Nuwe Quentin Krog-rolprent, ANDER MENS, hierdie naweek op die grootskerm!

Nuwe Quentin Krog-rolprent, ANDER MENS, hierdie naweek op die grootskerm!

Vanaf 23 Augustus 2019 is Bennie FourieMarlee van der MerweFrank OppermanJames BorthwickAndré WeidemanLaudo LiebenbergTim TheronJana CilliersLika BerningClyde BerningNeels van Jaarsveld en ander te sien in die bekroonde regisseur, Quentin Krog, se splinternuwe aksiebelaaide rolprent – ANDER MENS – wat beloof om fliekgangers tot op die einde op die punte van hulle stoele te hou. 

Krog, wat bekendheid verwerf het vir sy werk aan lokettreffers soos Ballade vir ’n EnkelingVir die Voëls en Thys & Trix, asook televisiereekse soos Die Boekklub 1, Sterlopers 1High Rollers en Die Byl 2 werk al vir verskeie jare in die rolprentbedryf en was een van die stigterslede van Firestorm Productions in die Kaap, die begin van ’n baie suksesvolle loopbaan. Nadat hy dié maatskappy verlaat het om terug te trek Gauteng toe, het hy baie vinnig naam gemaak en word hy deesdae beskou as een van die mees gesogte plaaslike rolprentregisseurs. 

ANDER MENS vertel die spanningsvolle verhaal van Daniël Niemand (Bennie Fourie), een van die lewe se slaansakke, wie se omstandighede onherroeplik verander nadat sy vrou (Roeline Daneel) hom los vir hulle huweliksberader (Tim Theron) en ’n skelm werkgewer sy saai bestaan heeltemal omvergooi. Voordat hy sy oë kan uitvee, word hy nie net deur die polisieman, Johannes Ackermann (James Borthwick), as lokaas gebruik om dié krimineelbaas vas te trek nie, maar word hy ook die slagoffer van ’n hele reeks misverstande. Alhoewel dié chaos tot groot tragedie lei, help dit hom ook om ’n belangrike persoonlike oorwinning te behaal.

Die fliek word aangebied vanuit die perspektief van Luitenant Erica Kruger (Marlee van der Merwe), van die getuiebeskermingsprogram in die Kaap, en is gebaseer op die gewilde Nieu-Seelandse skrywer – Zirk van den Berg – se topverkoperroman, Nobody Dies (later vertaal as ’n Ander Mens), wat in 2014 bekroon is met die kykNET-Rapportprys in die rolprentkategorie.

“Alhoewel die basiese storielyn dieselfde is, verskil die film drasties van die boek,” verklap Krog oor dié draaiboekverwerking wat hy met behulp van Sean Robert Daniels, Herman Binge en Frannie van der Walt aangepak het. “Die gebeure en agtergrondstories van die karakters is aangepas om beter by die formaat en tydsduur van ’n rolprent te pas.”

Die meeste van die aksiebelaaide gebeure speel af teen die prentjiemooi berglandskap van Du Toitskloof in die Kaap. Omdat die film ook grense verskuif in terme van styl en genre op plaaslike bodem, is daar gebruik gemaak van dieselfde tipe kameralens as vir die 70’s-treffer, The Godfather, heel gepas vir dié moderne aksieriller.

Marche Media, ’n bekende Kaapse rolprent- en televisieproduksiemaatskappy, is die trotse vervaardiger van hierdie fliek. Hulle is veral bekend vir uiters suksesvolle projekte soos die kykNET-reekse WaterfrontDie Spreeus, Die Byl 2, Dwaalster, Boer soek ’n Vrou en Mooimaak, asook internasionaal-bekroonde plaaslike vollengte films, waaronder Nobody’s Died Laughing (2015), Johnny Is Nie Dood Nie (2016), Kanarie (2018) en Die Seemeeu (2018).

“Hierdie rolprent is ’n verhaal van ongemaklike, gewone karakters wat ongewone, verrassende wendings in hulle lewens ervaar. Dit word vertel met tong-in-die-kies geweld, humor en aksie, maar ook met ’n ernstige ondertoon, wat ’n lewensles aan die gehoor voorhou. Dit is hoofsaaklik net goeie onpretensieuse vermaak, maar die boodskap is duidelik dat as jy nie tevrede is met jou lewe nie en ongelukkig is, jy iets daaraan moet doen! Moenie wag dat die noodlot jou in ’n doodloopstraat druk nie,” sê Herman Binge, vervaardiger en een van die direkteure van Marche Media.

Bennie vertolk die rol van die bleeksiel, Daniël, wat sy hele lewe lank deur die mense rondom hom geboelie word. Dié geliefde akteur en komediant, wat veral bekend is vir sy rolle in Vir die VoëlsVuil WasgoedMooirivier en Hotel, het sestien kilogram opgetel vir sy eerste hoofrol en meen dat dit baie gehelp het om hom in die skoene van sy karakter te plaas.

“Baie van die slegte goed wat met Daniël gebeur, is die goed wat hy toelaat om te gebeur en een van sy grootste uitdagings is om op daardie punt te kom wat hy beheer vat van sy lewe,” verklap Bennie. “Dit was ’n moeilike karakter om te speel, omdat hy dinge net so goedsmoeds aanvaar en ek dit op so ’n manier moes vertolk dat hy nie vir kykers irriterend raak omdat hy vir die grootste deel van die prent nie opstaan vir homself nie.”

Getroud met Rugby en die verhoogproduksie van Aspoestertjie se Marlee van der Merwe, wat bekendheid verwerf het vir haar rolle in Pretville en Sterlopers, was agt maande swanger toe sy genader is om die rol van Erica Kruger, ook ’n reeksmoordenaar met haar eie agendas, te speel. Nie net moes sy hard oefen om van haar ekstra babagewig ontslae te raak nie, maar ’n choreograaf moes haar ook behoorlik oplei om die vegtonele so oortuigend as moontlik te vertolk.

“Die fisiese aspek van die fliek was vir my ’n wonderlike ervaring en ’n lekker uitdaging. Ek het iets van myself ontdek in die proses, naamlik dat ek baie sterker is as wat ek ooit gedink het,” vertel Marlee. “Quentin is ’n regisseur wat ek met enige beeldmateriaal vertrou. Ek voel baie veilig met hom op stel en hy hanteer akteurs altyd met soveel waardigheid.”

Alhoewel Frank Opperman (Orkney Snork Nie, Gautêng-alêng-alêngDis Koue Kos, SkatOuboet & Wors en Dominee Tienie) gewoonlik die rol speel van ’n doodgoeie grapjas, is hy hierdie keer die bendeleier, Frank. 

“Omdat ek altyd die idioot speel, het ek dit baie geniet om vir ’n slag die skurk te wees. Frank is so mal soos ’n haas en hou van bloed. Hy is ’n klassieke rolprentkarakter,” verklap Opperman oor die kans om uit sy gemaksone te tree.

Tussendie bloed en konsternasie deur, sal die kyker beslis gekonfronteer word met baie stereotipes, maar ook gou besef dat ANDER MENS dieper temas soos afknouery, selfbeeld, respek, verhoudings, familiebande, geweld en misdaad aan die kaak stel, wys dat selfs die mees geharde persoonlikheid ook soms weerloos kan wees én dat ’n Niemand op die ou end tog kan ontwikkel in ’n Iemand wat kan opstaan vir homself. Die rolprent beloof om gehore met tye te laat skaterlag as gevolg van spitsvondige dialoog en donker humor, asook te laat naels kou soos wat die gebeure ontvou en hulle besef dat dit elke mens se verantwoordelikheid is om sy eie identiteit in die lewe te bepaal.

“Die erns van die dramatiese gebeure op die grootskerm word uitgebalanseer deur opregte, moeitelose komedie, wat dit lekker maak om na te kyk,” sê Krog oor wat ANDER MENS laat verskil van die gewone aksieprent. “Dit is die tipe rolprent waarin gehore verlore kan raak en wat hulle terselfdertyd ook sal laat lag en naelskou.”

Lys van teaters:

Besprekings:   https://www.vibescout.com/za/movies/ander-mens-2019

ANDER MENS is vervaardig in samewerking met kykNET Films, M-Net Movies en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Twitter, Instagram

Leave a Reply