fbpx
Jong aktrise help opkomende akteurs en draaiboekskrywers

Jong aktrise help opkomende akteurs en draaiboekskrywers

Dit is nie altyd vir opkomende akteurs en draaiboekskrywers maklik om ’n voet in die deur te kry en hulleself in die toneelbedryf te bewys nie.

Die bekende vermaaklikheidspersoonlikheid, Melissa Massyn, wil graag haar nuwe verhoogproduksie gebruik om vir jong talent ’n platform te gee waar hulle nie net meer oor die toneelbedryf kan leer nie, maar ook die kans sal kry om voor groot gehore op te tree.

“Dit is vir my baie belangrik om, as ’n kunstenaar, altyd besig te bly en te skep, wat die hoofrede is hoekom ek hierdie produksie begin het. Ek sien baie uit daarna om deel te wees van ’n span mense wat glo in toneelspel en om jong akteurs en draaiboekskrywers touwys te maak oor wat dit vat om so ’n toneelstuk – van begin tot einde – op die planke te bring,” verduidelik sy.

Melissa is die hoofskrywer, regisseur en een van die hoofkarakters in hierdie splinternuwe teaterstuk wat in die Kaap geskep en opgevoer gaan word. “Die konsert kombineer toneelspel, sang en dans en ons gaan op Saterdae repiteer,” deel die aktrise. “Tans is ons besig om die teks te finaliseer, waarna ons met oudisies gaan begin. Vir eers sal dit net in die Kaap opgevoer word, maar die plan is om later deur die land te toer. Daar lê egter nog baie werk voor.”

Volgens dié veelsydige kunstenaar, gaan ’n videograaf ook die proses op kamera vasvang en beplan sy om dit as ’n webreeks uit te saai op haar eie YouTube-kanaal.

Belangstellende akteurs, dansers of sangers wat oudisies wil aflê kan hulle inligting deurstuur na

[email protected]

Melissa is ’n bekende plaaslike aktrise, televisiepersoonlikheid, videograaf, sosialemediaspesialis, grafiese ontwerper, skrywer, seremoniemeester en motiveringspreker. Sy werk al sedert 2011 in die vermaakbedryf en het bekendheid verwerf vir haar rol as Susan in The Film Factory se fliek, Hoofmeisie. Sedertdien was sy ook te sien in Agent 2000 (2014), die SABC 2-reeks Erfsondes (2012 en 2017), Rudi Massyn se kortfilm Tithe (2013), die webreeks Chasing Joburg (2018), talle verhoogproduksies waaronder Grease en verskeie televisieadvertensies. Dié veelsydige ster doen ook gereeld stemwerk vir radio-advertensies, is die redakteur van Corpus Christi Church en besit haar eie dramaskool – Melissa Massyn Drama Academy

Alhoewel Melissa nog haar hele lewe lank op skoolvlak toneel gespeel het, het haar groot deurbraak gekom toe sy as dertienjarige deur ’n regisseur raakgesien en die rol van Susan in die Afrikaanse tienerfliek, Hoofmeisie, aangebied is. Nege jaar later, sonder dié een-en-twintigjarige dit steeds uit as een van haar loopbaanhoogtepunte. “‘Hoofmeisie’ het definitief vir my ’n begin gegee. Daarsonder sou ek dalk nie besef het wat ek met my lewe wou doen nie. ‘Erfsondes’ was ook ’n lekker uitdaging en ek is absoluut verlief op my karakter, Katie”, vertel sy. Om saam met Leon Schuster te werk was ook vir haar ’n baie groot voorreg.

Hierdie talentvolle brunet het naby die see grootgeword op ’n klein dorpie in KwaZulu-Natal. Deesdae woon sy so tussen Johannesburg en Kaapstad en geniet sy dit om beskikbaar te wees waar sy nodig is. Sy kom uit ’n baie kunstige familie uit en vertel dat sy van laerskool af haar broers gedwing het om saam met haar toneelstukke in die motorhuis op te voer. Verder is sy ook ’n kranige digter, iemand wat dit geniet om nuwe vaardighede aan te leer en het sy ’n groot hart vir diere en menseregte.

Om ’n suksesvolle loopbaan te hê, vat harde werk en die regte persoon wat bereid is om ’n kans op jou te waag. Net soos die regisseur destyds in Melissa Massyn se talent geglo het, wil sy graag ook in iemand anders se toekoms belê. Met haar nuwe toneelstuk gaan sy nie net opkomende sterre ontwikkel en blootstelling gee nie, maar gaan sy ook vir die wêreld ’n nuwe kant van haar vernuf as skrywer, regisseur en aktrise wys.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Youtube:  www.youtube.com/c/melissamassyn

Instagram: @melissamassynactress

Ondersteun asb. hierdie jong aktrise en deel hierdie met jou lesers, luisteraars, kykers en volgelinge.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui