fbpx
MAN – VUUR EN VLAMME

MAN – VUUR EN VLAMME

Henck Conrey en André Lotter, wat saam bekendstaan as die indrukwekkende duo MAN, is na sewe jaar terug in die kollig met ’n langverwagte nuwe enkelsnit, wat reeds besig is om soos ’n veldbrand onder musiekliefhebbers te versprei.

VUUR EN VLAMME, uit die pen van Hugo Ludik en Nick Jordaan, spog met ’n internasionale klank en is soos ’n vars energieke briesie in die plaaslike popmark.

Hierdie sensuele snit ondersoek die tema van die versoeking wat jy in die gesig staar wanneer jy aangetrokke voel tot iemand wat jy weet nie reg is vir jou nie. Die lied beloof om die luisteraar op ’n opwindende reis te neem deur die kompleksiteit van liefde en begeerte.

“Ons almal was al in ’n situasie waar ons aangetrokke was tot iemand wat ons eerder moet uitlos. Die liedjie gaan oor hoe verleidelik so ’n persoon kan wees en al weet jy dat jy gaan brand, wil jy steeds met die vlamme speel,” sê Conrey, ’n gewilde Pretoriaanse akteur, vervaardiger, regisseur, inhoudskepper, kunstenaar en entrepreneur.

“Ons wou ’n Afrikaanse liedjie uitbring met ’n internasionale gevoel, maar ’n mens is maar skrikkerig om so iets aan te pak aangesien jy nie weet hoe die luisteraars daarop gaan reageer nie. Terselfdertyd is dit ook so bevrydend om ’n nuwe rigting te kon in neem waarheen ons as ’n sanggroep voel ons heen gelei word.”

Omdat Conrey as vervaardiger en deelnemer betrokke is by die eerste seisoen van die kykNET-fiksheidsprogram, Fiks of Niks, is dit ook heel gepas dat die enkelsnit amptelik vrygestel word gedurende die tweede episode (wat op 15 Oktober op kanaal 144 uitgesaai word), waartydens verskillende aspekte van sy persoonlike lewe met kykers gedeel word.

VUUR EN VLAMME, wat vervaardig is deur Hugo Ludik en Brendan Campbell en Emil Paul, Kyle Whiteside, Nick Jordaan as agtergronstemme bevat, is die groep se tweede enkelsnit en volg in die suksesvolle voetspore van Plaasmeisie wat baie goed ontvang is.

André, wat bekend is vir sy rolle in plaaslike televisieprogramme soos 7de laanLegacy, Binnelanders, Parys Parys en Villa Rosa (waarvoor hy ’n toekenning as beste skurk by The Royalty Soapie Awards ontvang het) en hoofrolle in verskeie rolprente en teaterproduksies, waaronder Eintlik Nogal Baie en meer, voeg by: “Ek is ontsettend trots op die liedjie. My wens vir ons tweede enkelsnit was dat dit internasionaal moes klink en ʼn bietjie meer sensueel moes wees, en dit het toe presies so uitgedraai. Ek is baie opgewonde om dit met luisteraars te deel.”

MAN is in 2012 gevorm nadat hulle ontmoet het tydens ’n musiekblyspel waarin beide gespeel het. Hulle het dié verhoognaam gekies omdat hul ’n meer diverse identiteit wou skep rondom die ideologie van man-wees.

“Vir ons beteken om ’n man te wees dat jy respek het vir mekaar, ongeag van jou kultuur, geslag, ouderdom, ensovoorts. Dit beteken dat jy gemaklik kan voel om oop te maak oor jou emosies en dat jy nie mense in ’n boks moet plaas nie. As man kan jy sterk wees maar ook met tye kwesbaar voel en gemaklik wees om vir hulp vra,” verduidelik hulle.

Oor die jare, was daar vir hulle verskeie loopbaanhoogtepunte, waarvan die kykNET NOU!-program wat hulle aangebied het, DigiREIS, sekerlik die grootste was. Die program het die digitale reis van bekende plaaslike sangers gevolg, hulle top 3-musiekvideo’s afgetel en hulle het ook hulle eie weergawe van elke kunstenaar se bekendste liedjies opgevoer.

Henck, wat onlangs benoem is vir twee Silwerskermfeestoekennings, is buiten vir sy musiek ook betrokke by verskeie reekse wat in Oktober en November begin wys, waaronder:

·         Vat Jou Goed en Trek (vervaardiger en aanbieder) – vanaf 6 Oktober op kykNET

·         Fiks of Niks (vervaardiger en deelnemer) – vanaf 8 Oktober 2023 op kykNET

·         Reno Race (regisseur en vervaardiger) – vanaf 27 Oktober op SABC 1

·         Dr. NOU (regisseur en aanbieder) – vanaf 8 November 2023 op VIA

Sy skedule vir 2024 is net so besig, met nuwe seisoene van al sy programme wat reeds in die pyplyn is, en hy beplan ook om 10 jaar van Vat Jou Goed en Trek te vier met die vrystelling van ’n koffietafelboek.

Asof dit alles nie genoeg is nie, is Conrey ook ’n ernstige besigheidsman en entrepreneur, wat verskeie maatskappye saam met vennote besit. 

Regdeur sy loopbaan, was André gereeld te sien by verskeie groot feeste soos KKNK, Innibos, Grahamstown- en Vryfees, waar hy saam met legendes soos Tobie Cronje en André Odendaal (as regisseur) kon werk. Wanneer hy nie musiek maak nie, is hy dus voltyds besig om aan sy toneelspel te skaaf.

Buiten vir sy gewone televisiewerk, is hy binnekort te sien in die hoofrol van ’n nuwe fliek, Die Tert, waaroor hy baie opgewonde is. Hy is ook besig om aan sy eie rolprent te skryf, wat hy graag in 2024 ’n realiteit wil maak.

VUUR EN VLAMME is beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://lnk.to/VuurEnVlamme

“Dis ’n baie sensuele liedjie wat die luisteraar verder sal laat dink oor liefde en die aangetrokkenheid van twee mense. Ons dink dit kan op verskillende vlakke geniet word, van die sensuele lirieke tot die lekker ritme en klanke wat dit uniek maak,” sluit die duo af. 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

HENCK CONREY:

Facebook, Instagram, TikTok

ANDRÉ LOTTER:

Facebook, Instagram