fbpx
Wilhelm Lichtenberg – NDIKHOKHELE BAWO (LEI MY, O HEER)

Wilhelm Lichtenberg – NDIKHOKHELE BAWO (LEI MY, O HEER)

Suid-Afrika se ˝Singende Chirurg“ doen met sy nuutste enkelsnit NDIKHOKHELE BAWO (LEI MY, O HEER) amper ’n metaforiese beroep op Suid-Afrikaners om saam te staan en mekaar te ondersteun in hierdie uiters beproewende tydperk in almal se lewens.

˝Ons veg verbete teen ‘n virus-pandemie wat ons sukkelende ekonomie nog verder op sy knieë gedwing het en ons gesondheidsdienste heeltemal oorweldig het. Die uitdagings wat ons in die gesig staar is legio. Ons het leiding nodig en ons het mekaar nodig. Nou meer as ooit!”, so sê die Kaapse hartchirurg, Dr. Wilhelm Lichtenberg.

Ndikhokhele Bawo Wilhelm Lichtenberg

In diè hartroerende opname van die Xhosa weergawe van die lied, voeg hy sy goed geoliede tenoorstem by diè van die sopraan Nombulelo Yende en die wêreldbekende Tygerberg Kinderkoor en die resultaat word soos ’n gourment-maaltyd aan ‘n musiek-fynproewer opgedis.

In die meegaande video moedig Lichtenberg, wat in die Vrystaat grootgeword het en Sesotho vlot magtig is, Suid Afrikaners in die taal wat hy van kindsbeen af leer praat het aan om ons te wend tot vrede en gebed.

Lichtenberg reken dat samehorigheid en enigheid onder wetsgehoorsame en vredeliewende landsburgers die antwoord is en haal in hierdie verband die engelse spreekwoord „Those who pray together, stay together” aan.

Die dokter se vrou is onlangs uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis in sy sorg aan. Sy was ernstig siek en het met respiratoriese versaking weens Covid in die intensiewe sorgeenheid beland, waar sy ‚n week lank om haar lewe geveg het.

„Wanneer ‚n mens snags lê en wonder of jy die persoon wat jy lief het ooit weer gaan sien, verander dit jou lewensuitkyk onherroeplik. Dis net genade dat ek haar terug het en my dankbaarheid ken geen perke nie.“

Hy herstel tans self nadat hy die virus opgedoen het en is daarvan oorgtuig dat hy sonder die entstof wat hy in Maart ontvang het, nie die siekte sou oorleef het nie.

Lichtenberg se album Tale van my Hart, is in 2020 benoem vir‚ ‘n SAMA toekenning‚ ‘n byna ongehoorde prestasie vir ‘n debuutalbum. Die album se titelsnit, wat hy saam met bekroonde sanger en liedjieskrywer Stef Bos opgeneem het, was ‚n groot treffer en het sy reputasie stewig in die musiekwêreld gevestig.

Lichtenberg het verlede jaar ‘n lied geskep saam met die bekende Kaapse sopraan Britney Smith, waarin die land se gesondheidwerkers geloof en bedank word vir hul heldhaftige pogings om hul medemens midde die pandemie by te staan en te versorg. Die video van die lied het wêreldwyd opslae gemaak en het bykans ‚n driekwart miljoen kykers op sosiale media gelok. Dit was die pennevrug van Riaan Steyn, Kaapse komponis, verwerker en musiekprodusent, en die meesterbrein agter al Lichtenberg se opnames.

Die twee het ook einde verlede jaar ‚n opname van Koos du Plessis se immergroen Somerkersfees saam met die Suid Afrikaanse Jeugkoor, die Tygerberg Kinderkoor en die legendariese Amanda Strydom die lig laat sien. Hierdie projek is onderneem om fondse in te samel vir droogtehulp.

Die Singende Chirurg skram beslis nie weg vir uitdagings nie en hy het onlangs ‘n ambisieuse nuwe projek geloods om fondse in te samel vir korrektiewe chirurgie vir behoeftige kinders met hartsiektes in Suider-Afrika. Hy het met verskeie groot name in die musiek- en vermaaklikheidsbedryf kragte gesnoer, beide plaaslik en internasionaal, en die eerste opname met musikante in hierdie ster-belaaide reeks sal binne die komende weke uitgereik word.

SOSIALEMEDIA

Facebook

LEES MEER

Wilhelm Lichtenberg sing SOMERKERSFEES

Dokter toor met hartsnare