Vandiét sing dat TYD SAL LEER

Vandiét sing dat TYD SAL LEER

Die lewe hou verrassings in wat ons nie verwag nie. Soms maak dit seer, maar in tyd is daar ook genesing. Só sing Vandiét ook in haar splinternuwe enkelsnit, Tyd Sal Leer, daaroor.

Dié liedjie en musiekvideo is pas vrygestel en Vandiét het vertel dat haar inspirasie vir dié liedjie juis gespruit het uit die feit dat ’n mens nie altyd verstaan hoekom goed om jou gebeur nie.

“Ons sien nie altyd die groter prentjie nie en juis daarom verstaan ons nie altyd hoekom dinge gebeur nie. Goed of sleg, ons moet geloof en hoop hê dat alles goed sal uitwerk. Ons moet onthou dat God ’n plan het met elkeen van ons se lewens,” het sy gesê.

“Ek wil elkeen wat dié liedjie luister bemoedig dat hulle kan uitsien na ’n hoopvolle toekoms. In Prediker 3:11 staan daar Hy maak alles mooi in sy tyd,” het sy verder verduidelik.

“Ek het dit geskryf op grond van my eie ervaring en getuienis. As ek terugkyk is ek dankbaar vir hoe alles uitgewerk het. Ek verstaan nou.  As ek myself weer in ’n situasie sal bevind met seer en duisende vrae dan wéét ek: die tyd sal leer. God is vir my, nie teen my nie,” het sy bygevoeg.

 Tyd Sal Leer het ’n countrypop-aanslag en sal by oud én jonk aanklank vind.

Vandiét hoop dat mense die enkelsnit en video met die ritmiese deuntjie sal geniet en mooi na die woorde sal luister om haar boodskap te kry.

“Ons almal het nodig om te hoor dat maak nie saak wat – op ons pad is daar ’n lewensfees wat wag. God het vir ons ’n ewigheidsvisie gegee met ’n hoopvolle toekoms.”

Volgens Vandiét is hierdie ’n boodskap van hoop en geloof in God.

“En ons het God, hoop en geloof nou baie nodig.”

Die musiekvideo is verfilm in die pragtige Calitzdorp met Vandiét wat die musiekvideo as ’n ouer vrou afskop en terugdink oor haar lewe.

“Dit was nogals vreemd om myself so as ’n ouer vrou te sien,” het Vandiét laggend vertel.

As ouer vrou kyk sy terug oor haar lewe en wil die luisteraar oortuig dat tyd sal leer.

“Jy is nooit té oud of té jonk om iets te begin en jou drome uit te leef nie. Jy moet die verlede begrawe en voor jou uitkyk.”

Tyd Sal Leer is nou as enkelsnit én musiekvideo beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Leer op jou knieë in gebed, sing Vandiét Marx

Vergewe én vergeet, sing Vandiét in nuwe enkelsnit