fbpx
Scott Engelbrecht – jy sal my nie glo as jy nie self luister nie

Scott Engelbrecht – jy sal my nie glo as jy nie self luister nie

Suid-Afrika het lanklaas ‘n kinderster gehad en boonop een wat kan sing soos ‘n nagtegaal! Scott Engelbrecht is slaggereed om met sy kinderskoene diep spore te begin trap in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, want hy doen dit reg.

Om mee te begin het hy professionele sangopleiding ontvang onder die begaafde leidingvan Malie Kelly en Yulia Patrascoiu. Dan is daar ‘n groot familie en Lydia Winchester in die prentjie.

Scott is tans tien jaar oud en is die tweede-oudste van vier seuns. Alhoewel hy nog met laerskooltuisonderrig besig is, is hierdie jongman ver by sy tydgenote verby.

Nadat hy die Paul Potts rolprent op sesjarige ouderdom gekyk het, het hy die Italiaanse woorde nagemaak en prettig gaste en vriende vermaak. Duidelik kon ‘n geoefende oor tussen die grappies deur hoor – hier is gróót talent!

Daarna het Scott begin sing saam met Yulia Patrascoiu, ‘n professionele Russiese Operasangeres. Deesdae doen hy nie net somme en leer lees en skryf nie, maar hy spog al met ‘n repertoire wat van Russies- tot Italiaansemusiek insluit.

Malie Kelly, ‘n bekende in die musiekwêreld het klein Scott onder haar vlerk geneem en hierdie jongman het pas sy eerste album vrygestel.

Neil Engel was aan die stuur van die produksie en nou spog hul met ‘n album met sterk klassieke verwerkings, goeie opnames wat die rugsteun is vir Scott se seunsopraanstem wat gemaklik in die ‘treble voice range’, nootvas jou vervoer met sy soet, suiwer stem.

SONDER JOU gaan beslis ‘n groot gunsteling op radiostasies wees. Hierdie jongman pak gemaklik liedjies aan wat groter en baie ouer as hy is. Treffers in die operakringe soos O MIO BABBINO CARO wat Callas bekend gemaak het en FUNICULI FUNICULA gaan harte steel. AVE MARIA pak jy nie met kaalhande aan nie.

Scott vloei gemaklik deur die note en emosies. HOW GREAT THOU ART en OH HOLY NIGHT gee die album ‘n gewyde einde. Binnekort gaan sy musiekvideo van die bekende JERUSALEM ook op die plaaslike TV- kanale te sien wees.

Scott se ‘held’ is die ontslape Gé Korsten – maar ek wil amper so ver gaan om te sê; – ‘n nuwe Gé is gebore.

Sy stout-seuntjie-glimlag en soet stem gaan harte steel so ver hy gaan. ‘n Nuwe ster is in ons midde.

SOSIALEMEDIA

Facebook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui