fbpx
Lize-Marié se tweede enkelsnit, DAGBREEK

Lize-Marié se tweede enkelsnit, DAGBREEK

Lize-Marié Naudé is, behalwe vir haar naam wat sy met Lisa Marie Presley deel, ook ’n Elvis-aanhanger en haar naam pas haar soos ’n handskoen op die verhoog. Sy is geen vreemdeling vir die kalklig nie en het reeds begin sing op sewejarige ouderdom.

Die talentvolle dame het pas haar tweede enkelsnit vrygestel. DAGBREEK gaan daaroor om elke oggend weer op te staan met ’n nuwe lied, gedig of storie in jou hart wanneer ’n vorige seisoen, goed of sleg, verby is. Die geheim is om nie toe te laat dat jou verlede bepaal wie jy is en hoe jy in die toekoms optree nie.

DAGBREEK is geïnspireer deur twee totaal uiteenlopende liefdeservarings. “Na ’n moeilike tyd in my lewe moes ek besluit om eerder elke oggend op te staan en ’n nuwe dag vol geleenthede, asook lag, aan te gryp,” vertel die sangeres. Die positiewe lirieke sit mens dadelik in ’n opgewekte luim, reg om die lewe voluit aan te pak.

Die snit volg kort op die hakke van haar debuutvrystelling in Oktober 2019, LIGHUIS. “Ek wou graag ’n lied skryf oor hoop en die Vuurtoring/Ligtoring het my dadelik daaraan laat dink,” skerts sy oor haar eerste enkelsnit. Lize-Marié se hartsbegeerte is om luisteraars met haar musiek aan te raak. “As hulle hartseer is, dat hulle weer gelukkig sal voel of as hulle moedeloos is, hulle weer sal besef dat Hy in beheer is en dat hul vertroosting daar sal vind.”

Beide enkelsnitte is reeds op alle digitale platforms beskikbaar, en sal deel vorm van ’n Afrikaanse debuutalbum wat sy beoog om teen 2021 vry te stel. Behalwe hiervoor, werk Lize-Marié aan ’n nuwe liefdesduet saam met Dawie Bornman, EK EN JY …

As onafhanklike kunstenaar werk Lize-Marié bedags as onderwyser by ’n privaat skool in Benoni waar sy wiskunde, kuns en kultuur, musiek en drama aanbied. Na skoolure wend sy haar talente verder aan deur ekstra buitemuurse aktiwiteite aan te bied in kitaar, klavier, sang, musiekteorie, drama en ukelele. Sy leef ook haar passie uit deur leiding te neem met die skool se revue. 

Te midde van ’n propvol program, hou Lize-Marié aan om haar sangtalent te ontwikkel deur getrou sanglesse by te woon. Sy neem verder dansklasse, en werk elke dag daaraan om voltyds die teaterwêreld te betree. Tussendeur tree sy gereeld op by restaurante, maar het haar oog daarop om in professionele musiekteaterproduksies te speel.

Haar ervaring op die verhoog sluit nie net optredes in nie. Haar eerste liefde en fokuspunt is musiekblyspele (sy was te siene in Hairspray), asook musikale revues waarin sy al opgetree het onder leiding van Richard Cock en sy orkes. Lize-Marié het al selfs ’n draai op Binnelanders gemaak teenoor Reynardt Hugo (Dr. Tertius Jonker) van ADAM.

Sonder enige twyfel is Queen haar grootste inspirasie. “Ek hou van die idee om waarlik kuns te maak deur te skryf sonder enige inhibisie, die hele idee is om deur lirieke te sê wat andersins nie moontlik is nie, en dis pragtig!” Te midde van haar groot drome, wil sy meer as enigiets anders ’n positiewe beeld aan haar aanhangers oorda.

Ek wil ’n lewende bewys wees van as jy jou Godgegewe talente gebruik jy nie nodig sal hê om sukses te gaan haal nie, want sukses sal jou vind.” Die dame het nog altyd presies geweet wat sy wil doen. Die suksesse van haar loopbaan getuig daarvan. Sy bly fokus daarop om dag tot dag te werk en so nader aan haar einddoel te bly beweeg.

Ek dink my grootste dryfkrag is om nie net aan myself nie, maar ook ander opkomende kunstenaars te bewys dat niks onmoontlik is nie,” vertel Lize-Marié.

BESPREKINGS
Tel: 083 630 3442
E-pos: [email protected]

SOSIALE MEDIA

Facebook, Twitter, Instagram