fbpx
Len Muller en Stella akoesties

Len Muller en Stella akoesties

Daar is ʼn rede waarom Len Muller en Stella die sukses geniet wat hul toekom.  Die musiek wat hul maak is rou, eerlik en opreg. 

Stories van hoop, liefde, tragedie en verlange is maar ʼn druppel in die emmer van hul repertoire. 

Len Muller en Stella het op 25 September 2019 kragte saamgesnoer om aan hul aanhangers ʼn intieme vertoning te bied by Café Barcelona. 

Alle musiek is op ʼn gepaste, akoestiese wyse vertolk en die meeste van die musiek is oorspronklike werk.

Len Muller het gunstelinge gesing soos: SING VIR SENTE, MENSE MENSE, VIR DIE EEN WAT GEVAL HET asook sy vertolking van SARIE MARAIS.

Die begeleiding het bestaan uit kitaar, dromme en tjello (gespeel deur Raldo Mattheüs). Die eenvoud het voortgebring dat die lirieke van die liedere opreg waardeer kon word. Len se storievertelling het elke lied sterk ondersteun en het bygedra tot die genot van die gehoor.

Die lied wat uitgestaan het, was Len se vertelling en vertolking van sy eie lied SING VIR SENTE. “Die lied vertel die storie hoe ons almal al moes sing vir sente in ons lewe, sodat ons drome verwesenlik kan word. Nie net is my drome bewaarheid nie, maar ek het ook hierdie mooi jong dame ontmoet en ek het geweet met die eerste oogopslag dat sy my vrou gaan wees.”

Stella (wat grootliks bekendheid verwerf het in Suid-Afrika vir haar liedere NUWE MORE, DIE BERGE BLOU en nou haar nuutste enkelsnit SKREE) het die gehoor behoorlik meegevoer. Alhoewel sy binnekort weer ma gaan word, het dit haar nie verhoed om die gehoor te vermaak nie.

Soos ʼn mens sou verwag van ʼn akoestiese vertoning, was daar geen foefies by die musiek gesit nie. Rixi Roman het haar ondersteun op die baskitaar terwyl sy gespring het tussen kitaar en klavier.

Haar intieme storievertelling het die gehoor behoorlik ingetrek en liedere het nuwe lewe gekry danksy die wyse van aanbieding.

Op die plaas is waar ek bly, my man is daar, my kind is daar – dis daar waar ek besef het dat die Here ʼn pad oopkap waar jy nie ʼn pad sien nie. Ek kon nooit insien hoe ek my drome kon nastreef op ʼn plaas wat ver buite die musiekwêreld is nie. Maar op een of ander manier het die Here my gelei en daarom is ek elke keer dankbaar om terug te gaan na die plaas,” is Stella se verduideliking van haar lied HIERDIE STUKKIE AARDE. Die lied is ook beskikbaar op haar nuwe album EK KIES JOU.

As jy op soek is na ʼn vakansie weg van die hedendaagse popmusiek, kan jy vir seker ʼn vertoning deur Len Muller of Stella bywoon.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui