fbpx
Leer ken vir dr. Gerda Engelbrecht

Leer ken vir dr. Gerda Engelbrecht

Dr. Gerda Engelbrecht, die ma van al die blokraai-opstellers in die land en staan aan die stuur van ‘n groot mylpaal toe Huisgenoot en YOU, vanaf 15 Julie vir mense die kans gaan gee om hul gunsteling blokraaie en speletjies aanlyn te speel in die gemak van hul eie huis! 

Vertel ons bietjie van jou agtergrond? 

Ek het in Bellville grootgeword, waar ek aan HS Bellville gematrikuleer het. By Maties geswot al die jare. My loopbaan in die onderwys begin en 20 jaar gelede by Die Burger in die nagkantoor ingeval. Het sedertdien by TVplus, Huisgenoot en die reistitels van Media24 gewerk. Werk tans in die kommersiële afdeling van Media24, waar ek redakteur is van AA Reisiger/AA Traveller, ‘n leefstyl-en-motortydskrif wat Media24 namens die Outomobiel Assosiasie druk en versprei. 

Wat is jou stokperdjies? 

Ek is versot op reis en stap graag. Het al dele van die Camino de Santiago in Spanje, die Via Francigena in Italië en die Inka in Peru gestap. Het nog duisende sulke staptogte op my emmerskoplys. Het op die hoogtepunt van die Covid-inperking besluit om nog ‘n groot droom waar te maak en ‘n Vespa gekoop. Ry nou op Saterdae saam met my predikant-broer na wynplase in die omgewing (as dit oop is) en beplan ‘n Vespa-toer deur Suid-Afrika. 

Vul jy self blokraaie in? 

Ek is self ook heeltemal verslaaf aan blokraaie en het al na New York gereis om die jaarlikse blokraaitoernooi van The New York Times by te woon as toeskouer.  Ek is versot op lees en het ‘n doktorsgraad in die letterkunde aan Maties verwerf en ‘n referaat oor my navorsing by Harvard in Amerika gaan lewer.

Is blokraaie nou gewilder as voorheen? Is dit tans ‘n modegier?

Blokraaie was nog nooit uit die mode nie. Ek stel reeds vir tien jaar blokraaie op en die afgelope tien jaar het blokraaitydskrifte konsekwent onder die topverkoper-tydskrifte in Media24 se Leefstyl-afdeling geval. Dit is egter so dat die huidige omstandighede, waar baie mense gespanne is en dikwels tuis moet bly, blokraaie ekstra gewild maak. Die winter was nog altyd “blokraaiseisoen”.

Is blokraaie net vir bejaardes? Wie vul almal blokraaie in?

Jy sal verras wees! Dit is glad nie net bejaardes wat dit invul nie. Ek gesels dikwels met jongmense wat my aanvat oor ’n blokraai wat “te moeilik” was. Oorsee het al die top-universiteite blokraaiklubs (soos debatsverenigings) wat meeding aan blokraaitoernooie. Dis ’n tydverdryf vir jonk en oud wat ’n stokperdjie soek wat jou ’n bietjie uitdaag, maar ook vermaak. Veral die koms van aanlyn blokraaie het die blokraaigemeenskap uitgebrei. Jy hoef nie meer toegang tot ’n gedrukte publikasie te hê om die blokraai in te vul nie.