fbpx
Joshua na die Reën – Stel twee enkelsnitte vry

Joshua na die Reën – Stel twee enkelsnitte vry

Joshua na die Reën , die multi-bekroonde musikant wat pas twee Afri-Indie musiektoekennings ( Beste Manlike Kunstenaar en Beste Afrikaanse Liedjieskrywer ) gewen het, verstaan presies hoe om musiek met harte te laat praat.

Met die vrystelling van sy twee nuutste enkelsnitte, WANDEL en VLIEËRS , verower hy nie net opnuut die harte van sy bewonderaars met sy sielvolle lirieke nie, maar bewys hy ook dat sy werk net beter word met tyd.

WANDEL, ’n pop-ballade uit sy eie pen, gaan oor hom en sy vrou, Danél. Omdat dié so ’n persoonlike lied is, glo die sanger dat dit sal aanklank vind by ’n wye gehoor aangesien dit met ’n brose plek in die hart praat.

Danél skep vir my ’n spasie van aanvaarding en genesing; daar is niks wat ek nie vir haar kan sê nie. Ek is dankbaar vir ’n pad saam met haar, wat voel soos om te wandel deur woude, berge en deur riviere met die geluid van die wind deur die bome en die son se strale wat sag op die grond neerlê,” verduidelik hy.

Sy tweede enkelsnit, VLIEËRS , sluit mooi by dié tema aan en gaan oor die vryheid en konneksie wat daar in ’n verhouding kan wees.

Die doel van hierdie ballade, wat hy saam met Liani Reynolds geskryf het, is om mense te inspireer om mekaar – binne ’n verhouding – die spasie te gun om te droom en hulleself te wees, sonder dat die konneksie verlore gaan.

Ek onthou dit was ’n reënerige someraand op ons plaas. Liani het by ons gekuier, want ons was besig om aan ons albei se albums te werk! Laat die aand, het ons besluit om ’n liedjie saam te skryf oor die mooi atmosfeer wat ’n mens in verhoudings met ander kan ervaar,” deel die liedjieskrywer. 

“Die beeld van ’n vlieër het opgeduik, en dit was gepas vir die snit. Selfs al vlieg ’n vlieër doer ver in die lug is hy steeds gekoppel aan die persoon wat die toutjie vashou op die grond. Dit is die vryheid en avontuur wat ’n mens in verhoudings kan hê.”

Beide liedjies vorm deel van sy nuutste album, Someraarde , en volg in die voetspore van vorige suksesvolle vrystellings, insluitend Arende , Sterrenet , Voshaarnooi Vir Altyd Die Wêreld Binne My , en vele meer, wat ongelooflik goed ontvang is.

Joshua na die Reën , oftewel Jacques de Villiers, het in 2014 naam gemaak met sy selfgetitelde debuut-album wat talle toekennings gewen het. Sedertdien het hy al verskeie suksesvolle radiotreffers uitgereik en die verhoog gedeel met van die land se gewildste musikante. Hy was ook in 2019 deel van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond , saam met sy vriende en mede-musikante, Lizandra Winter, Len Muller, Kaleidoskoop, Leon Gropp en Liani Reynolds.

In 2021 het hy en Simoné Roets ook kragte saamgespan in die duet, Ongerep , wat steeds oor die radio gehoor kan word.

Wanneer hy nie musiek maak nie, geniet hy dit om te oefen, pa te wees en tyd in die natuur deur te bring. Inperking het hom geleer om nie te ver vooruit te beplan nie, en eerder daarop te fokus om die beste te maak van elke geleentheid wat oor sy pad kom.

Alhoewel dit ongewoon is om twee liedjies op een slag vry te stel, wou die musikant graag hê dat mense albei van sy gunsteling-snitte gelyktydig moes hoor. “Dit is nie noodwendig radio-treffers nie, maar dit was nog nooit my hooffokus nie. As skrywer en musikant, wil ek graag hê dat die publiek al die kante van my musiek en menswees moet leer ken,” sluit hy af.


WANDEL en VLIEËRS is beide op sy album, Someraarde , beskikbaar. Kry dit hier: https://go.raindust.co/store/category/music-downloads/sub/joshua-na-die-reen?r=jdv


SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Twitter, Instagram
Webblad: www.jndr.co.za