Bronz stel langverwagte nuwe enkelsnit vry!

Bronz stel langverwagte nuwe enkelsnit vry!

Dit is reeds meer as twee jaar sedert sy haar laaste enkelsnit vrygestel het, maar Bronz is terug en beter as ooit!

Die kunstenaar se nuwe liedjie, LOVING YOU COMES EASY, is vir haar babaseuntjie geskryf. Hy is toevallig ook die rede hoekom sy besluit het om nuwe musiek vry te stel.

“Omdat die lied vir my seun geskryf is, wou ek dit spesiaal maak en daarom het dit langer gevat om te voltooi as gewoonlik,” verduidelik die sangeres, wat meen dat almal hierby sal aanklank vind.

Volgens Bronz, is die doel van dié snit om luisteraars te laat goed voel en hulle te herinner aan die spesiale mense in hulle lewens, of dit nou ’n kind, ouer of familielid is.

“Ek hou van lirieke wat ’n storie vertel. Om ’n baba te hê verander jou lewe en dit het my geïnspireer om iets besonders te skep. Ek hoop dat my kind eendag hierna sal luister en trots sal voel.”

Die liedjie, met sy moderne Country-aanslag, is deur Bronz geskryf – met ’n bietjie hulp van haar vervaardiger, Mark Beling. Hulle werk al vir jare saam en die ster meen dat hy ’n groot aandeel gehad het in die sukses wat sy tot dusver bereik het.

“Ek kan eerlikwaar sê dat my musiek nie sou wees wat dit is sonder Mark nie. Hy is professioneel, talentvol en ons praat dieselfde taal.”

Omdat sy glo dat haar musiek ’n passieprojek is, wat nooit moet ophou nie, het Bronz besluit dat dit nou die regte tyd is om die lied met die wêreld te deel.

“Toe ek aanvanklik met die opname begin het, wou ek net iets opneem waarvan ek hou – ongeag van wat ander mense daarvan dink,” sê sy. “Maar LOVING YOU COMES EASY het pragtig uitgekom en is ’n lekkerluisterliedjie wat almal sal geniet.” 

Bronz, wat in Pietermaritzburg gebore is en in die Kaap grootgeword het, woon tans in Johannesburg. Haar talent is reeds vanaf ’n jong ouderdom ontdek en ontwikkel en sy wou dit nog altyd met mense deel.

Sy het haar eerste enkelsnit, I Gotta, in 2012 uitgereik en daarna nog vyf onafhanklike vrystellings gedoen.

“Dit is nogal ’n duur storie, maar ek het hard daaraan gewerk omdat dit my passie is. Ek word aangemoedig deur geleenthede wat oor my pad kom, soos om ’n nommer een posisie op die treffersparade van ’n plaaslike radiostasie te bereik en die ondersteuning van my aanhangers.”

Om hierdie fase van haar loopbaan te bereik, was beslis nie maklik nie. “Om afgeskiet te word, is verreweg die grootste uitdaging in die bedryf. Wanneer jy jonger is, is dit nogal sleg om te hoor dat iemand nie van iets hou waarin jy jou hart en siel gestort het nie.

Dit het baie jare geneem vir my om selfvertroue te bou en gemaklik te wees met die feit dat nie almal van musiek gaan hou nie,” verklap die kunstenaar.

“Ek het ook gesukkel om my styl te vind. Dit het my langer geneem as ander kunstenaars, van my ouderdom, om te verstaan watter styl en rigting ek moes vat. Maar soos wat ek ouer geword het, het ek besef wat regtig met my hart praat.”

Bronz find inspirasie in verskeie genres – van Country tot ouer treffers, asook pop en rock. Sy lys Freshly Ground, Jimmy Nevis, Jesse Clegg en Rubber Duc as plaaslike name saam met wie sy graag eendag sou wou werk.

Hierdie ongelooflike en invloedryke jong sangeres se doelwit is om soveel as moontlik mense met haar musiek te bereik. “Musiek is tog ’n universele taal,” sê sy.

Alhoewel daar baie talentvolle musikante daar buite is, gaan my musiek oor die lirieke en die persoonlike stories wat dit vertel. Dis ’n stuk van myself wat ek met die wêreld deel.” 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Twitter, Instagram

Leave a Reply