fbpx
Jannie du Toit – Vader van die Afrikaanse kunste.

Jannie du Toit – Vader van die Afrikaanse kunste.

Sedert 1971 hou Jannie du Toit homself besig met Afrikaanse musiek.  Tussen 1972 en 1977 was hy lid van die sanggroep Trilogie en skop sy sololoopbaan af in 1979.

In 1981 word hy genader deur prof. Chris Lamprecht by die Universiteit van Pretoria waar hy saam met ander help skryf aan musiekblyspele.

Gedurende 1986 en 2011 het hy en die befaamde Christa Steyn permanent begin saamwerk.  In hulle tyd saam tree hul in meer as twintig lande op.  Hul skryf saam musiek en verhoogproduksies waarvan die meer bekendes insluit: Blik en Snaar, Skadu’s teen die muur, De Kleine Man en Jannie en die Tannie.

Hul laaste verhoogproduksie (Brel in Brooklyn) word in 2010 saam met Laurika Rauch en Sergio Zampolli opgevoer.

Daar is legio liedjies wat uit sy pen vloei, en sluit bekende name in soos: Gee ons vrede, Vlieg hoog en Ons twee.

Na die afsterwe van Christa Steyn het Jannie du Toit aan `n hele klomp konserte gewerk.  Sy mees onlange een is “Die Eggo van jou oë” wat tydens die woordfees in 2019 bekendgestel is.

https://open.spotify.com/album/4wmX8v1LMlrCGYIegvh4IG?si=SoNmulmaRweHjFRJy_tEXg

Dat Jannie du Toit `n veelsydige kunstenaar is, is ongetwyfeld.  Hy sing, speel kitaar en klavier, skryf liedjies en reken “nonsens praat” is ook een van sy vele talente.

Hy het sy kinderjare meestal in Balfour en Grootvlei deurgebring en het sy hoërskooljare in Menlopark in Pretoria voltooi.

Sy aanslag tot kleinkuns en kabaret laat hom uitstaan bo talle wat saam met hom die speelveld deel.  Hy kry inspirasie by veral volksliedjies, hallelujah en ook pop- en rockmusiek wat dateer uit die sestigs en sewentigs.  Een van sy groot liefdes sluit in Nederlandse kleinkuns.

As jy hom vra oor sy gunsteling kunstenaars kom name soos Donovan Leitch en Amanda Strydom op.

Hy skryf graag lirieke wat betekenis dra en probeer dan verskillende style van musiek uit – dit wat die lirieke komplementeer is dit wat werk.

Deur sy loopbaan het hy baie dinge beleef maar vertel graag hierdie as een wat vir hom uitgestaan het:

“Laurika en ek het rondom 1989 in die Oos-Kaap ‘n optrede gehad waar ek ‘n soldaat in ‘n kroeg was. Ons het albei op kroegstoeltjies gesit en ek het op haar skoot gelê met my kop. Die verhoog was wankelrig en ek het in paaiemente van haar skoot af en grootliks ook aan die agterkant van die verhogie af geval tot net my skoene uitgesteek het. Dit het die gehoor laat skaterlag, maar net toe alles tot bedaring kom het ek die volgende liedjie begin sing: “Ons sal maar aangaan” is die titel en eerste woorde van daardie lied. Toe is dit chaos”

Jannie du Toit berei tans voor vir “Kunstefees in die Kleine”.  Die fees sluit drie van sy huidige produksies in wat alles op een dag te siene is by die Atterbury Teater op 14 Julie 2019.  Die produksies word ook daardie dag vir TV opgeneem.  Die fees begin om 12:00 die middag.

Op die program is:

  • 12:00 Oesjaar
  • 15:00 Bonjour Monsieur Brel
  • 18:00 Kiekies – Lucas se liedjies

Kaartjies is te koop aanlyn by iTickets.

Jannie du Toit is `n veteran in die Afrikaanse mark.  Met `n reeks toekennings en musiek wat jou sal laat lag en huil bly hy steeds een van ons land se top kunstenaars.

Jannie se raad aan jong kunstenaars is, “Toets jou talent nie alleen op familie en vriende nie en besluit dan of jy passievol genoeg is om vir die res van jou lewe musiek te maak, desnoods nie naastenby finansiëel so welvarend te wees soos die ouens wat saam met jou LLB gekry het nie.”

Ons beste wense vergesel hom vorentoe!  Dankie Jannie du Toit vir jou aandeel in die vorming van baie mense se verstaan en waardering vir die kunste.

Om in kontak te kom met Jannie du Toit:
Facebook
[email protected]

Indien jy vir Jannie du Toit wil bespreek:

Jopie Koen
[email protected]
072 460 5568

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui