fbpx
Kunstefees in die Kleine – Jannie du Toit lewer verfynde wyn met 48 oesjare op sy kerfstok

Kunstefees in die Kleine – Jannie du Toit lewer verfynde wyn met 48 oesjare op sy kerfstok

Die afgelope naweek het Jannie du Toit 48 jaar in die musiekbedryf gevier met sy eie Kunstefees in die Kleine by die Atterburyteater in Pretoria, in samewerking met Mont du Toit wyne. Ongeveer 60 liedjies uit die boonste rakke het tydens die verloop van die middag se drie vertonings die gehore betower en gesorg vir ‘n nostalgiese reis deur die afgelope halfeeu.

Foto: Verskaf

Oor die afgelope twee dekades was Jannie betrokke by talle verhoogproduksies en het hulde gebring aan sy helde en vriende soos Koos Dup, Jules de Corte, Boerneef, Jacques Brel, Lucas Maree en veral Christa Steyn, saam met wie hy vir 21 jaar gewerk het.

OESJAAR, BONJOUR MONSIEUR BREL  en KIEKIES – LUCAS SE LIEDJIES het konsertgangers op hul voete gehad en Jannie onder luide toejuiging erken vir die besondere musikale bydrae tot musiek in Suid-Afrika.

Deur die jare het Jannie met groot sukses 20 albums vrygestel. “Verlede jaar het ek besluit om weer op my eerste liefde te fokus.” Hy haal die woorde van Henry David Thoreau aan: “Most men lead lives of quiet desperation and die with their song still inside them.”

Dit is tóé dat Jannie begin skryf het aan woorde en musiek vir sy nuwe album OESJAAR 2018 wat vanjaar vrygestel is. Die liedjies op die album is feitlik almal in 2018 geskryf, vandaar die naam.

Foto: Verskaf

OESJAAR is opgeneem saam met Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier en trekklavier) en Theuns Botha (slagwerk). ‘n Puik album wat selfs die kritiese wyndrinkers ‘n tweede glasie sal laat vra.  

Jannie werk reeds die afgelope 10 jaar baie nou saam met die National Council of/and for Persons with Disabilities (NCPD) asook Blind SA. Die program was ook in braille gedruk  met die bedoeling om beide die publiek én die teaterwêreld bewus te maak van die struikelblokke wat in die leefwêreld van mense met gestremdhede oorkom moet word.

Video-opnames van die drie volledige produksies wat nog nie vantevore op TV te sien was nie, is op die dag tydens die konserte voor gehore opgeneem.

“Ek is verwonderd oor die taal en die hele produksie. Jannie is goud. Hy is liefde. Sy liefde vir musiek, vir die lewe, sy liefde vir ander mense val my regitg op.” – Estelle Rautenbach.

Hennie en Pat Albrecht het spesiaal vanaf Marble Hall gereis vir die kunstefees. “Ek is mal oor Jannie se musiek! Ek is ‘n groot Brel aanhanger en sien ook uit na die Lucas Maree vertoning.”

Met drie vol vertonings het die musiekfees in die kleine die verwagtinge beslis oortref.

Navrae:
Jopie Koen: 072-460-5568 of [email protected] 

Webblad: www.janniedutoit.com

BESPREKINGS:
Optredes: http://jdt02.blogspot.com/

SOSIALEMEDIA:
Facebook

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: [email protected]
Webblad: www.starburstmusic.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui