fbpx
Janie Bay – Die Dansvloer

Janie Bay – Die Dansvloer

‘n Splinternuwe enkelsnit getiteld DIE DANSVLOER, uit die sangeres en liedjieskrywer Janie Bay, se eie pen het pas die lig gesien.

Dié ritmiese popsnit is oorgehaal om die voete te laat jeuk en die dansvloer te laat kook. DIE DANSVLOER is geïnspireer deur ‘n kennis van Janie se onlangse enkelreis na Europa.

“Ek het van daardie storie inspirasie gekry en sommer ‘n vakansieromanse daaroor geskryf,” sê Janie, wat talle treffersnitte agter haar naam het.

Janie is bekend vir liedjies soos Amper Daar, Die Heelal, Jammer en Ek Glo Nog In Jou saam met Danie Reënwolf.

“Ek wou hierdie keer regtig net ‘n prettige liedjie skryf en uitreik waarop mense kan dans en dit kan geniet waar ook al hull is. Die doel van die liedjie is om die luisteraar goed te laat voel van kop tot tone en vir ‘n rukkie na ‘n ander wêreld weg te neem.”

Janie glo die liedjie sal aanklank vind by luisteraars wat in die oomblik net wil laat gaan en wil goed voel. “Mens weet nooit, dis hoekom ek voel mens moet net doen wat vir jou reg voel in jou binneste.”

Die musiekvideo vir DIE DANSVLOER is in die Kaap geskiet en Janie het self aan die stuur van die regie en vervaardiging gestaar. Damian van Reenen het as kinematograaf opgetree.

“Hy verstaan my idees en ons albei hou daarvan om buite die boks te dink,” sê Janie.

Die musiekvideo beeld die gevoel van die liedjie uit.

“Die gedeeltes waarin ek verskyn het pragtige beligting en blinkers oral. Dit skep ‘n regte nagklub-gevoel. Ons het selfs blinkers voor op die kamera geplak om ‘n sekere effek te skep.”

Twee bekende Suid-Afrikaanse akteurs vertolk die hoofrolle in die video.

Meer oor Janie

Janie Bay is van Kaapstad afkomstig, maar is tans in Pretoria woonagtig. Met ‘n boeiende stem wat gehore bekoor, het Janie haarself as ‘n gerekende musikant op die Suid-Afrikaanse musieklandskap gevestig.

Sy is twee keer vir ‘n South African Music Award (SAMA) benoem en het ook internasionale musiekpryse ingeoes.

Sy het in 2016 by Warner Music South Africa aangesluit, maar is sedert Januarie 2022 ‘n onafhanklike kunstenaar.

Die eerste album wat sy deur Warner Music opgeneem het, Miscellany, het in 2018 ‘n SAMA-benoeming ontvang. Wag Vir Jou, een van die enkelsnitte vanaf dié album wat saam met Hunter Kennedy opgeneem is, het die no. 1-posisie op verskeie treffersparades en radiospeellyste ingeneem. Amper Daar, Die Heelal ft. Early B, Jammer, Ek Glo Nog In Jou met Danie Reënwolf, en My Lief was wegholtreffers en het almal nommer 1-posisies op verskeie klankgolwe ingeneem.

Janie se vierde enkelsnit vanaf Miscellany, Can’t Be The One, het ‘n Internasionale Goue Toekenning ontvang vir “Best Music in a Music Video” by die “Queen Palm International Film Festival” in Palm Springs, Kalifornië, USA wat deur gegaan het na die jaarlikste toekennings in Julie 2019.

Haar musiek is ook te hoor in ’n paar Suid-Afrikaanse rolprente soos Mooirivier en Vir Altyd. Sy het ook haar eie weergawe van die bekende lied, You Are My Sunshine, opgeneem vir die plaaslike lokettreffer, Stroomop. Haar en Danie Reënwolf se treffer Ek Glo Nog In Jou kan ook in Donna-lee Roberts & Ivan Botha se film Beurtkrag gehoor word.

Janie het nog altyd groot gedroom en beplan om nog baie liedjies uit te reik. Daar is ook ‘n paar plaaslike en internasionale samewerkings wat op pad is. Sy wil ook graag in ‘n rolprent speel en die aanbieder wees van ‘n televisieprogram.

Die hoogtepunt van haar loopbaan tot dusver is egter iets waaroor sy nog geheimsinnig is. “Ek het geskryf en opgeneem saam met een van my gunsteling-kunstenaars ter wêreld. Dit is nog nie uitgereik nie – hopelik hierdie jaar!”

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram