Coffee Snobs vra: “Sal jy?”

Coffee Snobs vra: “Sal jy?”

COFFEE SNOBS, die sangpaar Vernette en Marius Wessels, het reeds in Suid-Afrika bekendheid verwerf met hul sensitief-intelligente lirieke en die intimiteit van hul musikale aanslag.

SAL JY het alles daarvan, én meer. Dit konfronteer die luisteraar met die vraag of jy bereid is om ʼn ander persoon by te staan, ook wanneer dit nié goed gaan nie. Die lirieke is gestroop van sentiment, dit is sober en eerlik. En meedoënloos – soos alle goeie kuns behoort te wees.

Coffee Snobs – Sal Jy

Vernette vertel dat sy en Marius vanjaar 10 jaar getroud is en dat die lirieke ook oor hul eie verhouding gaan. Lirieke wat die universele vraag van ware liefde, in álle verhoudings vra: Sal jy my dra, al is dit swaar? Sal jy my vashou, sal jy my regop hou?

SAL JY is as ʼn enkelsnit vrygestel en word begelei deur ʼn musiekvideo waarin die aangrypende verhaal van Tania van Twisk vertel word. Tania was 8 jaar gelede in ’n ernstige motorongeluk waarin sy haar rug en nek gebreek het.

Teen alle verwagtinge het sy dit oorleef, maar moes van voor af leer om die basiese dinge te doen, soos sluk en regop sit. Sy is op pad na herstel, maar sou dit nooit kon regkry sonder die liefdevolle ondersteuning van haar naaste mense nie.

Dit was baie lekker om deel te wees van die video. Die woorde beteken so baie en laat ʼn mens weer besef hoe kosbaar familie en die mense om jou is. Jy weet nooit wanneer jou laaste totsienssoentjie of -drukkie gaan wees nie, so waardeer mekaar elke dag!” vertel Tania van Twisk oor die liedjie wat oor haar storie geskryf is.

In ʼn tyd waarin ons verswelg word deur ʼn stormsee van liefdeloosheid, wantroue en geweld, is daar skielik ʼn veilige hawe van stilte en rus. Ek het dit gevind in die COFFEE SNOBS se nuwe enkelsnit SAL JY. Hulle het die vraag, “Sal jy?”  met onbaatsugtige liefde beantwoord:  Ek sal.

Die aangrypende enkelsnit, SAL JY, is beskikbaar op die meeste digitale platforms: Spotify, iTunes, Amazon, YouTube, Apple Music en Deezer.

Leave a Reply