fbpx
Dokter toor met hartsnare

Dokter toor met hartsnare

Die hart is die orgaan wat bloed deur ons are pomp, wat die suurstof neem na elke sel in ons liggaam. ‘n Orgaan waarsonder lewe onmoontlik is. Die hart is nie net fisiek ‘n noodsaaklikheid nie, maar kan ook metafories ‘gebreek’ word deur die liefde.

Wanneer die hart fisiek probleme gee, het jy ‘n chirurg nodig. Maar wanneer emosies hom breek, woorde van genesing deur middel van ‘n liedjie, ‘n skrywer of ‘n sanger. En hier kom twee wêrelde bymekaar wanneer ‘n hartchirurg nie net elke kamer van die hart ken nie, maar ook daaroor kan sing!

Wilhelm Lichtenberg is ‘n Kardiotorakale Chirurg in sy privaatpraktyk in Kaapstad. Hierdie talentvolle chirurg het kragte saamgesnoer met die internasionaal bekroonde sanger en liedjieskrywer, Stef Bos om ‘n nuwe verwerking van TAAL VAN MY HART op te neem.

Dié lied is enkele jare gelede deur Stef Bos self opgeneem, maar hierdie aangrypende nuwe verwerking deur Riaan Steyn gee ‘n unieke gestalte aan ‘n lied wat klop met passie, deernis, eerlikheid en selfondersoek.

Dr. Wilhelm Lichtenberg

Hier kom twee wêrelde bymekaar. Twee aparte genres. Een van ‘n man met ‘n rasperstem en vlaamse aksent. Die ander ‘n glashelder, suiwer, klassieke tenoorstem wat ontmoet en verenig. Naatloos verweef met elegante klassieke strykersbegeleiding en die besielende klanke van die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugkoor. Die eindproduk laat die musikale bloed nog beter vloei, en laat die genesende harmonie vand die musiek in jou hart insypel.

As jy na die passie in sy stem luister, hoor jy ‘n man wat die hart van alle kant ken. Dr. Wilhelm kan nie net jou hart se probleme oplos nie, maar hom ook aanraak met sy suiwer stem wat vloei en sweef soos die selle in jou are.

Sy vader ‘n gesiene lid was van die regbank en ‘n beskermheer van die kunste, het hom van ‘n vroeë ouderdom aangemoedig om ook met sy musiektalent te woeker. Hy het tydens sy studentejare trompet in die Vrystaatse Jeug- en SUKOVS-somfonieorkes gespeel. In Kaapstad het hy vyf jaar gelede met sanglesse begin by die befaamde mezzosopraan Violina Anguelov.

Dié gebore Vrystater het sy MBChB in Geneeskunde behaal aan die Universiteit van die Vrystaat. Daarna gradueer hy in 2006 met ‘n meestersgraad in Kardiotorakschirurgie vanuit die Christiaan Barnard Departement aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het ook onlangs ‘n nagraadse sertifikaat in Regsgeneeskunde aan dieselfde universiteit behaal.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui