fbpx
KLANKGOLF tref Suid-Afrikaanse musiekmark

KLANKGOLF tref Suid-Afrikaanse musiekmark

Wat gebeur wanneer ’n solokunstenaar en musiekgroep bymekaarkom om saam musiek te maak? KLANKGOLF, ’n splinternuwe, kontemporêre musiekbeweging, ontstaan.

KLANKGOLF kombineer die uitsonderlike talent en ondervinding van die musikant, Carla van Wijk en die akoestiese musiekgroep, Victor Bravo (Weco van Bastenen Jopie Pienaar).

Die drie beplan om hulde te bring aan die legendes van die hede én die verlede, maar wil ook nuwe lewe blaas in die Suid-Afrikaanse (en veral die Afrikaanse) musiekmark.

“Ons vertoning is besonders omdat dit ’n gesonde balans handhaaf tussen oorspronklike liedjies en gewilde treffers. Mense kan uitsien na kwaliteitmusiek deur talentvolle musikante,” sê Carla, die enigste roos en mede-voorsanger van die groep. “Daar gaan iets wees vir elkeen se smaak en ons sien uit daarna om lekker saam met gehore te sing en kuier.”

Dié passievolle trio kom almal uit die Vaaldriehoek en het mekaar in plaaslike musiekkringe ontmoet. Hulle is baie opgewonde oor die geleentheid om vir die eerste keer op ’n gestruktureerde wyse saam te werk. KLANKGOLF se eerste toer skop binnekort af en beloof om ’n onvergeetlike produksie te wees.

“Om saam met vriende en musikante te werk vir wie ek soveel bewondering en respek het, maak my opgewonde en ek sien uit daarna om die eindresultaat met almal te deel,” sê Weco, mede-voorsanger van KLANKGOLF. 

KLANKGOLF glo dat musiek ’n universele taal is wat direk met die hart praat. Juis daarom is dit die hooffokus van die groep se werk.

Die treffende manier waarop hulle bestaande verwerkings aanpak, nuwe materiaal skep en verskillende klanke (elektriese kitaar, klavier, baskitaar, ritmekitaar en meer) kombineer, sal nie net ’n plesier wees vir elke oor nie, maar ‘n blywende indruk op musiekliefhebbers laat.

“Goeie musiek moet jou hart raak en dit is wat ons anders maak. Die liedjies wat ons kies, is dieper en ons pas die klank aan om ’n meer treffende en emosionele boodskap deur te gee,” verklap Jopie, die meesterbrein agter die kitaar en baskitaar, oor wat gehore van hulle konserte kan verwag.

KLANKGOLF kombineer ’n hele rits oorspronklike werke (deur Carla en Victor Bravo), asook ’n wye verskeidenheid bekende kuiermusiek wat beloof om enige luisteraar tevrede te stel.

TOERBESONDERHEDE:
Datum: 6 tot 12 November 2019 
Vertonings:
Outsiders B&B, Nieu-Bethesda – 6 November 2019 – 19:00 tot 23:00
La Dolce Vita, Oudtshoorn – 7 November 2019 – 20:00 tot 23:00
Locals Pub & Grill, Grootbrak – 8 November 2019 – 18:30 tot 22:00
Caspita Mediterranean Restuarant, George – 10 November 2019 – 12:00 tot 15:30.

BESPREKINGS:
Annelien van Basten
Sel: 082 863 6817
E-pos: [email protected]

SOSIALMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui