fbpx
Wilhelm Lichtenberg sing SOMERKERSFEES

Wilhelm Lichtenberg sing SOMERKERSFEES

Wilhelm Lichtenberg Somerkersfees

Wilhelm Lichtenberg sing SOMERKERSFEES, en die lied is pas vrygestel, hyself is stomgeslaan deur die unieke interpretasie van die lied, wat al deur verskeie kunstenaars opgeneem is.

Die legendariese Amanda Strydom het haar grasieuse en alom beminde fluweel stem by Wilhelm se glashelder en pragtig afgeronde tenoorstem gevoeg.

Die Tygerberg Kinderkoor en die Suid Afrikaanse Jeugkoor het Riaan Steyn se geniale verwerking in ‘n elegante en hartroerende juweel ontaard wat beloof om dié Kersfees se grootste treffer te wees

Met net soveel passie en toewyding soos elke hartoperasie, benader Dr Wilhelm Lichtenberg, ‘n hartchirurg en (in sy uiters beperkte vrye tyd buite die hospitaal) klassieke tenoor van Kaapstad sy nuutste projek, wat ‘n boodskap van vrede, genesing en hoop aan elke Suid Afrikaner moet uitdra.

Dié snydokter, beskeie dog net so skerp soos die operasiemes waarmee hy daagliks mense se lewens red, se breinkind staan bekend as Gebed Vir Vrede. Dit beslaan ‘n versameling gewyde liedere, waarvan ses oor ‘n tydperk van twee jaar as musiekvideo’s uitgereik sal word.

Die video’s staan onder direksie van bekende draaiboekskrywer en rolprent maker Frans Cronje (Faith Like Potatoes, Hansie). ‘n Verdere ses liedere gaan saam met die bogenoemde versameling op ‘n unieke album saamgevat word wat Paasfees volgende jaar die lig sal sien.

Die eerste lied in die reeks, Koos du Plessis se immergroen Kerslied SOMERKERSFEES, is pas vrygestel en selfs Wilhelm is stomgeslaan deur die unieke interpretasie van die lied, wat al deur verskeie kunstenaars opgeneem is.

Die legendariese Amanda Strydom het haar grasieuse en alom beminde fluweel stem by Wilhelm se glashelder en pragtig afgeronde tenoorstem gevoeg en saam met die Tygerberg Kinderkoor en die Suid Afrikaanse Jeugkoor het Riaan Steyn se geniale verwerking in ‘n elegante en hartroerende juweel ontaard wat beloof om dié Kersfees se grootste treffer te wees.

Dit is ook die eerste keer dat ‘n Sesotho vers by dié gewilde kerslied bygewerk is en dit word meesterlik deur Lichtenberg, wie self vlot Sotho magtig is, vertolk en moeiteloos in die Afrikaanse teks verweef. Die vers is die pennevrug van Derek Phofa, ‘n kollega van die chirurg wat as verpleër saam met hom na sy pasiënte in die Intensiewe Sorgeenheid omsien.

Deur die lied so verteenwoordigend as moontlik te interpreteer, glo Wilhelm dat die boodskap van vrede en liefde tot elke Suid Afrikaner sal spreek. “Ek wil die boodskap in almal se harte gaan bêre“, se hy met n glimlag.

“Dit is sekerlik die belangrikste boodskap wat ons land op hierdie stadium moet hoor,“ gaan hy voort. “Daar is lankal nie meer tyd of plek vir politiek as dit om mense se lewens gaan nie. Ons as eenvoudige landsburgers, van alle kleure en geure, moet weer in vrede saamstaan en hande vat om ons eie veiligheid en toekoms te verseker.“

Hy het self met ‘n sekuur hand die mense saam met wie hy graag wou werk uitgesoek en het hulle persoonlik genader om deel van die projek te word, wat met die motto “Saam na ‘n nuwe begin, saam na ‘n beter lewe“ sy uiters belangrike boodskap wil uitdra.

Gebed Vir Vrede sluit onder andere ook liedere soos Gebed vir Afrika, Wees Stil en Weet, Gebed, Ndikhokhele Bawo en I Vow To Thee My Country in en poog om fondse in te samel vir Vriende van Landbou, ‘n nie-winsgewende organisasie wat hom dit ten doel stel om boere gemeenskappe wat deur die voortslepende droogte en die onlangse vernietigende brande geknel is, by te staan.

“Ek het nog altyd gesê ek wil met elke lied wat ek sing ‚’n verskil maak en ek hoop ons kan dit op hierdie manier bereik,” sê Wilhelm.

Oor die redes waarom Wilhelm besluit het om Vriende van Landbou te ondersteun sê hy: “Elke dag word elkeen in ons land se lewens bedreig deur ‘n kultuur van geweld. Die verantwoordelikheid lê by ons as landsburgers om hande te vat en saam te staan om die probleem op te los en ons wil daardie boodskap oordra.”

“Ons land se voedselsekerheid is in gedrang. Die voortslepende droogte en onlangse brande het nog meer druk op dié krities belangrike ekonomiese sektor geplaas. Die grootste nagevolg van die afgelope jaar se staat van inperking, naamlik ernstige hongersnood weens armoede, gaan katastrofale gevolge hê en gaan nog lank in die toekoms gevoel word.“

Suid Afrika se, Singende Chirurg“ het verlede jaar op sy eie kenmerkend beskeie wyse op die musiektoneel as een van die land se voorste kunstenaars ontpop met sy sensasionele debuut album, TALE VAN MY HART.

Dié album is vir ‘n SAMA toekenning benoem, ‘n ongekende prestasie vir ‘n eerste album. Hierop snoer hy onder andere vir die titelsnit met die bekroonde Nederlandse sanger Stef Bos kragte saam. Dit is baie goed deur die publiek ontvang en Wilhelm se naam is nou op bykans elke musiekliefhebber se lippe.

SOSIALE MEDIA

Facebook