fbpx
Fransien Scott – STORM IN MY HART

Fransien Scott – STORM IN MY HART

Almal wat al die voorreg gehad het om ’n lang en betekenisvolle verhouding te hê, sal saamstem dat dit nie sonder uitdagings en probleme kom nie. Dit is dan ook die tema van Fransien Scott se nuutste enkelsnit.

STORM IN MY HART, wat uit haar eie pen kom en deur Helmut Meijer en Lukas de Beer vervaardig is, is a romantiese ballade oor ’n verhouding wat swaargekry het oor die jare en waarin daar ’n behoefte bestaan vir vrede en rustigheid. Dit ondersoek die diep band en verbintenis wat oor tyd ontstaan en verduidelik hoekom hierdie eienskappe nooit onderskat moet word nie.

“Ons leef in ’n tyd waarin mense nie meer gemotiveerd is om te veg vir of deur te druk vir mekaar nie. Die alternatief bleik makliker en meer kommervry te wees en die ontbinding van betekenisvolle verhoudinge soveel makliker kan geskied as voorheen. Ons menslike, selfsugtige aard dwing ons soms om binne ons eie belang op te tree en onsself (al is dit net vir ’n seisoen) en ons eie behoeftes voor die van ander te plaas. Vandag is dit te maklik om ons goed op te pak en uit te stap sonder veel oorweging of waarde wat geheg word aan ons beloftes of verpligtinge teenoor mekaar nie,” deel Fransien.

“Ons is geneig om ter beskerming van ons harte en menswees in ons arsenaal te skuil sodat ons voorbereid is vir die geveg maar die lied doen ’n beroep op ons om eerder ons wapens neer te lê… vir mekaar, vir vrede. Dié lied benadruk die belangrikheid van onselfsugtigheid en opoffering van die dinge wat belangrik is vir ons sodat ons die wat naby aan ons is, met selfloosheid en liefdevolheid kan benader,” verduidelik sy.

’n Emosionele musiekvideo is saamgestel om die boodskap van die lied en komplementeer en wys ’n paartjie wat langs mekaar beweeg, maar in verskillende wêrelde. Die konsep is saamgestel deur ’n span talentvolle Suid-Afrikaanse kunstenaars en die video is verfilm by 401 Rozendal in die Kaap, waar een spasie gebruik is om twee verskillende wêrelde te skep. “Ek het gevoel dat dit belangrik is om uit te beeld hoe ons so naby kan wees, en tog so vêr uitmekaar kan groei wanneer ons besig raak met ons eie dinge. Deur ’n abstrakte ruimte te skep met behulp van dekor en goeie beligting, dink ek ons kon met baie min, die intense emosie en hartseer van gebroke verhoudinge vasvang.” 

Die musiekvideo word uitgereik op 30 Januarie 2023. Kyk intussen na ‘n kort lusmaker hier.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Fransien Scott – DIE WIND HET KOM WAAI