fbpx
Moenie dat ‘n ou vlam jou ‘n tweede keer brand nie – sê Heuning

Moenie dat ‘n ou vlam jou ‘n tweede keer brand nie – sê Heuning

Heuning, wat bekend is vir hulle kenmerkende country-styl is terug met ‘n splinternuwe enkelsnit, OU VLAM, wat beskryf kan word as ‘n kontemporêre popliedjie met ‘n Country aanslag. Hierdie snit is geskryf deur Carla Oberholzer, wat ook die treffer DROME in 2015 vir hulle geskryf het.

Die liedjie handel oor die tipiese gevoel wat die meeste persone al ervaar het tydens ‘n liefdesteleurstelling of mislukte liefdesverhouding: kies jy om daarmee aan te gaan, of beweeg jy aan.

“Ons hou daarvan om musiek te maak waarmee mense kan vereenselwig of wat hulle kan voel as hulle daarna luister, ” vertel Jeanette.

“Ons albei is voorstanders van tweede kanse maar soms moet ‘n mens versigtig wees om nie jou kop te veel teen dieselfde klip te stamp nie,” sê sy

OU VLAM is vir seker ‘n liedjie wat die hartsnare gaan roer en Carla Oberholzer se unieke skryfstyl stel weereens nie teleur nie.    

Die enkelsnit is reeds vroeër vanjaar vrygestel en nou kan aanhangers ook die musiekvideo hiervan geniet.

Heuning hou daarvan om hulle aanhangers te betrek by hulle musiek. “Ons het probeer om soveel video’s as moontlik in die eindproduk te gebruik waar van ons ondersteuners ‘n kers doodblaas – baie simbolies van die lirieke,” vertel Hansie opgewonde.

OU VLAM is die derde vrystelling vanaf hulle nuwe album waaraan daar tans kliphard gewerk word. Ander enkelsnitte op die album is MAATSTAF VIR MY HART, wat in April 2018 uitgereik is en DIE LIED WAT SKREE wat in Oktober 2018 uitgereik is.

Albei hierdie snitte is uitstekend ontvang en het gepronk op trefferparades van verskeie radiostasies en televisiekanale.

Heuning, wat bestaan uit Jeanette Pretorius en Hansie Roodt, het bekendheid verwerf vir hulle unieke, moderne country-popstyl wat aanklank vind by oud en jonk.

Die groep se selfgetitelde debuutalbum is in 2012 uitgereik en was onmiddellik ’n treffer onder jonk en oud. Nie net het dit in 2013 ‘n Ghoema-toekenning vir Beste Country-album en ‘n Huisgenoot Tempo-benoeming vir Beste Nuweling opgeraap nie, maar ook talle radiotreffers opgelewer, waaronder AS EK VAL, BIETJIE LANGER BLY, DROME SKREE en EK WIL MET JOU DANS.

Talle van hul musiekvideo’s is vandag nog op die kassie te sien. Die vrystelling van hulle album, DROME, in 2015 het vir hulle die geleentheid gegee om by die Crystal Palace in Bakersfield, Kalifornië, te gaan optree.

Heuning se grootste doelwit is om mense se harte aan te raak met hulle musiek. Albei lede se passie vir musiek kom van kleins af en hulle geniet elke oomblik daarvan.

OU VLAM beloof om van hulle beste werk nog te wees.

Die enkelsnit is tans op iTunes, Google Play en talle ander elektroniese platforms beskikbaar:

https://open.spotify.com/artist/4YwwOAGZASIPhvk3J5k6Mj?si=5AnzUakrTxWUpMC_1M5r0g

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Twitter, Instagram, YouTube

BESPREKINGS

E-pos: [email protected]

PUBLISITEIT &  BEMARKING:

Jeanette PretoriusEpos: [email protected]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui