fbpx
Corne Louw se eerste album beïndruk met ‘n vars modern country-pop-aanslag!

Corne Louw se eerste album beïndruk met ‘n vars modern country-pop-aanslag!

Corne Louw is nie iemand wat musiek op die gewone manier aanpak nie. Sy eerste enkelsnit en ook die titelsnit van sy splinternuwe album, DATE NIGHT, het vir weke lank in die Nr.1 posisie op trefferparades landswyd gepryk.

DATE NIGHT is ’n vars en moderne Country-Popsnit wat lekker is om na te luister en laat mense van reg-oor die land se voete onwillekeurig jeuk om op die dansvloer uit te kom.

Die liedjie, wat deur Corne, Hugo Ludik en Vaughan Gardiner geskryf is, vind aanklank by enigiemand wat in ’n verhouding is en herinner paartjies daaraan om vir mekaar tyd te maak in vandag se gejaagde lewe. “Die enkelsnit beteken vir my baie, want dit het met my en my vrou gebeur vandat ons twee wonderwerkies gebore is.

’n Tweeling hou ons heeltemal weg van die dinge wat ons as ’n paartjie altyd saam gedoen het. Maar ons verruil hulle vir niks!”

Die musiekvideo, wat by Fathom Media/ KeyArt Services se ateljee en by perdestalle in Honeydew verfilm is deur Jay Loots en die span van Fathom Media/ KeyArt, dra die boodskap dat ’n mens altyd moet tyd maak om mekaar spesiaal te laat voel.

“Die storie handel oor my wat besef dat ons ’n date night nodig het en soos wat ek die liedjie skryf dink ek aan die perfekte afspraak saam met my geliefde,” verklap Corne.

DATE NIGHT is ook die titel van sy debuut-album en hy het juis die naam so gekies omdat dit ’n konsep is wat gereeld gebruik word. Die album spog met dertien lekkerluister kuierliedjies in sy kenmerkende moderne Country-Popstyl.

Volgens hom, is die album geïnspireer deur sy vrou en kinders en wou hy oor alledaagse gebeurtenisse skryf en ’n storie vertel: “Ek weet dat mense die ‘bokkie-sokkie’ tipe musiek geniet en daar is niks daarmee verkeerd nie. Dis net nie ek nie. Ek wou iets uitbring wat inspireer en wat betekenis het.”

Alhoewel die meeste liedjies opgewekte ritmes het, is daar baie emosie in elke snit teenwoordig omdat baie daarvan staaltjies uit sy eie lewe vertel. “Ek hoop dat elkeen wat na die album luister sal kan vereenselwig met die lirieke en dat dit weer vir hulle hoop en moed sal gee vir die toekoms,” sê hy.

Die tweede enkelsnit vanaf dié album, getiteld, MAAK OF BREEK, is ook pas aan radiostasies landswyd uitgereik en die opgewekte liedjie gaan verseker in sy voorlper se voetspore volg. 

Die liedjie is geskryf deur Hugo Ludik en Corne self en gaan oor daardie eerste keer wat jy iemand ontmoet wat jou voete onder jou uitslaan en jy te bang is om ‘n kans te waag om met daardie persoon te gaan gesels.  ‘n Musiekvideo vir hierdie liedjie is ook in die pyplyn.

Corne woon in Langebaan in die Weskus en het die kuns bemeester om gehore in die palm van sy hand te hou met sy veelsydigheid en hartlike verhoogpersoonlikheid. Hy kom uit ’n familie vol musikante en glo dat musiek deur sy are vloei. Hy en sy pa speel nou nog so af en toe saam kitaar.

Sy ouerhuis was altyd vol musiek, veral Amerikaanse Country-snitte, en dit is waar sy liefde en passie daarvoor gebore is. Alhoewel hy homself leer kitaar speel het, met die hulp van sy tannie, en hy deel was van die Supernovas, het hy eers saam met sy pa ’n besigheid begin voordat sy solo-musiekloopbaan, wat in 2004 afgeskop het, amptelik vlam gevat het.

Sedertdien het hy al by verskeie feeste, waaronder die KKNK en Robertson’s Wacky Wine Festival, plekke soos Route 66 en Ocean Basket en funksies opgetree en sien hy daarna uit om deur die land te toer en sy musiek aan nog nuwe luisteraars bekend te stel.

Omdat hy meen dat musiek die beste manier is om mense te laat weet hoe hy voel, skryf hy graag oor die lewe in die algemeen en hoop hy dat dit êrens iets vir iemand kan beteken. Wanneer hy musiek luister, is dit gewoonlik liedjies met ’n mooi melodie en betekenisvolle lirieke.

Natuurlik bly sy grootste liefde Amerikaanse Country en meen hy dat dit die grootste invloed op sy eie styl gehad het. Hy lys oorsese kunstenaars soos George Jones, Randy Travis, Travis Trit en Johnny Cash as van sy gunstelinge en verklap dat Karen Zoid en Riana Nel van sy plaaslike rolmodelle en kunstenaar is saam met wie hy nog graag eendag sou wou werk.  

Wanneer hy nie besig is om liedjies te skryf of op te tree nie, hou hy ook baie daarvan om kitare te versamel en deel hy ook dat hy graag ’n argitek of ingenieur sou wou wees as musiek nie vir hom uitgewerk het nie.

“Ek is mal oor kitare en het ’n hele versameling Gibsons en Fenders, alhoewel ek nie noodwendig die beste kitaarspeler is nie,” vertel hy met ’n vonkel in sy oog.

Corne Louw glo, net soos George Jones, in eerlike musiek en dat musikante getrou moet wees aan hulleself, omdat aanhangers dit dan meer waardeer.

Die vars en moderne benadering en inspirerende vertolking van DATE NIGHT en sy unieke stem, is die perfekte pasmaats vir ’n eindproduk wat nie net ’n vernuwing gaan veroorsaak in die Afrikaanse musiekmark nie, maar ook diep in musiekliefhebbers se harte gaan nesskop.

Die album kan nou bestel word by www.cornelouw.co.za en sal vanaf 30 Oktober 2019 op alle digitale platforms beskikbaar wees.

MAAK OF BREEK is reeds beskikbaar op die skakel hieronder indien jy nou die album vooraf hier bestel:

https://music.apple.com/za/album/date-night/1476897480

SNITTE OP DIE ALBUM

  1. Date-night
  2. Ou Vriende
  3. Die Beste deel van my is jy
  4. Dis ’n Vooreg
  5. Grondpad
  6. Bel jou ma
  7. Langarm Boogie
  8. Ons Leef Nety Een keer
  9. Ou Skool Cowboy
  10. Maak Of Breek
  11. Ek Weet Wat Ek Het In Jou
  12. House on Fire
  13. Growing up!

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram

Webblad: www.cornelouw.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui