana Nel, Corlea Botha, Liezel Pieters en Jo Black en meen dat internasionale sterre soos Chris Stapleton, Carrie Underwood, Celine Dion, Miranda Lambert, Blake Shelton, Little Big Town, Kelsea Ballerini en Keith Urban almal ’n invloed gehad het op haar musiekstyl.

Joharetha glo dat jy hard moet werk vir dit wat jy wil hê in die lewe en dat jy nooit moet opgee op jou droom nie. Sy het nog baie planne vir die toekoms en hoop dat luisteraars hulleself sal vind in die stories van haar musiek. 40 DAE is maar net die begin van ’n lang, kleurryke loopbaan wat op hierdie talentvolle kunstenaar wag.

Kry 40 DAE hier:

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Twitter, Instagram, YouTube

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: [email protected]
Webblad: www.starburstmusic.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui