fbpx
Jennifer Zamudio – HARTSWATER

Jennifer Zamudio – HARTSWATER

Die bekroonde sangeres Jennifer Zamudio het geen bekendstelling in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nodig nie en sy het haarself al keer op keer bewys as ‘n veelsydige Kunstenaar.

As ‘n sukselvolle onafhanklike kunstenaar in ‘n bedryf wat so vinnig groei en verander, het Jennifer dit reggekry om in voeling te bly met haar gehoor en haar aanhangers. Haar jongste, en 14de album, HARTSWATER, is weereens ‘n bewys hiervan.

In haar 23 jaar as professionele kunstenaar is sy al talle kere beloon met verskeie Musiek Toekennings en ook die meer onlangse nominasies vir SAMA 2022 in die kategorieë “Beste Kontemporêre Album” en “SAMPRA Artist of the Year”.

Die album Hartswater bevat veertien stewige snitte met ‘n goeie balans wat strek oor genres van pop, kontemporêr en selfs ‘n bietjie Country.

Die grootste verrassing op die album, is die twee puik snitte wat Jennifer self geskryf het – die titelsnit HARTSWATER en ook DIS WAT JY DOEN. Dis die eerste keer in amper vyf jaar wat Jennifer haar verskuilde talent as liedjieskrywer weer navore bring. Hierdie twee snitte het beslis die potensiaal om spoedig gewild te word.

Die twee treffer enkelsnitte wat sy in 2022 vrygestel het, WEERKAATS en JY HET MY VERGEET is ook ingesluit op die album.

Hierdie twee liedjies het talle Nommer 1 posisies op Trefferparades behaal. Jennifer het tydens die 2023 Afri-Indie Musiektoekennings weggestap met die Toekenning “Best Pop Single” vir die liedjie JY HET MY VERGEET.

Met die sukses van JY HET MY VERGEET, het Drienie Kelly weer ‘n liedjie vir Jennifer geskryf getiteld MAAK MY LOS en dit is puik vervaardig met ‘n polsende dans ritme en het ‘n moderne aanslag wat beslis die dansvloere sal vol kry met oud en jonk.

Die liedjie DANS MET DIE MAAN is geskryf deur die sangeres René van den Berg, en word gevoelvol uitgevoer en pas Jennifer se alt stem perfek.

Jennifer wou nog altyd die treffer NET VOOR DIE STORM KOM opneem en haar eie weergawe daarvan gaan beslis aftrek kry en mens kan die hoendervleis gevoel nie keer nie.

Op 03 Maart 2023 het Jennifer die enkelsnit KOM TERUG vrygestel, as voorloper vir die album vrystelling, en luisteraars sal die snit erken van 14 jaar terug toe dit die eerste keer die lig gesien het. Hierdie liedjie pronk reeds op verskeie Radiostasies se Trefferparades en is ook reeds ‘n baie gewilde snit wat aandag geniet op verskeie sosiale media en digitale platforms.

Jennifer het al verskeie suksesvolle duette opgeneem, en die nuwe duet van die immergroen “country” liedjie, I’D LOVE YOU TO WANT ME saam met Stephan Visagie is een wat verseker uitstaan. Jennifer het tydens ‘n optrede die liedjie spontaan saam met Stephan begin sing, en dit was so gewild dat sy nie anders kon as om dit op die album in te sluit nie.

Die album word verder afgerond met haar eie weergawes van ‘n paar gewilde goue oues wat nog altyd van Jennifer se persoonlike gunstelinge was. Hierdie liedjies komplementeer Jennifer se warm stem en laat haar gevoelvolle vertolking tot volle reg kom.

Christie Schutte (Startrax Recording studios) was aanstuur van die produksie wat hy meesterlik vervaardig het.

Jennifer se gedagtes oor HARTSWATER:

“Daar was ‘n lang skryf droogte vir my en toe dit tyd raak om die album bymekaar te sit, was dit ‘n gegewe dat ek skouer aan die wiel gaan moet sit en self begin skryf. “Dis wat jy doen” het my ‘n redelike tydjie besig gehou en dit was ‘n groot oomblik toe ek besef dat al die elemente wat vir my daar moet wees, wel daar is en dat die liedjie klaar is!

Met HARTSWATER was dit net mooi die teenoorgestelde. Ek het onlangs gaan optree in Hartswater en soos ek uit die dorp uitry sien ek die naam op ‘n groen padteken en ek dink by myself…wow dit is eintlik so ‘n mooi woord. Wat is HARTSWATER, vra ek myself. En net daar is die saadjie geplant vir die lied wat ek in twee dae klaargeskryf het.

Ek is baie opgewonde om weer van my eie skryfwerk vry te stel maar ek is net so opgewonde oor die pragtige musiek wat ander skrywers vir my geskryf het vir die album. Met dit alles saam is ek netso bly dat ek uiteindelik my weergawes kon opneem van ou gunstelinge. Hierdie gaan ‘n lekker reis wees – ek kan nie wag nie”

HARTSWATER sal vanaf 28 April 2023 op digitale platforms beskikbaar gestel word.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram